Lukas 23: 32-43
Kruisigings was bedoel om absoluut afgryslik te wees. Dit moes potensiële wetsoortreders afskrik. Jesus het nie alleen gesterf nie, daar was drie kruise. Daar was die Kruis van Rebellie; die Kruis van Berou; en die Kruis van Verlossing.
Aan die Kruis van Rebellie was ’n skaamtelose en geharde man. Hy was vloekend en minagtend. Hy het sy laaste kans op vergifnis en redding weggegooi.
Aan die Kruis van Berou het ’n man gehang wie se hart langs Jesus vermurwe het. In plaas van vloeke wat oor Jesus se lippe gekom het toe die soldate die spykers ingeslaan het, het Jesus ’n gebed van vergifnis vir hulle gebid. Miskien was dit juis hierdie uitdrukking van genade wat die tweede misdadiger se hart sag gemaak het.
Wanneer hy Jesus vra om aan hom te dink wanneer Hy in sy koninkryk kom, is Jesus se reaksie onmiddellik: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees (Luk 23: 43). Die woord paradys is ’n Persiese woord wat verwys na ’n pragtige ommuurde tuin. As ’n Persiese koning een van sy onderdane wou vereer, sou hy hom uitnooi om saam met hom deur die tuin te stap. Jesus het die berouvolle rebel nie alleen onsterflikheid belowe nie, maar ook ’n ereplek as ’n metgesel in God se tuinparadys.
Die Kruis van Berou spreek van hoop, belofte en redding, maar dit is alleenlik moontlik gemaak deur die derde kruis – die Kruis van Verlossing.
Een van Rembrandt se aangrypendste skilderye staan bekend as Die Drie Kruise. Jy sien die verskillende gesigsuitdrukkings van almal betrokke by die kruisiging. Weggesteek in die skadu’s is ’n ander figuur. Kunskritici glo dis ’n voorstelling van Rembrandt self, omdat hy erken het dat sy sonde daartoe bygedra het dat Jesus aan die kruis vasgespyker is.
Watter kruis beskryf jou vandag die beste: rebellie of berou? Kyk na die Kruis van Verlossing. Sien Hom daar met uitgestrekte arms wat wag om vergifnis te gee aan almal wat in berou na Hom toe kom.
Ds Janine Bevolo-Manders, Witfontein
