Ek woon nou die dag ’n somerskool oor teologiese opleiding by. Die deelnemers is teologiestudente uit verskillende denominasies en verdeel na elke aanbieding in groepe om te reflekteer. Die eerste vraag is of jy voel dat jou opleiding jou voorberei om jou geloof met integriteit in die wêreld uit te leef. Die studente in my groep antwoord met groot sekerheid ja. Hul opleiding berei hulle definitief voor om geloofsleiers in die regte wêreld te wees.
Wag ’n bietjie. Waar is jul seminarium nou weer?
In Waterkloof.
Vertel ’n bietjie hoe jul teologiese opleiding julle voorberei het om met die vlugtelinge daar in jul omgewing om te gaan?
Die wat?
Die vlugtelinge.
O ja! Ek het gelees daarvan! Hulle was so ’n kilometer in die straat af van ons. Daar by daardie gebou. Wat was die gebou?
Die Verenigde Nasies se Hoë Kommissie vir Vlugtelinge.
O, is dit wat dit was?
So hoe het jul teologiese opleiding julle voorberei om met die vlugtelinge om te gaan? Het julle by die seminarium gepraat daaroor?
Nee, dis nie ons werk nie. Dit was in elk geval vinnig verby. Toe ons agterkom hulle is daar, was die polisie reeds besig om hulle te verwyder.
Die polisie het hulle teen die helfte van November kom verwyder. Julle het nie agtergekom dat hulle toe al vir ses weke daar was nie?
Op hierdie punt raak die gesprek onverkwiklik. Die studente begin met geykte taal en uitgediende argumente verduidelik hoekom die vlugtelinge die regering se probleem is.
Op pad huis toe wonder ek: Sal ons agterkom as daar 650 mense binne een kilometer in die straat van waar ons woon op die sypaadjies kamp? Ek hoop so. Ek hoop ons sou in geloof gereageer het.
Toe die vlugtelinge net begin kamp het, kom praat ’n vrou een Sondagaand na ’n erediens met my. Ek kan nie onthou hoe ons by die vlugtelinge uitgekom het nie, maar sy sê met groot oortuiging: Niemand van hulle se lewens word werklik bedreig nie. Hulle is net ’n klomp skelms wat jok.
Hoe weet jy? vra ek.
Want hulle loop voor mense se karre in en maak of hulle raakgery is om geld te eis.
Almal van hulle?
Nee, nie almal nie, maar dit het al gebeur. Ek kan nie eens meer in daardie straat ry nie. Ek gaan nie geld vir ’n vlugteling gee nie.
Het dit met iemand wat jy ken gebeur?
Nee, ek het net gehoor dit het nou al ’n hele paar keer gebeur. Ek weet nie met wie nie. Ek verstaan nie hoekom die regering hulle nie net wegvat nie.
Op pad huis toe wonder ek: Vertel ons ook die bangmaakstories oor en oor en oor tot ons mense wat letterlik nêrens het om heen te gaan nie as ’n groep tot kriminele verklaar? Ek hoop nie so nie. Ek hoop ons sou in geloof gereageer het.
’n Koerantberig beskryf die dinge wat die vlugtelinge doen – dinge wat enige mense wat asem haal moet doen – as ’n lastigheid vir die inwoners van Waterkloof en Brooklyn. Aan die begin van November doen die huiseienaarsassosiasie by die hooggeregshof aansoek om die vlugtelinge te verwyder. Die aansoek word toegestaan. Die polisie gaan die vlugtelinge kom verwyder.
’n Klein groepie mense wat vir nieregeringsorganisasies en die Sentrum vir Kontekstuele Bediening werk, gaan sit van 12 tot 14 November op die sypaadjies by die vlugtelinge om ’n sensusopname te doen. Hulle tel die mense. Mans, vroue, kinders.
Hulle luister na die stories. Waar die mense vandaan gekom het. Hoekom hulle Suid-Afrika toe gekom het. Hoe lank hulle nou in die land is. Waar hulle in die land gewoon het.
Hoe hulle aangerand en weggejaag is, hul besighede gesloop, hul lewens vir die tweede of derde of vierde keer ontwortel. Hoekom hulle buite die VN se Hoë Kommissie vir vlugtelinge kamp. Wat hul doel is. Wat hulle nodig het.
Die inligting van die sensus word vir die VN en enigiemand wat belangstel beskikbaar gemaak. Dis hoe dit lyk om ’n mens se geloof met integriteit in die wêreld uit te leef.
Toe die polisie opdaag, spring van die vlugtelinge oor die VN gebou se heinings en okkupeer die gebou. Dis internasionale grond. Hulle hoop om veilig daar te wees. Hulle was nie.
Christene oral in die land reageer met selfvoldaanheid: Sien? Kyk hoe reageer hulle! Gooi die polisie met klippe en blikkies kos. Dis barbaars. Dierlike gedrag. Niks meer nie. Dis nie wie ons in ons land wil hê nie.
