Prediker 3: 1-13
Mense sê maklik: Ek het nie tyd nie! Kry sommige van ons meer tyd as ander? Nee, almal kry presies dieselfde hoeveelheid tyd in ’n dag. Een van die belangrikste lesse wat elkeen van ons moet leer, is: Tyd is die asem wat liefde laat lewe! Kan ’n mens vir iemand sê dat jy vir hom of haar lief is en dan nooit tyd saam met hulle deurbring nie? Kan ’n mens vir God lief wees en nooit bereid wees om tyd te maak om met sy Woord besig te wees of daadwerklik vir Hom iets te doen nie?
Die dag toe ons Here Jesus gebore is, het God self in ons tyd ingekom. God het besluit dat die tyd reg was vir die wêreld om sy liefde sigbaar en tasbaar te beleef. Vir Jesus was daar ’n tyd om gebore te word, maar daar was ook ’n tyd om te sterwe. Dit alles was deel van God se plan sodat die deur vir elkeen van ons oopgesluit kon word na die onbepaalde tyd – die ewigheid saam met God. Jesus leer ons dat God lief is vir ons en daarom het Hy tyd vir ons.
Hoe antwoord ons die Here? Een van die belangrikste wyses waarop ons God kan antwoord, is om tyd te maak vir Hom. Ja, ook hier is tyd die asem wat liefde laat lewe. Lewe jou liefde vir God? Niemand het een enkele uur meer as ’n ander gekry nie. Ons het almal 24 uur in elke dag. God het elke ding gemaak dat dit pas in ’n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens ’n besef gegee van die onbepaalde tyd. As jy bo alles na die stem van God luister, sal jou tyd ook uitwerk en jou hele lewe, maklike en moeilike tye, sal kosbare tyd saam met God wees.
Gebed
Vader, ek is baie lief vir U. Help my om my tyd so te gebruik dat hierdie liefde vir U sal lewe. Amen.
Ds Stephan Botha, Rustenburg-Suid
