Ds Annieka Pottas

Die navorsing wys dat wanneer mense, maar veral jongmense, beskryf hoe ’n gemeente lyk waar hulle gelukkig is, sal hulle dikwels sê: Die kerk is soos familie. Dit verwoord iets van wedersydse liefde, aanvaarding, ’n plek om te behoort, maar in effek ook ’n plek waar mense van verskillende generasies nodig is en elkeen ’n unieke rol het om te speel in die groei en vooruitgang van die familie.

Hierdie funksionering van families wat oor generasionele grense strek, is nodig vir die gesonde ontwikkeling en welstand van elke lid in die familie – emosioneel sowel as geestelik.

Maar dit is tog interessant dat gemeentes, wat soos geloofsfamilies funksioneer, dikwels generasies isoleer. In ons gemeentes het ons byvoorbeeld dikwels ’n aparte jeugbediening wat totaal op hulle eie funksioneer, en heeltemal apart is van byvoorbeeld bejaardebediening. Ons pak lewensfasebedienings met die beste bedoelings aan om mense in hulle eie lewensfases te bedien op ’n vlak wat hulle nodig het, wat op sigself baie positief is, maar dit het tog die gevolg dat ons in silo’s dink oor die verskillende generasies. Dit is ’n denkwyse wat eintlik nogal onnatuurlik is, wanneer ’n mens aan die intergenerasionele (tussen generasies) funksionering van families kyk.

Daarom kan ’n intergenerasionele benadering tot bediening van groot waarde wees vir gemeentes. Intergenerasionele bediening is die saambring van mense van verskillende generasies sodat almal vanuit dié verhoudings kan groei in geloof en toewyding. Die Bybel maak ook verskeie verwysings na die unieke invloed van verskillende generasies in die geloofsvorming van ander generasies. Onder andere in Psalm 71: 18 beskryf die bejaarde digter: Nou dat ek oud en grys geword het, moet U my tog nie alleen laat nie, o God, dat ek nog aan die geslagte wat kom, kan vertel van u werk en u mag.

Die invloed van ouer generasies op jongeres is vir ons meer vanselfsprekend, maar in die Bybel (daar is verskeie voorbeelde) en vandag kies en gebruik God ook kinders om ’n impak te maak in die lewens van mense wat veel ouer is. Jesus daag die tendens van sy tyd, dat kinders gesien mag word maar nie gehoor nie (’n tendens wat soms in ons tyd ook nog na vore kom), uit deur kinders te gebruik as moral witnesses, models of faith for adults, sources or vehicles of revelation and even paradigms for entering the reign of God (Clark, 2016:141) (vgl onder andere Matt 18: 2-5; 19: 13-14). Jesus doen dit om juis te illustreer dat ouers en ander volwassenes ontvanklik moet wees vir die wysheid wat kinders ook het om te bied, en te erken dat kinders ook ’n positiewe invloed kan hê op die morele en spirituele lewe van volwassenes.

Chap Clark beskryf die voordele van ’n intergenerasionele bedieningsbenadering, waar daar ruimte is vir mense van verskillende generasies om ’n rol te speel, soos volg: Die geloofservaring van senior lidmate sal bevorder word wanneer jongmense die ruimte het om die status quo uit te daag en die gemeente op te roep om relevant te bly in ’n veranderende wêreld, en die energie en perspektief van jongmense sal ouer lidmate uitdaag om opnuut te dink oor hoe God hulle roep om in die gemeente werksaam te wees. Maar terselfdertyd het jongmense steeds ook volwassenes nodig om hulle te koester en hulle te begelei op hulle lewenspad, met baie aanvaarding en sonder oordeel. Wanneer daar ware verhouding is, kan ouer gelowiges hulle wysheid, lewenservaring en geloofspad met jong gelowiges deel.

Wanneer ’n kind in ’n gemeente gedoop word, sê die NHKA se wisselformulier vir die Doop duidelik dat ouers, maar ook die gemeente, ’n baie besliste rol en verantwoordelikheid het in hierdie kindjie se lewe: Ouers en die gemeente moet daarom hulle kinders leer wat die Doop beteken. Ons kinders behoort in die lewe van die gemeenskap van gelowiges te ervaar wat dit beteken om aan God te behoort.

