Titus 3: 1-7
In Titus se gemeente was daar twee groepe wat onenigheid veroorsaak het deur te sê dat gelowiges iets moet doen om God se liefde en verlossing te verdien. Maar Paulus maak dit baie duidelik dat dit nie waar is nie. Ons kan niks doen om verlossing te verdien nie. Ons het dit verniet by God gekry!
Baie mense in die kerk haak so vas by die wette, dat hulle vergeet van God. Alles van die kerk gaan dan meer oor wette en reëls, sodat hulle nie plek maak vir God se genade nie. Hoor net hoe mooi stel Paulus dit: Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens verskyn. Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming (Tit 3: 4-5).
Die woord wat hier in Titus 3: 4 gebruik word om God se goedheid aan te dui, vertaal ons met goedheid of vriendelikheid. Dié woord verwys nie na die aangeplakte vriendelikheid soos dié van iemand wat iets aan jou probeer verkoop nie. Dit het ’n dieper betekenis. Dit is ’n tipe vriendelikheid en goedheid wat onvoorwaardelik is, wat vir mense ruimte gee om die potensiaal van ’n Godgegewe vriendelikheid uit te leef. ’n Goedheid en vriendelikheid wat verstaan dat mense foute maak, en ’n vriendelikheid wat bereid is om geduldig te wees en te vergewe. Dit is ’n goedheid en vriendelikheid wat jou aanvaar net soos jy is.
Hierdie goedheid en vriendelikheid bring ’n mens in beweging om ook met hierdie goedheid en vriendelikheid teenoor ander mense op te tree, want dit laat ons en ander geliefd voel. Mag ons in Christus se voetspore volg en ook onvoorwaardelik liefhê, vriendelik wees sonder voorkeur, en God se goedheid uitleef.
Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp
