1. INGEBRUIKNEMING VAN “LIEDBOEK VAN DIE KERK”
Die langverwagte nuwe Liedboek van die kerk word op Sondag, 28 Oktober 2001 (Hervormingsondag) amptelik in gebruik geneem. Hiermee word u gemeente versoek om met groot ywer en vreugde daaraan mee te doen. Let asseblief op die volgende:
1.1 Klee asseblief een erediens in u gemeente op daardie dag hiervoor in en tref betyds die nodige reëlings sodat al die lidmate in die vreugde kan deel. By daardie geleentheid wil ons die Naam van die Here met nuwe liedere loof en prys en Hom dank vir al sy gawes aan sy kerk – waaronder hierdie nuwe Liedboek.
1.2 As dit vir u beter pas om die ingebruikneming op ’n ander Sondag in daardie tyd te laat plaasvind, kan u natuurlik reël soos dit vir u gemeente die beste sal wees.
1.3 Ons sluit ’n aantal voorstelle vir liturgieë hierby in wat u by daardie geleentheid kan gebruik. U is welkom om een daarvan te kies en dit volledig te gebruik, of om wenke uit verskillende van hierdie liturgieë te neem en u eie op te stel, of om heeltemal u eie beplanning te doen. Die belangrikste is dat die gemeente op daardie dag onder andere hartlik uit die Liedboek saamsing en iets van die feesvreugde ervaar wat by so ’n dag pas.
2. DIE HOOFFEES IN PRETORIA
Die hooffees vind op 28 Oktober 2001 om 15:00 in die Stadsaal van Pretoria plaas. Dit beloof om ’n geleentheid te wees wat ’n mens lank sal onthou. Vir lidmate wat hierdie geleentheid graag wil bywoon, bring ons die volgende onder die aandag:
2.1 Die gaste wat spesiaal uitgenooi word, ontvang in hierdie dae hulle uitnodigings. Vir diegene wat die uitnodiging aanvaar, sal plekke gereserveer word – ook vir koorlede en ander persone wat aan die verrigtings gaan deelneem.
2.2 Om te verseker dat mense nie groot moeite doen om die geleentheid by te woon en dan teleurgesteld moet omdraai nie, word gratis toegangskaartjies beskikbaar gestel aan almal wat daarom aansoek doen. Skakel die boekwinkel van Lux Verbi in Menlyn, Pretoria om die nodige sitplekke te bespreek bel vir Sonja Knoetze by 012 368 1835. Die kaartjies kan daar afgehaal word (of sal in ’n noodgeval uitgepos word).
2.3 Om lidmate van al die gemeentes binne ry-afstand van Pretoria ’n kans te gee om die fees by te woon, gaan ons aanvanklik nie meer as twintig kaartjies per gemeente gee nie. As daar nog plekke na 10 Oktober 2001 oop is, sal gemeentes weer in kennis gestel word.
Baie dankie dat u voor 10 Oktober 2001 hierop reageer!
Met vriendelike groete
Posbus 5, Wellington 7654, hlinde@luxverbi-bm.co.za
KONSEPLITURGIE I
(Opgestel deur prof Theuns Dreyer)
1. Inleidende opmerkings
’n Konsepliturgie vir die geleentheid word gegee as basis vir die beplanning van die liturgiese orde. Dit staan die liturg vry om ’n eie liturgiese orde vir die geleentheid saam te stel. Vir die geleentheid kan enige van die twaalf liturgiese ordes soos uiteengesit in die Diensboek van die Kerk gebruik word. Die volgende wenke word ter oorweging aangebied:
- Die klem moet val op die gemeentesang en die liturgie moet vloeiend verloop. Dit word aanbeveel dat die liturgiese orde op skrif aan elke gemeentelid uitgedeel word sodat daar so min as moontlik aankondigings gedurende die erediens nodig is.
- By die keuse van die liedere moet gepoog word om enersyds die gemeente bewus te maak van die omdigting van die Psalms en die toevoeging van nuwe Gesange, daarom behoort ’n Psalm en ’n nuwe Gesang minstens deel van die liedkeuse te wees. Nuwe singbare melodieë ter vervanging van ou melodieë, veral ten opsigte van die Psalms, behoort ook ingesluit te word.
- Voor die aanvang van die erediens kan ‘n aantal liedere gesing word as voorbereiding tot die erediens.
- Die gemeente moet die liedere inoefen wat deel van die liturgie sal uitmaak sodat dit tydens die ingebruikneming reeds bekend sal wees.