Die navorsing wys dat jongmense nodig het om te beleef dat daar ook ander volwassenes as ouers en familie is wat belang het by en belangstel in hulle en hulle lewens. En dít soveel te meer in ’n wêreld waar ekonomiese druk van ouers vra om meer en meer tyd by die werk deur te bring, en daar dan minder geleentheid is vir betekenisvolle gesprekke oor geloof en lewe. Dan kan en moet die kerk juis hierdie rol help vervul. Met ’n intergenerasionele bedieningsbenadering sal daar dan ouer mense, meer as net die ouers of die predikante en jeugwerkers, uit die gemeente na vore kom om ook hierdie deel van die kinders se geloofspad saam met hulle te stap. Dit is tog ’n wesenlike deel van die ervaring van wat dit beteken om deel te wees van die geloofsgemeenskap en aan God te behoort, soos die Doopformulier sê. 

Dit wil voorkom of kinders en jongmense, meer as ’n “cool” jeugleier en jeugbediening, werklik eerder nodig het om aanvaar en veilig en voor omgegee te voel, deur verskillende generasies mense uit die gemeente wat in hulle lewens betrokke is. Die wedersydse gevolg van hierdie verhouding en betrokkenheid is die ryp word en groei van geloof – dit is die eerste uitgangspunt van intergenerasionele jeugbediening.

Maar die jeug het ook die wesenlike behoefte om te voel dat hulle ’n rol het om te speel en dat hulle nou ’n verskil kan maak. Ons is geneig om aan die jongmense te dink as die kerk van môre, en dat hulle nou bloot passiewe ontvangers is van die gemeente se bediening, waardes, tradisies en oortuigings. Intergenerasionele jeugbediening werk egter met Jesus se uitgangspunt dat kinders en jongmense, waar hulle nou in hulle lewe is, baie het om te bied in die lewe en bediening van die gemeente. Ons moet besef, God rus nie net volwassenes toe met gawes wat in die lewe van die geloofsgemeenskap gebruik moet word nie, maar ook kinders.

En as ’n geloofsgemeenskap, wat ons met die Doop aan betrokke kinders se lewe verbind, het ons die verantwoordelikheid om kinders en jongmense te help en hulle die geleentheid te gee om die gawes waarmee God hulle in daardie fase van hulle lewe toerus, te gebruik, te ontwikkel en te groei. Daar is soveel fasette van gemeentelike bediening waar kinders en jongmense ’n rol kan speel of ’n rol het om te speel – daar moet net doelbewus en intensioneel daaroor nagedink word.

As daar in ons gemeentes hierdie ruimtes geskep word, kommunikeer ons aan die jongmense dat hulle werklik vir ons belangrik is, dat ons hulle ernstig opneem, dat hulle nodig is en dat dit ook hulle kerk is waar hulle ’n verantwoordelikheid het. Só word “die kerk van môre” die kerk van vandag en gee ons vir jongmense die gereedskap om geloof en kerkwees in die wêreld hulle eie te maak. Dis veral belangrik omdat hierdie jongmensjare die jare van geloofsvorming is wat die pas aangee vir hulle geloof en ook hulle kerklike betrokkenheid as volwassenes.

Clark verduidelik dat transformasie ten diepste en waarlik in die lewe van kinders en jongmense plaasvind wanneer hulle betrokke is in die lewe van die gemeente (’n rol het om te speel), en as hulle so verbind is aan ’n netwerk van volwassenes wat omgee en hulle belange en gesonde groei op die hart dra. 

Nie net is hierdie intergenerasionele benadering van groot waarde vir volwassenes wat hulle roeping as gelowiges in die wêreld moet opneem en vir bejaardes wat dalk eensaam is nie, maar veral ook vir die jeug. Want waar kinders in ’n gemeente gekoester, geag, waardeer en belangrik voel en die ruimte het om hulle Godgegewe gawes uit te leef, het hulle ook nie werklik rede om ’n ander gemeente te gaan soek of die kerk in geheel te verlaat nie, en die heel belangrikste, beleef hulle diep en outentieke geloofsgroei.

 

Vir meer en waardevolle inligting oor hierdie onderwerp, kan die volgende boeke wat ook as basis gedien het vir hierdie artikel, bestudeer word:

  • Clark, C (ed), 2016. Adoptive Youth Ministry: Integrating Emerging Generations into the Family of Faith. Baker Academic: Michigan.
  • Baxter, J, 2010. Together: Adults and teenagers transforming the Church. Zondervan: Michigan.
Share via
Copy link
Powered by Social Snap