Broers en susters in onse Here Jesus Christus: 
Almal van ons is op soek na die sin van die lewe. Almal van ons wil graag hê dat ons lewens sinvol sal wees. Ek het in elk geval nog nooit gehoor dat iemand ooit gesê het: ‘ek wens tog so graag dat my hele lewe een sinnelose bestaan is’. Ons wil gelukkig wees, ons wil vreugde ervaar, ons wil vrede hê, ons wil rustig lewe. In kort: ons wil hê dat ons lewens sinvol sal wees.

Daarom, broers en susters, soek ons almal na die sin van die lewe. En ons doen dit op verskeie maniere. Ons doen dit op ‘n ontelbare aantal maniere. Twee van hierdie maniere wil ek vanoggend na verwys, omdat dit twee maniere is wat in Psalm 127 na vore kom.

Die eerste manier van soek na sin van die lewe is dat ons almal elke dag aan ons eie lewenshuis bou. Ons slaag matriek, ons kwalifiseer ons self vir ‘n werkie of begin te werk, ons verdien, ons koop, ons werk hard vir bevordering, ons maak bymekaar. Ons poog om materieel vorentoe te gaan. Want ons glo: hierin sal ons sin in die lewe vind. Maar wat vind ons baie vinnig, en heel dikwels, in die lewe uit? Die sogenaamde sin wat al hierdie pogings, prestasies en bereikte mylpale ons sou bring, het toe nie die sin van die lewe daarmee saam gebring nie. Want, voel ons, daar is nog steeds iets, daardie iets, wat my lewe werklik sinvol sal maak, wat my bly ontwyk.

Die tweede wyse waarop ons sin in die lewe soek is om alles wat ons het te beskerm, te bewaar, op te pas, in stand te hou. Ons beskerm ons elkeen se lewenshuis, ons elkeen se stad. As ons verandering kan teenwerk, as ons kan sorg dat niks negatiefs oor ons kom nie, as ons seker kan maak alles loop elke dag met ons reg, glo ons sal ons lewens sin hê.

En wat gebeur? Selfs wanneer ons dit alles regkry, ontbreek daardie iets nog steeds. Nog steeds ontwyk daardie sin van alles my.

Hoekom? God antwoord hierdie vraag in Psalm 127. Tevergeefs, sê Hy, dat julle elkeen julle lewenshuis bou, of julle elkeen se stadjie beskerm as dit sonder my is. Soek maar die sin in dit alles, julle sal dit nie kry nie. Want alleen in My is daar sin. Alleen Ek maak die lewe sinvol.

Wat meer is, sê God, wie sin soek, kry dit by My, sommer so as hulle slaap! ‘n Hebreeuse uitdrukking wat beteken: Ek gee dit verniet. Dus: wie dit soek, sal sin by My kry, heeltemal verniet.

Tevergeefs, sê God, dat julle laat gaan slaap en vroeg opstaan om julle lewenshuise te bou en te beskerm. Julle sal nie sin daarin vind nie. Ek alleen is sin. Ek alleen maak die lewe sinvol.

Glo in My, gee jou lewe onvoorwaardelik aan My oor, en kyk gerus wat gebeur. Sin sal kom. Miskien stadig, miskien met moeite, maar dit sal kom.

Kom ons sê dit anders: God alleen is sin en maak sin. Om te weet, in elke omstandigheid, dat jy ‘n Vader in die hemel het, ‘n Vader met ‘n hart wat jou liefhet, en dat jy daarom nooit alleen is nie, alleen dit gee sin. En alleen dit maak alles sinvol!

Alleen om volledig op God te vertrou, alleen om te sê dat ek totaal van God afhanklik is, en dit te bedoel en te leef, bring sin.

En is die doop, broers en susters, nie ‘n pragtige teken hiervan nie? Want met die doop wil God ander andere ook vir ons sê: Ek is jou hemelse Vader, Ek sal altyd by jou wees, Ek sal altyd vir jou gee wat jy nodig het. En om dit sigbaar te maak, gee ek jou hierdie teken. Hierdie verbondsteken.

Hiermee wil ek sigbaar vir jou sê: Jy is myne. Jy behoort aan My. En soos ‘n aardse vader en moeder behoort te doen, maar net baie meer, sal Ek jou versorg my kind. Hiermee beloof Ek, wat God is, dat Ek altyd by jou sal wees. En dat jy, omdat jy aan My behoort, niks meer nodig het nie.

Nie verniet dat Calvyn kon sê dat iemand wat sy doop verstaan, sal verstaan waar sin in die lewe te vinde is nie! 
Amen

Share via
Copy link
Powered by Social Snap