Waar is die kerke dan? Wat het geword van die stemme van die profete? Waarom help geloofsgemeenskappe nie om die gety te draai nie? Opmerkings soos hierdie in meningstukke in die hoofstroommedia is niks vreemd nie.
Is dit regverdige kritiek? Daaroor kan die kerk waarskynlik nie self oordeel nie. Maar bloot die persepsie dat die kerk afwesig is waar dit saakmaak, is genoeg rede vir selfondersoek. Ds Steve Oxton vra tereg in die voorbladartikel: Het die toekoms ’n kerk nodig?
Die NHKA strewe na viering, gemeenskap, diens en getuienis. Van hierdie vierluik is getuienis waarskynlik die mees komplekse, veral wat betref getuienis teenoor die owerheid. Het kerke, ook die NHKA, iets te sê oor openbare verval en swak regering? Hoewel die antwoord vir baie ’n gegewe is, blyk dit in praktyk problematies te wees. Om te ontkom aan die etiket van ’n moontlike politieke agenda, word die kerk se verantwoordelikheid om teenoor die owerheid te getuig, dikwels afgeskeep. Aangesien die kerk se stem nie duidelik genoeg gehoor word bo al die geraas nie, maak die samelewing graag aannames oor die kerk se siening van brandende kwessies – meestal foutief. En dit help natuurlik nie dat kerke gereeld grondig verskil oor kontensieuse sake en nie uit een mond praat nie.
Die kerk durf egter nie anderpad kyk nie wanneer lidmate (én nie-lidmate) gekonfronteer word met onregverdige regulasies en wetgewing, en met die gevolge van endemiese onbevoegdheid, wanorde en swak dienslewering in alle sfere van die regering en gemeenskap – vererger deur sosiale euwels en kriminaliteit soos staatskaping, geweld, korrupsie, teistering, boeliegedrag en diskriminasie.
In die afgelope jare het die NHKA die parlement geadviseer oor voorgestelde wetgewing, en onder andere beswaar aangeteken teen aspekte van wetgewing rakende grondonteiening sonder vergoeding, gelykheid, haatspraak, onderwys, huwelike en ander verbintenisse, en kerke se verhouding met die staat. Verder word amptelike uitsprake namens die Kerk van tyd tot tyd uitgereik, byvoorbeeld oor plaasmoorde en geslagsgebaseerde geweld.
Dit is natuurlik nie nodig om te wag vir die amptelike kerklike strukture om op te staan teen vergrype nie. Die kerk is immers nie ’n burgerlike instituut wat kollektief betrokke raak by al wat maatskaplike kwessie is nie. Elke lidmaat is ’n volledige verteenwoordiger van alles waarvoor die kerk staan. Die kerk se invloed behoort dus gemeet te word aan die invloed van lidmate op al die terreine waar hulle betrokke is. En daar is haas geen openbare terrein waar ons lidmate nie hul stempel deeglik afdruk nie.
James Kennedy in Stad op een berg: De publieke rol van protestantse kerken beskryf die ontwikkeling van ’n staatskerk na ’n straatkerk op ’n wyse wat herinner aan die geskiedenis van die NHKA. ’n Straatkerk, anders as ’n staatskerk, het ’n verantwoordelikheid om vreesloos en onafhanklik te getuig – ook teenoor die owerheid; ’n straatkerk praat oor reg en onreg – ook met die owerheid; ’n straatkerk bid – ook vir die owerheid (of vir ’n nuwe owerheid); ’n straatkerk dien – ook saam met die owerheid; maar ’n straatkerk is eerstens verantwoordbaar aan God.
Die kerk se getuienistaak teenoor die owerheid is gegrond in die roeping van die kerk om die evangelie van Jesus Christus aan die wêreld bekend te maak. Die kerk sowel as elke gelowige behoort eenvoudig te volhard om die genade, barmhartigheid, geregtigheid en vrede van Jesus Christus so wyd moontlik te verkondig en uit te lewe – en om volgens die eise van God se Woord en sonder vooroordeel met eerbied en respek met alle mense om te gaan. En om nie terug te deins om verantwoording van leiers te eis nie en hulle wat hierdie beginsels bedreig, tot orde te roep nie.
Die reg op godsdiensvryheid (gerugsteun deur verwante regte), wat die verkondiging van die kerk in al sy vorme insluit, word beskerm deur die Grondwet as opperwet van die land – ook teen ongrondwetlike pogings om die kerk te muilband. Geen groot denkspronge is nodig nie om af te lei dat dit ook getuienis teenoor die owerheid insluit.
Die kerk en die staat behoort komplementêr en konstruktief, met wedersydse respek, te funksioneer – elkeen soewerein op hul eie terrein – in die nastreef van gemeenskaplike doelwitte, naamlik die bevordering van geregtigheid en die algemene welstand van die gemeenskap. Die kerk moet nie net pleit vir ’n samelewing waarin alle mense met waardigheid, gelykheid en respek behandel word nie, maar ook aktief daaraan meewerk – natuurlik altyd op ’n wyse wat die kerk waardig is.
Protestante protesteer – dit is nie in ons aard om die status quo sommer net klakkeloos en gelate te aanvaar nie. ’n Kerk sonder ’n openbare gesig, stem en teenwoordigheid is gedoem tot irrelevansie. Christene is vroeg reeds opgeroep om sout en lig te wees in hierdie wêreld – om ’n spreekbuis te wees vir hulle wat nie ’n stem het nie en om op te staan teen alle vorme van ongeregtigheid, wanorde en onderdrukking.
En in die proses sal kerke steeds van mekaar verskil, en daar sal gepoog word om die kerk te laat buikspreek, en die kerk sal misverstaan word, en verguis word, en misbruik word vir eie agendas, en verdink word van onsuiwer motiewe, en beskuldig word van dwaling, en deur antagoniste as irrelevant afgemaak word. Maar steeds durf die kerk nie stilbly nie. Nie weer nie…
