Handelinge 2: 14-33

Een van die sterkste getuienisse vir die opstanding is die feit dat die lewens van baie mense ná Jesus se dood radikaal verander het. Ons het reeds verneem van Paulus.

Petrus, wat voor die opstanding nie bereid was om sy verbintenis met Jesus teenoor ’n diensmeisie (Matt 26: 69-70) te erken nie, preek nou ná Jesus se opstanding daaroor voor duisende mense (Hand 2: 14), selfs in weerwil van die wense van die Joodse Raad. 

Die dissipels, wat vroeër weggehardloop het, verkondig skielik hul boodskap teen geweldige koste. Al die dissipels, met die uitsondering van Johannes wat in ballingskap gesterf het, het op ’n gewelddadige manier gesterf ter wille van die boodskap van Jesus as die opgestane Here. 

Mense is bereid om te sterf vir dit waarin hulle glo. Maar ons kan tereg vra hoeveel mense bereid is om te sterf vir wat hulle weet ’n leuen is. Mense wat die opstanding ontken, wil hê ons moet glo dat die dissipels, nadat hulle weggehardloop het, weer bymekaargekom het en in ’n sameswering betrokke was wat die hele wêreld om die bos gelei het. So sou die dissipels Jesus se liggaam gesteel het en doelbewus ’n leuen oor sy opstanding verkondig het. Hulle het egter niks uit so ’n leuen te wen gehad nie. Selfs onder dreigement van die dood, staan hulle by hul getuienis oor die opgestane Jesus en is hulle bereid om daarvoor te sterf. 

Hierdie verandering van mense se lewens het wyer plaasgevind as net by die dissipels. In dieselfde stad waar die gebeure rondom die kruisiging en opstanding van Jesus plaasgevind het, het daar gou baie mense na vore gekom wat die boodskap van verlossing in sy Naam aangeneem het. As daar ernstige twyfel was oor die waarheid van die opstanding, dan sou die kerk nie kon ontstaan het op die plek en onder die mense wat die naaste aan hierdie gebeure was nie.

Daar was van die begin af iets wat ’n ongelooflike impak op hulle gehad het. Daardie iets was natuurlik die opstanding van Christus.

Ds Juanita du Preez, Pierneef

Share via
Copy link
Powered by Social Snap