- Maak gebruik van beurtsang en die ‘Amen’ wat deur die gemeente gesing word.
2. Konsepliturgie
Ter voorbereiding van die erediens
Liturg: In Psalm 24 staan daar: ‘Die aarde en alles wat daarop is die wêreld en die wat daar woon, alles behoort aan die Here, want Hy het die fondamente daarvan in die see gelê en dit stewig gevestig in die waters’. Dit is díe Skepper Heer wat ons in die erediens wil ontmoet. Kom ons besing sy lof . Ons sing die volgende lofliedere ter voorbereiding:
Gesang 184; 192; 196; 199; 464
Votum – Liturg:
‘Wie mag die berg van die Here opgaan en wie mag in sy heiligdom staan?’ (Ps 24:3)
Gemeente:
Ps 24:2
Seëngroet – Liturg:
Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus!
Gemeente:
Ps 24:3
Wet van God – Liturg (Voorleser):
Wat vra God van ons? God se wet eis liefde van ons. Hoor hoe som Jesus die wet vir ons op in Matteus 22:35-40.
Skuldbelydenis – Gemeente:
Gesang 243 en Gesang 238:1, 3, 4 en5
Genadeverkondiging – Liturg (Voorleser):
Lees Romeine 10:9 en 10.
Geloofsbelydenis – Gemeente
Gesang 259, of 260.
Skriflesing – Liturg:
Psalm 24:5-10
Gemeente: Ps 24:4, 5, 6 en 7.
Epiklese gebed – Liturg:
Kom ons vra God om deur sy Heilige Gees ons nou ontvanklik te maak vir sy woord.
Gemeente: Gesang 257:1, 2 en 3.
Prediking – Liturg
As prediking kan gehandel word oor Psalm 24, maar in die besonder die betekenis van die woorde van vers 8: ‘Wie is hierdie magtige Koning?’
Gebed – Liturg
Gemeente
Gesang 165:1 en 2
Seën – Liturg
‘Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees’.
Gemeente
Gesang 312
KONSEPLITURGIE II
(Opgestel deur dr Elsabé Kloppers)
Toetrede en voorbereiding
Gesang 181
Gesang 526
Gesang 227
Gesang 162 (Voorsanger/Gemeente)
Votum:
Gesang 272 (deur koor in kanon gesing)
Seëngroet
Lofsange
Gesang 154:1-3
Gesang 219:1-3
Psalm 96:1-7
Psalm 105:1-11
Wet
Lees Psalm 119 in berymde vorm
Skuldbelydenis
Gesang 347
Geloofsbelydenis
Gesang 259 of 261:1-3
Geloofsbevestiging
Gesang 179:1-3
Epiklese voor Skriflesing
Gesang 442:1-2
Skriflesing
Bevestiging van Skriflesing
Gesang 252:1-3 (Oudste reformatoriese lied – gepas vir Hervormingsondag)
Gebed
Gemeente antwoord spontaan: Hoor ons bid, o Heer (Gesang 278)
Lied aansluitend by die skriflesing/ prediking . . .
Prediking
Gebed
Slotsange
Gesang 420:1-3
Gesang 280: 1-3
Seëngroet
Gemeente antwoord spontaan: AMEN (Gesang 314)
KONSEPLITURGIE III
(Opgestel deur wyle dr Louwrens Strydom)
Tema: ’n God soos ons God, ’n God wat dóén, moet geprys word!
Toetrede | ||
Toetredingslied | Gesang 154 (Koor/sanggroep) | |
Oproep tot aanbidding | Psalm 33:1 en 2 (TT Cloete, voorgelees) | |
Seëngroet | ||
Lofprysing | Psalm 98 (Gemeente)Gesang 203 (Koor / sanggroep en gemeente in wisselsang) | |
Verootmoediging | Oproep tot skuldbelydenis aan die hand van Miga 6:6-9 Skuldbelydenis: Gesang 233 (Gemeente) Verkondiging van vergifnis: Miga 7:18-19 Die gebod as lewensreël van dankbaarheid: Gesang 249:1 en 2 (Gemeente) 3 en 4 (Koor/sanggroep) Strofe 5 (Vroue) Strofe 6 (Mans) Strofe 7 tot 9 (Almal) |
|
Woorddiens | ||
Epiklesegebed | Gemeenskaplik afgesluit met Gesang 254 (2X) | |
Skriflesing | Psalm 33, gevolg deur die Halleluja-respons (Gesang 189 of 218) | |
Prediking | Teks: die hele Psalm 33 | |
Preeklied | Psalm 33:1 (almal), 2 (vroue), 4 (mans), 7 (almal) | |
Antwoorddiens | ||
Geloofsbelydenis | Gesang 265, direk gevolg deur: | |
Dank- en voorbidgebed | Gemeenskaplik afgesluit met die Ons Vader (Gesang 266) | |
Offergawe | ||
Lofprysing | Gesang 219:1 (Koor/sanggroep), 2 (Gemeente), 3 (Gemeente en koor/sanggroep met diskant) | |
Wegsending | Gesang 311 (Koor/sanggroep en gemeente in wisselsang | |
Seën | Gevolg deur die gemeenskaplike Amen (Gesang 315 of 316) | |
Aantekeninge
- Liedere wat vir die gemeente onbekend is, moet voor die tyd aangeleer word, sodat dit hartlik gesing kan word.
