Romeine 10

In Romeine 10 verduidelik Paulus hoe geloof in Jesus Christus werk. Die sleutel tot die Skrifgedeelte word gevind in die woord vryspraak. Dit kom van die Griekse woord dikaiosuné wat ook vertaal kan word met geregtigheid. Enersyds gaan geregtigheid oor God se regverdigheid en andersyds gaan dit daaroor om in die regte verhouding met die Here te leef.

Maar waar word geregtigheid en ’n regte verhouding met God gevind? Bo in die hemel of onder op die aarde? Nee, sê Paulus, dit is nie op ’n fisiese plek te vind nie. Dit is te vind in God se Woord. God se Woord verwys enersyds na die Bybel, die geskrewe Woord van God, en andersyds na Jesus Christus, die Mensgeworde Woord. In die Bybel lees ons van die redding wat Christus vir ons gebring het. Om in die regte verhouding met God te leef, om te deel in die redding wat God gee, moet ’n mens dus dié Woord glo – glo dat Jesus jou gered het. En wanneer jy in die Woord glo, word dit in jou hart opgeskryf en word dit ’n belydenis in jou mond: Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart (vers 8).

Geloof is daarom soos ’n kettingreaksie: Jesus Christus red ons – God se Woord vertel ons daarvan – dit wek geloof by ons – deur geloof deel ons in die redding – ons glo met ons hart en bely met ons mond van die redding. In die Bybelse tyd is die hart geassosieer met ’n mens se denke. ’n Mens het gedink deur iets in jou hart te sê. Die mond is weer geassosieer met kommunikasie en spraak. Die gedagtes van die hart word uiteindelik woorde in die mond. Wanneer dit by die kettingreaksie van geloof kom, gaan dit daaroor dat ons in ons hart oortuig is van ons redding in Jesus Christus en dit met ons mond bely deur daarvan te getuig in dit wat ons sê en doen. Want wat die hart van vol is, loop die mond van oor.

Dr Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom / Hervormde Teologiese Kollege

Share via
Copy link
Powered by Social Snap