My hart krimp. As die vlugtelinge gewelddadig raak, is die Christene wat sê dis net die regering se probleem dalk reg. Dieselfde het in Kaapstad gebeur. Hoe vra ’n mens mense om om te gee as die vlugtelinge so reageer? As hulle selfs die mense wat probeer help nie vertrou nie?
Ek gesels met een van die mense wat aan die sensus deelgeneem het. Hy vra my om in ’n vlugteling se skoene te klim: As omstandighede in Suid-Afrika so buite beheer raak dat ek vir my lewe moet vlug; as ek ’n nuwe heenkome in ’n ander land vind; as ek ’n klein snoepiewinkel begin om myself en my baba aan die lewe te probeer hou; as die mense van die omgewing my snoepiewinkel kom vernietig, hulle vat my voorraad, hulle rand my aan. Nie net een keer nie. Elke keer wanneer ek van voor af begin. Dit het vier keer gebeur teen die tyd dat ek hier saam met die ander vlugtelinge kom kamp het. Ons is nou al ses weke hier. In daardie ses weke het een enkele ambassade uit al die besighede, ambassades en huise in hierdie omgewing vir ons ’n badkamer beskikbaar gestel. Een. Die mense wat hier woon, is bang vir ons. Hulle verstaan nie hoe bang ons is nie. Ons het nêrens om heen te gaan nie. En dan kom die polisie in en ons word vir die soveelste keer in ons lewens vertel dat ons nie welkom is nie en moet skuif. Dis nie net dae se frustrasie nie. Dis maande en jare se frustrasie wat dan opborrel.
As ’n mens vir weke, maande, jare as ’n onmens behandel is en hier is jy nou uiteindelik tussen ’n groep ander onmense en julle vra die wêreld: Sien ons. Ons is mense. En dan word julle soos onmense weggevat. Dis te veel vir vlees en bloed om te verduur.
’n Mens kan ander mense nie tot onmens leef en dan verontwaardig wees wanneer hulle soos onmense optree nie.
Op 18 November lees ’n koerantberig: Rus en vrede herstel in Waterkloof en Brooklyn. Die mans is gearresteer. Vroue sonder kinders ook. Vroue met kinders is na plekke van veiligheid geneem – ma’s en hul kinders nie noodwendig na dieselfde plek nie. ’n Groot groep is na die Lindela Repatrasiesentrum geneem.
’n Inwoner van Waterkloof word in die koerant aangehaal: Die situasie sou nooit in vrede geëindig het nie; ons het dit almal sien kom. So hartseer soos wat dit is, moes dit gebeur. Ons betaal belasting en werk ons hele lewens om in vrede te woon en die saga rondom die vlugtelinge was onaanvaarbaar; oorlog was nodig ter wille van vrede.
Wat is ons geloof werd as dit niks te sê het vir ’n wêreld wat só dink nie?
Op Donderdagaand 21 November word die Hervormde finalejaarstudente gelegitimeer. Hulle word nou proponente, beroepbaar in die Kerk. Later daardie selfde aand ontvang die mense wat die sensusopname gedoen het stemboodskappe van mense wat sê die polisie is besig om die vlugtelinge by die Lindela Repatriasiesentrum in busse te laai en op verskillende lukraak plekke in Gauteng af te laai. Die Repatriasiesentrum is glo vir mense wat sonder dokumentasie in die land is, en die vlugtelinge wat in Brooklyn uitgekamp en toe Lindela toe geneem is, se dokumentasie is in orde. So hulle word in die donker in die middel van die nag op vreemde plekke waar hulle niemand ken en niks het nie, afgelaai.
Wat is ons geloof werd as dit niks te sê het vir ’n wêreld wat só maak nie?
Verbeel jou hoe dit voel om een van ’n duisend mense te wees op wie twee stede, ’n hele land en omtrent vyf godsdienste hul rûe gedraai het.
Maar gelukkig is die rus en vrede in Waterkloof en Brooklyn herstel.
Matteus 2 vertel dat Josef en Maria met die seuntjie Jesus na Egipte gevlug het. Jesus se gesin was vlugtelinge. Hoe sou hulle in Egipte ontvang geword het? Sou hulle ook van die een plek na die ander gepos geword het omdat mense hulle nie daar wou hê nie? Sou hulle ook soos onmense behandel word?
Sou die gegoede gemeenskappe in Egipte ook dink die rus en vrede is herstel as hulle die vlugtelinge nie meer kan sien en kan hoor nie, ongeag wat van die vlugtelinge geword het?
Daar was ’n redelike groot Hebreeuse gemeenskap in Egipte. Dalk het die bangmaakstories so erg geword dat die Hebreeuse gemeenskap met al hoe meer agterdog bejeën is. Miskien was hulle nie meer welkom in Egipte nie.
Jesus se gesin het uiteindelik teruggekeer en in Nasaret in Galilea gaan woon. Matteus sê ongelukkig nie vir ons of die rus en vrede in Egipte herstel is nadat Jesus se gesin daar weg is nie.
Dis jammer. Ek sou graag wou weet.

Dankie Carusta hiervoor. Ons wat onsself Christene noem het nodig om dit te hoor.