- Die koor/sanggroep kan een- of meerstemmig sing.
- Liedere wat direk op ’n voorafgaande handeling volg, moet vooraf aangekondig word. Waar ’n gesproke gebed oorgaan in ’n lied, soos by die epiklese en die
- Ons Vader, moet die slotsin van die gesproke gebed so geformuleer word sodat die gesonge gebed direk daarop kan volg (byvoorbeeld: “Hoor ons as ons nou na
- U toe kom met die gebed wat die Here Jesus ons geleer het”).
KONSEPLITURGIE IV
(Opgestel deur prof Cas Vos)
Toetredingslied | Psalm 84:1, 5 | |
Votum |
Liturg: |
|
Seëngroet | ||
Loflied: | Psalm 33:1, 5, 7 | |
Wet: | Sing: Psalm 119:2 Lees: Deut 6:4-9 Sing: Psalm 119:4, 8 |
|
Vryspraak | Sing: Gesang 279 Lees: Matt 11:28 |
|
Geloofsbelydenis | ||
Epiklese | Gebed Sing: Psalm 119:26-27 |
|
Skriflesing: | Psalm 98 | |
Lied voor die preek: | Gesang 281:1-3 | |
Preek Teks: | Psalm 98 |
Enkele eksegetiese riglyne
Psalm 98 het verskeie ooreenkomste met Psalm 96 (vgl die slotsom van albei psalms) en Deutero-Jesaja (vgl Jes 55:12-13). Die verwantskap met Deutero-Jesaja dui daarop dat die oorwinning waaroor Psalm 98 vertel, waarskynlik verwys na die bevryding uit die Babiloniese ballingskap. Die inhoud van Psalm 98, wat as ’n himne beskou kan word, kan soos volg saamgevat word: God het Homself as Koning bewys deurdat Hy Israel voor die oë van die wêreld bevry het. Hiervoor het die ganse wêreld en die kosmos die plig om die Here te prys. Hy sal kom om die wêreld met regverdigheid te oordeel. Psalm 98 kan in drie strofes verdeel word, naamlik vers 1-3, 4-6 en 7-9.
Dit is opvallend hoe die opdrag en oproep om die Here te prys ’n stygende lyn het en al wyer kring. Aanvanklik praat die digter net van sing, dan van juig, vervolgens van die snaarinstrumente en die blaasinstrumente, en in die laaste instansie hoor ons hoe die hele skepping in ’n koor die Here se lof besing. Die Here se lof kring al verder uit: eers die Here se volk, dan al die lande en uiteindelik die hele skepping wat sy lof uitsing.
Die eerste strofe (vers 1-3) is ’n oproep om vir die Here ’n nuwe lied te sing. Die rede hiervoor is dat Hy “magtige dade gedoen” het. Hierdie magtige dade word nader beskryf as oorwinning (die woord kom drie keer in die strofe voor). Militêre beelde word gebruik om te sê dat die Here alles alleen, sonder enige hulp, gedoen het. Hy het redding vir sy volk bewerk, maar op só ’n manier dat die hele wêreld dit kan sien.
Die tweede strofe (vers 4-6) vorm ’n inclusio (omraming). Dit word ingelui en afgesluit met: “Juig tot eer van die Here”. Die opdrag is: To make a beautiful noise. Almal moet die Here met hulle hele hart prys. Dit word uitgedruk deur ’n opeenvolging van ses imperatiewe (vgl veral vers 4). In vers 4 word gesê wie die Here moet prys. Dit is almal op aarde. Die middele waarmee dit gedoen moet word en die musiekinstrumente wat gebruik moet word, word in vers 5-6 gelys. Al die dele van die strofe gee uitdrukking aan die jubeltone en die wêreldomvattendheid van die lofprysing wat die Here toekom.
