Dit is so maklik om predikante oor hul prediking te kritiseer, maar die uitdaging om al sy of haar pastorale pligte na te kom, fondsinsamelings te behartig en dan nog week na week God se Woord verstaanbaar en kontekstueel relevant te verkondig, is ’n byna onmoontlike taak. Die digitale era waarin ons lewe, maak hierdie las nie makliker nie.
Rondom die draai van die 21ste eeu het digitale kommunikasie vir die eerste keer in nuwe tegnologiese vorms sy verskyning gemaak. Veral die selfoon het ’n groot impak op alledaagse kommunikasie gehad. Boodskappe tussen mense is deesdae kort, kragtig, beeldryk, eenvoudig en op die man af.
Daar is toenemende vyandigheid teenoor lang tekste en langdradige, herhalende monoloë soos ons dit in tradisionele prediking vind. Die eenrigtingmonoloog het geweldig veld verloor teenoor hierdie interaktiewe, beeldryke (emoticons), onmiddellike vraag-en-respons-kommunikasie.
Hierdie manier van kommunikeer is nie beperk tot die jonger generasie nie – dit raak alle vlakke van die samelewing. ’n Onlangse studie in Suid-Afrika het getoon dat drie uit vier mense ouer as 75 jaar ’n selfoon besit! Die digitale kultuur het ’n nuwe vorm van ongeletterdheid gebring waarin die gebruikers meer aanklank vind by beeld en klank as by letters en woorde. Die kerk, met die slagspreuk semper reformanda – altyd hervormend – bevind homself in die midde van hierdie digitale storm en moet nou uitdagings hanteer wat vroeër nie eens bestaan het nie.
Die goeie nuus is dat daar ’n oplossing is. Dit was verrassend om met navorsing te ontdek dat die kommunikasiemedia van die digitale era en dié van die antieke Bybelse tye nader aan mekaar is as wat ons vermoed het. In die antieke tye kon slegs 4% van alle mense lees en skryf. Lees en skryf in die antieke tye was die voorreg van ’n paar geleerde intellektuele. Laasgenoemde was gewoonlik die godsdienstige leiers en priesterklasse. Hul gehore was hoofsaaklik ongeleerdes. Derhalwe is allerlei tegnieke ingespan sodat die gehore maksimaal baat kon vind by die voorgeleesde teks. Alle vorms van sintuiglike waarneming is benut. Die gehore moes nie net hoor nie, maar ook sien, voel, ervaar en in sommige gevalle selfs ruik!
Reeds in die eerste verse van die eerste boek van die Hebreeuse Bybel, Genesis, vind ons die effektiewe herhaling van klanke asook die indeling van gebeure in sewe dae. Hierdie tegnieke is doelbewus ingespan sodat die hoorders die teks langer moes onthou. In die wêreld van die Nuwe Testament is hierdie gebruike oorgeneem. Die Griekse teks van Kolossense 1: 1-2 is eweneens meesterlik geskryf. Daar is herhaling en rym, en die Naam van Christus word doelbewus uitgelaat om aandag te trek. In ’n wêreld sonder boeke moes die voorlesing so lank moontlik vasgevang word in die geheue van die toehoorder. Daarom is God se Woord multisensories (hoor, luister, sien, ensovoorts) oorgedra om maksimale onthou te bewerkstellig.
Daar is vandag ’n sterk beweging in Bybelse navorsing wat meen dat sommige tekste opgevoer is. Hierdie mense, wat klem lê op die sogenaamde “performatiewe aard” van tekste, is oortuig daarvan dat daar binne die Bybelse teks duidelike aanduidings is van die wisselwerking tussen die voorleser en die gehoor. Heel moontlik was die teks van Jakobus 2: 1-13 so ’n geval. Dit begin met ’n voorlesing in 2: 1 (inleiding). Dan ’n opvoering in 2: 2-4, en dan ’n afsluiting (samevatting) deur die voorleser in 2: 5-13. Die effek wat die teks op die gehoor moes hê, is heel moontlik afgryse, vanweë menslike vooroordele. Die betrokke Sondag toe hierdie opvoering gehou is, het die mense nie net gehoor nie, maar ook gesien en beleef! Daar is dus meer as een sintuig (hoor) gebruik.
Die verhaal van Jesus en die Samaritaanse vrou by die put in die Evangelie van Johannes (hoofstuk 4) is heel moontlik ook opgevoer. Dit is ’n opvoering vol intrige en misverstand tussen ’n man en ’n vrou by ’n put. Jode en Samaritane praat nie met mekaar nie (4: 9). Jesus het nie eens ’n skepding nie en die put is diep (4: 11). Hoe op aarde kan Hy dan lewende water voorsien? Hierdie treffende verhaal eindig waar die stad kom kyk na die wonderlike man wat moontlik die Christus kan wees (4: 27-29). Ons kan ons voorstel hoedat die gehoor, deur middel van sien en hoor en afwagting, op die punte van hul stoele gesit het.
Van die vroegste tye af is sintuie dus as uiters belangrik beskou in die oordrag van tekste.
Die uitdaging vir die predikant is nie “wat” om op Sondae te preek nie, maar “hoe” om God se Woord effektief te verkondig. Die kerk het die kosbare skat van die evangelie en moet die honger wêreld daarmee voed. Nêrens verwag God van ons om net een sintuig (hoor) te gebruik nie. Van Genesis tot Openbaring word die Woord multisensories uitgebeeld om doodgewone mense in hul alledaagse omstandighede aan te spreek.
Predikante maak graag die die volgende stelling: Ek is lief vir die Reformatoriese tradisie en weet nie hoe om anders te wees nie, ek is nie kreatief genoeg nie. Dan vra hulle: Loop die kerk nie gevaar om van eredienste ’n vorm van vermaak te maak nie? Hoe gaan dit my prediking bevoordeel? Gaan almal daarby baat vind?
Die antwoord is dat Reformatoriese prediking ’n sterwende, retoriese verskynsel is. Ons gehore raak jaarliks al hoe kleiner. Dit is natuurlik vanweë baie redes, onder andere sekularisasie, emigrasie en veroudering. Een van die groot redes is dat ons gehore nie meer ingestel is op lang, herhalende, monosensoriese monoloë nie. Dit beteken dat ons weer krities na onsself en ons preekstyl moet kyk.
Om jou gemeente multisensories aan te spreek, is ’n fyn kuns. Dit verg enersyds deeglike eksegese uit die antieke grondteks, en andersyds die aflewering aan jou hedendaagse gehoor, wat bederf is met kort, kragtige en eenvoudige kommunikasie.
[Dr Johan Lotter (PhD, NWU) fasiliteer landwye werkwinkels oor multisensoriese prediking. Prof Pierre Jordaan (Grieks, NWU) help hom per geleentheid om die retoriek van antieke tekste te ontsyfer. Die volgende werkwinkel sal plaasvind op 29 Augustus by die NHKA se Gemeente Pretoria-Oos. Hou Blitspos dop vir meer inligting.]
(Dr Johan Lotter is tentmaker by die NG gemeente Vredefort
en prof Pierre Jordaan is deeltyds verbonde aan die NHKA se Gemeente Wonderfontein)