Lukas 24: 36-53

Die verlossingswerk wat God in en deur Jesus Christus op aarde begin het, eindig nie by die kruisiging nie. Ons glo dit en ons bely dit saam met gelowiges oor die eeue heen. God se werk is nie klaar nie!

Die opstanding van Jesus Christus uit die dood word bevestig deur die vertellings van die vroue by die leë graf, en Petrus wat graf toe hardloop en net die doeke daar sien lê. Boonop sien Petrus die doek wat om Jesus se kop was, eenkant opgerol. In die tradisie van daardie tyd ’n teken dat die taak nog nie voltooi was nie. Verder word die opstanding bevestig deur Jesus se verskyning aan die Emmausgangers en die dissipels. Jesus wys sy hande en voete vir die dissipels en eet saam met hulle ’n stuk gebakte vis.

Na hierdie bevestiging word die dissipels opnuut opgeroep om hul opdrag uit te voer. Hulle is getuies van die kragtige werk wat Jesus Christus hier op aarde gedoen het. Hul getuienis moet mense lei en leer om alles te onderhou wat Jesus hulle beveel het.

Jesus stel die dissipels gerus dat hulle dit nie uit eie krag moet gaan doen nie. Hy sal hulle met krag toerus sodat hulle daadwerklik en doelgerig kan getuig dat Jesus die Christus is, die Seun van God. Die uitloper daarvan is die hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees wat die belofte van Jesus Christus bevestig.

In die geloof is u en my verwagting die wederkoms van Jesus Christus. Daarom leef ons met afwagting: Jesus Christus kom weer!

Gebed

As Hy weer kom, as Hy weer kom, kom haal Hy sy kinders;

al sy kinders, wat in Hom glo, om by Hom te wees.

Hy’s die Weg en Hy’s die Waarheid, die Lewe vir elkeen;

sodat almal wat in Hom glo vir ewig sal leef!

(Gesang 599)

Ds Leon Geel (sr), Grimbeekpark

Share via
Copy link
Powered by Social Snap