Die derde strofe (vers 7-9) vorm ook ’n inclusio (omraming), net soos die vorige een. Die wêreld kom in die eerste en laaste versreëls voor. Die imperatiewe (bevele) van die tweede strofe word hier met jussiewe vervang. Die natuurelemente (die see, die vloed, die wêreld, die heuwels) word as persone voorgestel. Hulle neem deel aan die lofprysing van die Here. Die rede vir hierdie kosmiese lof word in vers 9 gegee. Die Here sal kom om die wêreld te oordeel. Hiermee word nie na die verre eskatologiese einde verwys nie, maar dit beteken dat die Here ’n regverdige bedeling en orde op aarde onder die nasies bring.
Enkele homiletiese riglyne
’n Nuwe lied raak mense. Dit maak hulle tonge los; dit laat hulle hulle ore spits; dit gryp hulle in die hart. Maar waarom gebeur dit? Dis die klanke! Die bekoorlike musiek- en woordklanke.
Hervormingsdag 2001 is ’n glansryke dag. Dit is ’n betekenisvolle dag. ’n Dag van groot dinge. Ons dink na en word opnuut getref deur die groot dryfkrag van Hervormingsdag: ons word uit genade alleen, verniet, sonder verdienste, gered. En nou het ons boonop die Liedboek van die kerk in ons hande. Ons is opgewonde soos ’n kind wat skielik ’n present gekry het.
Hoe kan ons God vir al sy goedheid prys? Deur in navolging van Psalm 98 ’n nuwe lied te sing. Die some van lof moet oor die drumpel van God se ontmoetingsplek sleep. Ons het alle rede om ’n nuwe lied te sing. Want die Here het “magtige dade gedoen” (vers 1). Hy het die klinkende oorwinning behaal. In militêre taal word sy oorwinning beskryf. Sonder enige ander hulp het die Here alleen die oorwinning behaal. Hy is die sterke God. Niemand is teen Hom opgewasse nie. Selfs nie die mag van die sonde en die dood nie. Hy het die mag van die sonde en die dood ’n finale nekslag gegee.
Hoe het die Here dit gedoen? Op ’n aanskoulike wyse. Niemand kan Hom dít nadoen nie! Die sterke God het swak geword. Hy het sy Seun na die wêreld toe gestuur om ’n mens te word. Jesus Christus het soos ’n visarendjie in ons benoude vlees geval (NP Van Wyk Louw). En die Kruiseling het sy lewe in die stryd afgelê om vir ons die oorwinning te behaal. Deur die krag van sy opstanding het Hy triomfantelik oorwin. Die Heilige Gees gee aan ons die geloof, die vertroue, om God se redding uit genade te aanvaar en daaruit te leef. Almal wat oë het kan sien, en almal wat ore het kan hoor dat Hy die oorwinning behaal het.
Hoe kan ons die Here se oorwinning vir ons op Hervormingsdag vier? Deur ’n “beautiful noise” te maak! Ons kan ons bevryding vier deur die Liedboek van die kerk in gebruik te neem en dit te gebruik waarvoor dit bedoel is – om daaruit ’n nuwe lied te sing. Die nuwe lied is nie maar net ’n keuse nie, dit is ’n blye plig. Ons het die opdrag om die Here vir sy magtige dade te prys. Vrolik, juigend, singend!
Ons mag die nuwe pryslied nie net vir onsself hou nie. Dis die hele wêreld s’n. Ons moet só sing dat die wêreld kan hoor en kan naderkom om saam te sing. Doen dit kunstig op die maat van musiekinstrumente. Kom ons buig vrolik, juigend en singend voor die Here. Hy is die koning, Hy alleen.
Dit is nog nie die einde van die nuwe lied nie. Soos ’n klippie wat in ’n dam val, kring dit uit. Verder en verder … Die Here se skepping staan gereed om voor Hom te juig en Hom te prys. Ons moet net ons ore oopmaak vir die skepping se pryslied. Dan hoor ons hoe die see se vrolike stem hoog bo die rotse breek. Ons hoor hoe die riviere teen die klippe hande klap. En ons sien hoe die heuwels opstaan om die Here te prys.
