Filippense 4: 2-9
Ons as Christene sing dikwels lofliedere, want vreugde en blydskap is vir ons belangrik. Ons loof en prys die Here ook in ons gebede. Ons maak alles aan God bekend in ons gebede, selfs ook ons bekommernis. Ons kan sonder ophou bid. Wees altyd bly; bid sonder ophou; wees in alle omstandighede dankbaar; want dit is God se wil vir julle in Christus Jesus (1 Thess 5: 16-18, AFR2020).
Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak (Fil 4: 6 en 7, AFR2020).
Dit is vir ons ’n troos dat Jesus Christus self oor ons harte en gedagtes waak. Die Here gee self vir ons vrede wat in ons harte deurbreek. Sy vrede is groter as wat ons kan begryp. Jesus het vrede as goeie boodskap aan ons verkondig. Deur Hom het ons toegang tot die Vader deur die Gees. Laat ons dan ons gedagtes rig op dit wat waar en eerbaar is, wat reg is, wat rein is en alles wat lieflik is en wat lof verdien. Ons rig ons gedagtes op dit waarvoor ons die Here kan prys.
In die lewe is ons dikwels besig met baie tydelike dinge. Ons moet onthou dat die Here naby is. By die Here het ons veiligheid en geborgenheid. Hy is die God wat sorg en ons beskerm. Hy is by ons. Die dood is oorwin en Hy sal vir ewig by ons wees. Mag ons dan bereid wees om die evangelie van vrede as skoene aan ons voete aan te trek (Ef 6: 15, AFR2020).
God regeer tot in ewigheid. Hy regeer in liefde. Daaroor is ons bly. Dis ’n blydskap wat die Here vir ons gee. Ons ontvang dit met dankbaarheid.
Wat julle van my geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het: hou aan om dit te doen. En die God van vrede sal met julle wees (Fil 4: 9, AFR2020).
Ds Kotie Mc Donald, Emeritus
