In hierdie uitgawe van die Tydskrif vir Hervormde Teologie (THT) val die soeklig op die teologie van Karl Barth. Hy het in die Nederduitsch Hervormde Kerk ’n taamlike sterk invloed uitgeoefen. Die artikels wat hier verskyn, is verwerkings van die voordragte wat tydens die THT se simposium van 14 Augustus 2019 gelewer is.

Verskillende aspekte van die teologie van Barth kry in die uiteenlopende bydraes aandag. In sommige van die bydraes word groot waardering vir die invloede van Barth uitgespreek, terwyl daar in ander weer heel krities daarmee gehandel word. Dit is ook goed so. ’n Belangrike teoloog soos Karl Barth is uiteraard nie bo kritiek verhewe nie en eie aan die kritiese teologie wat in die NHKA beoefen word, is dit ook gepas dat daar krities ad fontes met Barth se teologie omgegaan word.

Ek verteenwoordig ’n stem in die Kerk wat ’n dringende pleidooi tot die teoloë en predikante en ook die kerkrade van die NHKA wil rig dat die oorspronklike tekste van Reformatoriese teoloë, wat groot invloed op die denke van die NHKA uitgeoefen het, gelees moet word. Die jammerte is dat, omdat die meeste van hierdie bronwerke in Latyn, Duits en Nederlands geskryf is, dit gewoon geïgnoreer word. Behalwe vir die feit dat die tekste nie meer gelees word nie, is die volgende gevaar dat sekondêre literatuur oor die betrokke teoloë met groot entoesiasme verslind en boonop kritiekloos en konteksloos aangehaal word. Gevolglik is daar baie gelees oor wat ander oor invloedryke Reformatoriese teoloë gesê het, maar bloedweinig van wat hulle self geskryf het. Dit het die jammerlike uitwerking gehad dat strooipoppe van sekere figure gemaak is en dat daar lafhartig en onbillik met hulle en oor hul werk gehandel is. Daar was nie die moed van die oortuiging om met die bronteks van die betrokke teoloog self in gesprek te tree nie.

Die gedagte was daarom dat al die deelnemers aan die THT se simposium Barth self aan die woord sou laat kom deur verskillende aspekte van sy teologie te belig. Barth self moes gelees word om ’n greep op sy denke en invloed in die teologie te verkry. Vir my was dit ’n verfrissende en uiters leersame ervaring. Die jonger teoloë van ons Kerk spreek dikwels die teleurstelling uit dat die kurrikulum waaraan hulle tydens hul universiteitstudies blootgestel is, nie genoegsaam voorsiening gemaak het vir die lees van die brontekste nie. Dit geld ook ten opsigte van die dogmatiek of sistematiese teologie. In een of twee sinne of paragrawe word melding gemaak van die invloed van ’n persoon soos Augustinus, Luther of Calvyn ten opsigte van ’n bepaalde aspek van die kerk se leer en verstaan, maar daar word nooit breedvoerig daaraan aandag gegee nie. Die THT se simposiums en die daaruitvloeiende publikasie van die bydraes probeer hierdie leemte ondervang.

Ek is vir die eerste maal sedert my onderneming om teologie te studeer en ’n predikant in die NHKA te word, doelmatig, gefokus en intensief met Karl Barth besig. Ten spyte van die feit dat die Kirchliche Dogmatik trots op my boekrak pryk, sou so ’n onderneming – om vir ’n slag met Karl Barth en sy teologie in gesprek te tree – te midde van die alledaagse pastorale en bestuurseise van ’n groot plattelandse gemeente ’n ydele droom gebly het. Maar die simposium het my daartoe genoodsaak. Nou móés ek dit doen, en vir die eerste maal in my lewe, sedert ek in 2005 teologie begin studeer het, voel ek my waardig om hoegenaamd iets oor Karl Barth te kan sê. Tot op hede was my kennis en blootstelling bloot te gebrekkig, maar na dese kan ek 100% meer van Karl Barth se nugtere, hervormde, dialektiese teologie in my prediking en pastoraat laat neerslag vind as ooit tevore.

Dit is te verstane dat vanweë die geweldige druk programme van gemeentes en die hoë eise wat aan voltydse en soveel te meer aan deeltydse leraars gestel word, die bywoning van die simposiums nie altyd haalbaar is nie. Juis daarom word elke jaar se bydraes na afloop van die simposium in die THT gepubliseer. Sodoende word die teologiese besinning en nadenke van die dag toeganklik gemaak vir ’n veel breër gehoor en kan predikante in gemeentes dit ook met groot vrug gebruik. Na my mening sou die materiaal ook kon dien as toerusting vir kerkrade en ringsvergaderings, en beslis ook as inhoud vir verdere teologiese toerusting.

Die NHKA betree ’n nuwe tydvak ten opsigte van teologiese opleiding en teologiese toerusting. Die tradisionele universiteite se kurrikulums verteenwoordig nie meer uitsluitlik die Europese en spesifiek Reformatoriese teologiese stroming waarmee die vroeëre geslagte van predikante in die NHKA bekend was nie. Dit word derhalwe die verantwoordelikheid van die NHKA self om ons eie unieke teologiese tradisie lewendig te hou en uit te bou. Dit is in hierdie behoefte dat die THT graag wil voorsien, en dit is my en die res van die redaksie se hoop dat hierdie bydraes met groot vrug in die gemeentes van die NHKA gebruik sal word.

 

Share via
Copy link
Powered by Social Snap