Ons moet ’n nuwe lied sing. Want die Here heers oor die aarde. Hy brei sy koninkryk oor die hele wêreld uit. Niks en niemand kan dit keer nie. En ons kan daaraan meedoen deur ’n nuwe lied te sing en oral van sy magtige dade te vertel.
Ons kan in sukses en mislukking, in gesondheid en siekte daarop reken dat Hy by ons is. Hy is Koning. Hy is die Here. Ons kan, ons moet saam met mense oor die hele wêreld, saam met die ganse skepping ’n nuwe lied sing. Die Here het magtige dade gedoen. Hy is ons Koning.
Gebed
Dankoffers Gesang 308 ná die opneem van die dankoffers.
Lied Psalm 98:1-3
Seënbede Sing Psalm 134:1, 2 gevolg deur Gesang 315 of 316
KONSEPLITURGIE V
(Opgestel deur dr Louis Dressel)
Voorgestelde liturgie vir ’n kinderdiens
Votum | Val almal biddend voor Hom neer, kom loof die Heer, bewys Hom eer, deemoedig voor die Skepper buigend. Ons is sy volk, ons God is Hy. Ons is sy kudde wat Hy lei. Kom sing tot Hom, die Here, juigend. (Liedboek Ps 95:3). |
|
Seëngroet | Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus (Rom 1:7) deur die werking van die Heilige Gees. | |
Sing | Ons is almal hier tesaam (Gesang 164:1 en 2). | |
Wet | Deut 6:4-9 en Rom 13:8-10. | |
Skuldbelydenis | Wees my genadig Here my God. Delg uit my sonde – dit is so groot. Wees my genadig in Jesus Naam. (Liturg of almal sê hardop Gesang 246). |
|
Vryspraak | God het ons nou vrygespreek omdat ons glo – Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus (Rom 5:1). | |
Sing | Ek wat vergifnis, Heer, ontvang het (Gesang 245:1). | |
Skriflesing | Psalm 8 en Matteus 21:7-10 en 15-16. | |
Preek Teks | Psalm 8:3 Tema Die Pikkies sing |
(Wys ’n CD of twee van individuele sangers soos Louis Britz, Leon Ferreira, Lisbé Visser). Dink julle hierdie sangers het sommer op ’n dag opgestaan, ’n mikrofoon gegryp en begin sing ? Ek dink nie so nie. Toe hulle klein was het hulle na liedjies oor die radio geluister of op die TV gesien. Hulle het in die kerk mense hoor sing en toe nagesing. Later op hulle eie. Toe het hulle sanglesse geneem en later self alleen gesing.
Ons het op twee plekke in die Bybel gelees van kinders wat sing, in Psalm 8 en in Matteus 21. Die kinders in Psalm 8 noem ek sommer ‘Pikkies’, want hulle is nog baie klein – sommige kan skaars loop hulle word ‘suigelinge’ genoem, met ander woorde hulle was nog onder 3 jaar oud. Kom ons luister wat het hulle sang vir ons te sê.
1. Die Pikkies loof God
Hierdie kinders sing oor die magtige werk wat God tot stand gebring het. Hulle is nie bang vir die donker nie. Want as hulle opkyk, sien hulle die hemelruim, die sterre en al die wonderlike dinge wat die Here gemaak het.
Baie mense kyk met teleskope na die sterre. Ek wonder hoeveel dan uitroep: ‘Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk is alles wat u in die hemelruim geplaas het!’ (Vers 2)
Party mense is verbaas oor die wonderlike brein van die mense en die tegnologie wat die mees fantastiese teleskope kan vervaardig. Maar sien hulle die Here as Skepper van alles raak en prys hulle Hom?
Hierdie pikkies wil ons help om die ‘magtige dade’ van die Here raak te sien en saam met hulle sy lof te besing. Ons sien soms net bedrog, geweld, moord en diefstal raak en het geen hoop op die toekoms nie.
Die eerste twee woorde van hierdie psalm is ‘Here, onse Here…’ Dit is die name van die Verbondsgod. Hy is ons Here. Hy het ons uitgekies as sy volk. Hy het ons gemaak en Hy het ons verlos deur Jesus Christus. Ons is dus dubbeld aan Hom verbind.
‘Here’ beteken eienaar, baas. Ons behoort dus aan Hom. Groot en klein moet nou al leer om sy lof te besing, want eendag sal hierdie kooroefening oorgaan in die ware ding. Dan sal ons in die hemel optree en dag en nag sy lof besing.
