Markus 15: 39; Handelinge 1: 8

Gister het ons na die eerste twee praktyke gekyk wat die Romeinse wêreld op sy kop gekeer het.

Die derde praktyk was dat Christene ’n kultuur gedemonstreer het wat van etnisiteit en rangorde gestroop was. Christene het toegelaat dat edelman en slaaf mekaar as broeder aanspreek – so anders as in die Romeinse wêreld.

In die vierde plek het Christene ’n genadige God verkondig wat dieselfde van sy volgelinge vereis het. Genade was geensins deel van die Romeinse kultuur nie en Christene is verguis omdat hulle medelye met die armes gehad het en sorg aan armes ’n belangrike praktyk onder hulle was.

Vyfdens was Christenmans geroepe om hul vrouens so lief soos hulself te hê. Die Romeinse siening was dat mans hul vroue en kinders besit het. Hulle was eiendom en jy kon enigiets met hulle doen. In sommige gevalle is hulle doodgemaak sonder enige wetlike gevolge.

Sesdens het Christene die Romeinse praktyk van kindermoorde verwerp. Daar is veral van babadogters ontslae geraak omdat seuns voorkeur geniet het, en dosyne geraamtes van kinders uit daardie era is al opgegrawe. Dit was veral mans wat hierdie besluite geneem het. Onder Christene is alle lewe – gestremd, ongebore, manlik of vroulik, ryk of arm, slaaf of edelman – as heilig beskou.

Die sewende kenmerk was dat Christene ander lief het – selfs al hou dit persoonlike risiko in. Hul geloof in die ewige lewe het dit moontlik gemaak. Dit het gedurende die pesepidemies in 165 en 251 nC duidelik sigbaar geword. Siekes is deur hul familie agtergelaat terwyl die gesondes laat spaander het. Christene het agtergebly en die siekes versorg, en die sterwendes tot die dood toe bygestaan. Die oorlewendes was gewisse bekeerlinge tot die Christendom, en getalle het dramaties toegeneem vanweë die onbaatsugtige liefde en sorg van Christene.

Die centurio se woorde (Mark 15: 39) was profeties. Die volgelinge van Jesus Christus, die Seun van God, het oor drie eeue heen die Romeinse Ryk onherroeplik verander – dit alles het met die Heilige Week begin.

Dr André Ungerer, Hervormde Teologiese Kollege

Share via
Copy link
Powered by Social Snap