Prof Gerhardus Marthinus Maritz Pelser (gebore op 28 Julie 1936, oorlede op 12 Augustus 2022) lewe voort in die herinnering van vriende, studente, medegelowiges en familie.
Vir 25 jaar was hy dosent in teologie aan die Universiteit van Pretoria. Noem die naam Gert Pelser, en die invloedryke Duitse Nuwe Testamentikus Rudolf Bultmann verskyn op die horison. Soos Bultmann geen huldeblyke of toesprake by sy begrafnis op 4 Augustus 1976 in Marburg wou hê nie, so ook Gert Pelser. Net die verkondiging van die evangelie. God se genade is genoeg.
Die Universiteit van Marburg het wel later vir Bultmann ’n huldigingsgeleentheid gereël. Die ouditorium was volgepak. Die rektor van die Universiteit en die biskop van die grootste Duitse kerk (EKD) was sprekers. Buite het fundamentalistiese Christene hulle van die geleentheid gedistansieer. Van Bultmann se studente wat self professore in filosofie en teologie geword het, het by hierdie en ander geleenthede sy nalatenskap gehuldig.
In die geval van Gert Pelser kan hierdie klein huldeblyk in Die Hervormer nie voldoende erkenning gee aan sy groot nalatenskap nie. Dit kan egter wel iets weerspieël van die waardevolle kritiese bydrae van Gert Pelser vir kerk en teologie.
Daar is besondere ooreenkomste tussen die teologie van Rudolf Bultmann en dié van Gert Pelser. Soos Bultmann deur konserwatiewes dikwels misverstaan is, so ook Gert Pelser. Dit is veral Pelser en Bultmann se siening van die rol van die geloofsbelydenisse in die kerklike lewe wat tot misverstand aanleiding gegee het. Gert Pelser het die belydenisse van die kerk gesien as getuienisse van waar ons vandaan kom eerder as ’n toetssteen vir waarheen ons op pad is. By ’n Algemene Kerkvergadering het hy dit so gestel: Ek wens dat ons net hoef te preek sonder om ’n belydenis staande te moet probeer hou.
’n Geloofsgemeenskap kan sekerlik nie sonder ’n basiese belydenis bestaan nie, maar dit behoort moontlik te wees om net uit die evangelieverkondiging te leef. Dit is die kern. Indien die kerk sterk daaroor voel om sekere belydenisse te handhaaf, is genuanseerde denke oor hierdie historiese geskrifte nodig.
Gert Pelser is bekend as iemand met konserwatiewe politieke oortuigings. Die nastreef van die volkseie van Afrikaners (en kultuurwaardes van Europa as die plek van herkoms van diegene wat hy “Afrikaners” noem) was vir hom belangrik. Maar hy het net so sterk daaroor gevoel dat dit nie die kerk se taak is om hierdie “eie”, soos taal en kultuurerfenis, te bevorder nie. Die geloofsgemeenskap is die ruimte waar gelowiges van oomblik tot oomblik beslissings neem wat in pas is met die “hemelse” waardes, met die evangelie. Daarom was die begrip “volkskerk” vir hom op grond van teologiese oorwegings ’n teensteling in woorde.
Gert Pelser, soos Albert Geyser voor hom, was van die eerste teoloë in Suid-Afrika wat oortuig was dat niks die kerk verhinder nie om vroue as predikante te orden. Die apostel Paulus het selfs in die baie patriargale tyd waarin hy geleef het, sewe vroue genoem en bedank vir die werk wat hulle vir die saak van die evangelie gedoen het (Rom 16). Wat dieselfde-geslag-verhoudings betref, het Gert Pelser gemeen dat Paulus se uitsprake oor liefde en medemenslikheid deurslaggewend behoort te wees. Gelowiges behoort tog regtig nie ’n probleem te hê met medemense wie se gesindheid en lewenspraktyk ooreenstem met wat Jesus voorgeleef en uitgeleef het nie. Met beide ’n vraag- en uitroepteken vra Gert Pelser: Sou ’n mens jouself dan enigsins ’n Jesus-volgeling kon noem?!
Gegewe die groot vordering in die teologiese wetenskap en Bybelwetenskap behoort die kerk, in die voetspoor van Paulus, nie te huiwer nie om geloofsbelydenisse en liedere te verander of aan te pas. So het Gert Pelser gemeen. Aspekte wat vandag nie meer net so gehandhaaf kan word nie, is onder andere: die Triniteit, die maagdelike verwekking, die Godheid van Jesus, die opstanding van Jesus en die gelowiges, die hemelvaart en wederkoms van Christus, die kerklike ampte, die sakramente, die kinderdoop, erfsonde en uitverkiesing. Gert Pelser het gemeen dat ons eietyds moet bely, anders beteken ons belydenis in die wêreld van vandag nie veel nie. Gert Pelser het gewonder of gelowiges vandag bereid is om met die probleemvrae van Skrif en geloof te worstel. Moontlik is mense gewoon te bang om te erken dat daar sulke probleemvrae kan wees.
Met die keuse van die Hervormde Kerk om Gert Pelser in 1972 aan te stel as professor in Nuwe Testamentiese Wetenskap bó die Kaapstadse predikant dr André Dreyer wat onder die bekende Nederlandse teoloog WC van Unnik en aan die Princeton Theological Seminary in die VSA gestudeer het, was die bedoeling om die invloed van die kritiese teologie van prof Albert Geyser teen te werk. Albert Geyser was dosent aan die Universiteit van Pretoria vanaf die 1940’s tot die 1960’s. Gert Pelser het toe egter die teoloog geword wat die kritiese teologie van Rudolf Bultmann in Suid-Afrika bekendgestel het. Hy was die dosent wat juis die kritiese teologie laat herleef het. Sy nalatenskap rig ’n appèl aan die kerk om nie vrede te maak met populisme in kerk, universiteit en teologiese wetenskap nie. Dit is nie wat dit beteken om eietyds op grond van teologiese diepgang en volgehoue teologiese wetenskapbeoefening te glo en te bely nie.
Hierdie huldeblyk vir Gert Pelser sluit aan by die begrafnisbrief met die Latynse spreuke fortiter, fideliter, filiciter.
Fortiter: Hou moed, Ek het die wêreld klaar oorwin.
Fideliter: Bly getrou tot die dood toe.
Filiciter: Wees altyd bly in die Here
(Prof Andries van Aarde is ’n emeritusprofessor van die Kerk)