Lukas 13: 6-9; Levitikus 19: 23 -25
Die vyeboom is vir ’n hele aantal jare al vrugteloos. Die eienaar se oplossing is: Kap dit uit! Die tuinier is bereid om dit vir nog ’n jaar te versorg. Skielik is daar hoop dat die vyeboom tog die byl vir eers kan vryspring. Dalk, miskien, volgende jaar, of nie?
Wat toe met die vyeboom gebeur het, weet ons nie. Wat ons wel weet, is dat daar tog ’n tikkie hoop in die gelykenis gebore word. Hoe realisties is hierdie hoop? Wat is die kans dat die vyeboom na ses, sewe of selfs nege jaar nou ewe skielik sal begin om vrugte te dra?
Dit is juis die basis van hoop: om pleitend te smeek, al weet jy dat daar menslik geen hoop en uitkoms is nie. Met Christus se koms word die koninkryk van God sigbaar op aarde. In Hom lê daar vir ons die hoop opgesluit dat God met ons is en sal wees – ook in die onbekende van die nuwe jaar. In Hom kry ons ’n sekerheid op die lewe, omdat ons weet waarheen ons op pad is; hoe hierdie weg eindig en wat ons bestemming is.
Sal ek nog ’n jaar só kan aangaan? Ons vra dit vanuit menslike oorwegings aan die begin van ’n kalenderjaar. In die gelykenis tree die tuinier in en antwoord: Gee die vyeboom nog ’n kans tot volgende jaar.
Ons lewe tans in God se genadetyd. Die tyd waar die groot Tuinier, Jesus Christus, tussen die lem van die byl en God se oordeel vir ons intree, sodat ons nog genadetyd het om vrug te dra tot God se eer. Sal jý nog ’n jaar só aangaan? Dit vra die gelykenis ook aan ons. Sal jy nog ’n jaar só selfgesentreerd en vrugteloos aangaan, terwyl die genade nou reeds vir ons deurbreek met die koms van die Koning van alle konings? Die Tuinier wat sy lewe gee en met liefde en geduld self die vyeboom versorg, bemes en omspit in die hoop dat dit tog vanjáár vrugte sal dra.
Ds André Thomas, Oos-Moot
