Die 72ste Algemene Kerkvergadering (2019) het besluit dat die Hervormde Teologiese Kollege (HTK) versterk en uitgebou moet word. As deel van hierdie proses, is daar ook besluit dat ’n Sentrum vir Reformatoriese Teologie (SRT) aan die HTK gevestig moet word. Die SRT is gevestig om ons verstaan en gebruik van reformatoriese teologie te versterk. Tydens die eerste vergadering van die SRT is prof Wim Dreyer as voorsitter en oudl Simon Kotze as sekretaris van die dagbestuur van die SRT aangewys.

Die Kommissie van die AKV het op 6 Maart 2020 formeel toestemming verleen dat die besluit van die AKV geïmplementeer word. Die Kommissie het ook bevestig dat die Kerk se Museum, Argief en Biblioteek deel moet wees van die SRT. Hierdie struktuur verleen ’n tuiste aan die Kerk se Museum, Argief en Biblioteek binne die akademiese ruimte van die HTK. Die belangrikste rede waarom die Museum, Argief en Biblioteek weggeneem is van die kerklike administrasie, is omdat dit tipies nie entiteite is wat onder ’n administratiewe struktuur tuishoort nie, maar eerder deel van ’n akademiese opset moet wees met die doel om navorsing te stimuleer. Daar is wêreldwyd voorbeelde waar ’n museum, argief en biblioteek deel is van ’n akademiese opset, byvoorbeeld die Johannes à Lasco Instituut in Duitsland en die Calvyn Argief en Museum in Switserland.

SP Engelbrecht-museum

Die 72ste AKV het besluit dat die Museum oor drie jaar onafhanklik van die kerklike subsidie moet kan funksioneer. Dit beteken dat daar ’n baie sterker bewusmaking van die aktiwiteite van die Museum moet wees. Ds Jan Kramer is die voorsitter van die Museumkomitee. Dit is belangrik dat lidmate wat donasies wil maak vir die instandhouding van die Museum, met ds Kramer of ds Johann de Bruin, die kurator van die Museum, in gesprek sal tree. Finansiële volhoubaarheid is noodsaaklik, en die Museumkomitee het as prioriteit fondswerwing ter wille van bewaring.

Die hoeveelheid besoekers aan die Museum het sterk toegeneem. Dit was belangrik vir die Museumkomitee dat die historiese komponent van die Museum uitgebou word en die gevoel van “behoort” versterk moet word (meer as net museum en items). Die verbintenis met die Argief en die Biblioteek is ook vir die Museumkomitee baie belangrik.

Biblioteek

Die NHKA se boekeversameling beslaan sowat 17 000 titels (wat volgens beleid versamel word). Dit bestaan uit vier verskillende versamelings:

  • Van Selms-versameling wat die eiendom van die HTK is;
  • SP Engelbrecht-versameling;
  • AIM-versameling (gedeeltelik by Gemeente Midstream gevestig); en
  • sinodale publikasies.

Groot dank is aan Gemeente Midstream verskuldig vir die vestiging van ’n gedeelte van die Biblioteek. Daar is egter onvoldoende ruimte om die hele versameling te huisves. Dit is goed om bewaring sigbaar te maak in die Kerk.

Intussen het die Hervormde Kerk die beherende aandeel in ’n geakkrediteerde teologiese diploma verkry. As deel van die akkreditasieproses moes bewys gelewer word dat studente toegang tot ’n biblioteek sal hê. Ter wille van die voortgang van die Diploma in Teologie vir die HTK, is ’n funksionerende teologiese biblioteek belangrik.

Argief

Die werksaamhede van die Argief word deur die Komitee vir die Argief en die Biblioteek hanteer. Daar is die afgelope twee jaar groter klem op die elektroniese argivering en ontsluiting van inligting gelê. Die samewerking van gemeentes word versoek om hierdie inisiatief te help versterk. Die stigting van die SRT beklemtoon die akademiese belang van die Argief. Mnr Nándor Sarkady is ’n uiters bekwame argivaris wat die Kerkargief op ’n professionele wyse bestuur en seker maak dat dit toeganklik is vir navorsers.

Daarbenewens lewer die Argief ’n besonder belangrike diens aan die kerklike administrasie. Die beste voorbeeld is die sowat 30 000 bladsye dokumentasie wat ontsluit is en beskikbaar gestel is vir gebruik tydens die hofsaak waarin die steedsHervormers die Hervormde Kerk gedagvaar het.

Tydskrif vir Hervormde Teologie (THT)

Met die verkoop van die HTS Teologiese Studies aan AOSIS, het die Tydskrif vir Hervormde Teologie (THT) belangrik geword as platform waar teologiese navorsing gepubliseer kan word. Elke uitgawe van die THT handel oor ’n bepaalde tema. Hierdie jaar (2020) se artikels handel oor Skrifbeskouing. Die THT kan op grond van die kwaliteit artikels wat daarin gepubliseer word, selfs in ’n geakkrediteerde vaktydskrif ontwikkel.

Die artikels van die THT moet aanlyn beskikbaar wees vir toekomstige verwysing en naslaanwerk. Ds Leon Geel (jr) is versoek om ’n webblad vir die SRT en sy onderlinge entiteite (Museum, Argief, Biblioteek en die THT) te ontwikkel, met skakels na die Kerk se webblad waarop alle navorsingsresultate en publikasies van die SRT bewaar kan word.

Konferensies

Dit is noodsaaklik om internasionale samewerking te bewerkstellig. Vir dié doel word konferensies beplan, soos die Suid-Afrikaanse Calvynkongres wat altyd buitelandse teoloë trek. Ongelukkig het die Covid-19-pandemie hierdie jaar se kongres in die wiele gery. Predikante kan ook deur bywoning van die konferensies VBO-punte verdien.

Met die vestiging van die SRT is uitvoering gegee aan die besluit van die AKV dat die HTK versterk en uitgebou moet word. Met die verskuiwing van die Sentrum vir Gemeentelike Bediening (SGB) na die HTK onder leiding van dr Frikkie Labuschagne, is daar twee belangrike byvoegings tot die HTK gemaak, ten dienste van die gemeentes en predikante van die Hervormde Kerk.

Die Hervormde Teologiese Kollege kan nou op drie vakgebiede fokus, te wete Praktiese Teologie onder leiding van dr André Ungerer, Ekklesiologie onder leiding van dr Frikkie Labuschagne, en Historiese en Sistematiese Teologie onder leiding van prof Wim Dreyer. Dit sal in navorsing en publikasies sigbaar word.

Daarbenewens is die drie afdelings van die HTK direk betrokke by die praktyk van kerkwees. Praktykvorming, begeleiding en fasilitering van gemeentes en die bewaring van ons kerklike verlede en erfenis is alles deel van die HTK.

As daar predikante en lidmate is wat meer wil weet van die SRT en hoe hulle daarby betrokke kan raak, kan hulle gerus met prof Wim Dreyer skakel by wimdreyer@outlook.com.

(Prof Wim Dreyer is medeprofessor aan UP se Departement Historiese en Sistematiese Teologie)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap