Miga 7: 8-10
Miga 7: 8 is werklik opbouende woorde wat ons graag ter harte neem. Ons moet wel net so ’n bietjie loer na hierdie woorde se oorsprong. Daar is nie heeltemal sekerheid oor die datums en die skrywers self nie. Wat ons wel agterkom, is dat hierdie tekste vir ons ’n beeld skets van God se volk vóór en ná die ballingskap, van beide die Noord- en die Suidryk. Verder wil dit voorkom of die struktuur van hierdie boek eers ’n waarskuwing inhou vir wat die gevolge gaan wees as die volk aanhou wegdraai van die Here af, maar dat dit opgevolg word met troos vir wanneer hierdie dreigemente gerealiseer het. Dan kry ons hierdie teks wat amper herhaal word in hoofstuk 7 met troos ná die waarskuwing.
Weereens word dit duidelik dat God se liefde en genade soveel groter is as wat ons besef. Die teks laat ’n mens amper dink aan ’n ouer wat ’n kind waarsku om nie aan die warm plaat te vat nie, want hy of sy gaan brand. Tog sê die ouer ook: Maar selfs wanneer jy brand sal ek jou vashou, en jou brandwond behandel. In die volk se belydenis: Al het ek geval, ek staan weer op; al sit ek in die donker, die Here is vir my ’n lig, sien ons hul geloof dat die Here reg laat geskied, maar nooit sy kinders versaak nie.
In Jesus se bediening hier op aarde sien ons dit ook. Die Here laat reg geskied, maar Hy weerhou nie liefde van sy kinders nie. Daarom kan ons ook vashou aan die geloofsoortuiging dat die Here vir ons lig in die donker sal wees. Mag ons daaraan vashou en daarop vertrou, selfs al sit ons in die donker.
Ds Schalk Zastron, Ermelo