2. Die Pikkies sing wat hulle geleer het
Die Here Jesus het hierdie psalm aangehaal toe Hy in die tempel kom, nadat Hy Jerusalem op ’n donkie binnegery het. Die skare het Hom toegesing: ‘Prys die seun van Dawid! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom! Prys Hom in die hoogste hemel!’ (Matt 21:9).
Die grootmense het opgehou sing. Die kinders het die lied by hulle ouers gehoor en waarskynlik saamgesing. Hulle het in die tempel aanhou uitroep: ‘Prys die Seun van Dawid’. Die priesterhoofde en skrifgeleerdes was ontevrede hieroor en Jesus sê toe met die woorde van Psalm 8 ‘U het daarvoor gesorg dat kinders en suigelinge u lof sing’.
Hiermee het Jesus die psalm, wat eintlik vir God bedoel was, op Homself toegepas en daarmee vir almal gesê ‘Ek is God’. ‘Ek doen ook magtige dade’. ‘Ek is die Een wat alles nuut maak en verander’.
Ouers, watter voorbeeld stel julle? Sing julle kinders die lof van God die Skepper en Jesus die Herskepper? Doen hulle dit omdat hulle vir julle nasing? Ons as ouers het ’n verantwoordelikheid om ons kinders te leer om God se lof te besing. Ons is daartoe verplig omdat ons by die doop belowe het dat ons dit sal doen.
Gaan die Here eendag vir my as ouer sê: Dit is jou skuld dat jou kinders My nie liefhet, dien en eer nie, want jy het hulle verkeerd voorgesing, voorgeleef en voorgeleer!
3. Die Pikkies se lied laat mense stilbly
Teenstanders, vyande en wraakgieriges kan maklik sê: ‘Waar is jou God? Hoekom help Hy nie nou nie? Hoekom straf Hy jou? Hoekom gaan dit so sleg met jou?’ Hulle kan ons God verkleineer en bespotlik probeer maak. Hulle kan maak asof Hy nie bestaan nie.
Deur die kinderlied word hulle monde toegemaak. Hierdie kinderlied wat die magtige werk van die Here in die hemel en op die aarde verkondig, laat hulle tjoepstil bly. Die opregte geloof van die kleintjies en hulle vaste vertroue op God, hulle liefde vir Hom laat die teenstanders en wraakgieriges swyg. Let op! Die woord teenstander word ook vir SATAN gebruik. Hy is die kwaaiste teenstander.
Die Here Jesus het ’n klein kindjie gebruik as voorbeeld om vir die mense te leer hoe om die koninkryk van God in te gaan. Deur sy oorwinning oor al die magte en teenstanders het Hy dit vir ons moontlik gemaak om soos die kindertjies die vyande te laat stilbly. Daarom kan ons en ons kinders nou ’n oorwinningslied, soos Gesang 476, sing. (Lees Gesang 476 tydens die kollekte deur).
4. Die Pikkies laat ons saamsing
Die psalmskrywer hou van teenstellings. Hy laat die kleinste kinders God se grootheid en heerlikheid raaksien en besing. In die res van die psalm word die klein en nietige en verganklike mens beskryf as die onderkoning. Hy wys ons eers op God se heerlikheid en nou op die mens se ereposisie. Die mens heers, alles is aan hom onderwerp. – Hierdie woorde word in die Nuwe Testament op Jesus Christus toegepas veral in Heb 2:6 – Hy is koning, en heerser en alles is aan Hom onderwerp.
Saam met die Pikkies kan ons God se lof besing, want Jesus Christus het ons uit die stof laat opstaan. Hy het ons eer herstel. Hy maak ons weer konings en heersers. Ons was slawe van die sonde en die vyande en teenstanders van God. Ja Hy help ons om die groot teenstander, Satan, te oorwin. Jesus herstel ons en laat ons ’n nuwe lied sing. Die teenstanders word stil.
Kan jy saamsing? Doen dit dan met die refrein waarmee die lied begin is en ook eindig in vers 10: ‘Here, onse Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!’
Kom ons sing die lied oral, sodat almal dit kan hoor: Sommige sal saamsing ander sal stilbly. Die lied sal ’n treffer bly tot lank na die wederkoms van Jesus Christus. Amen.
Gebed
Geloofsbelydenis
- Lees Gesang 262 of 261 (’n Kind of jongmens kan Gesang 262 voorlees of voordra).
Kollekte
Sing
- Jesus, ons loof U (Gesang 542)
Of : Alle volke klap julle hande (Gesang 547: 1 en 2).
Seën