2 Korintiërs 4: 7 – 5: 10

Ons het baie uitdagings in hierdie lewe. Persoonlik en kollektief. Ons elkeen se grootste lewensuitdaging is egter om nie uit ons omstandighede te leef en toe te laat dat dit ons rig en lei nie, maar om te leef uit die skat wat ons in ons het, naamlik geloof. Om uit die krag van geloof al ons laste te dra, soos een wat ons kruis opneem en Jesus na Golgota volg.

Golgota was nie romanties nie, maar brutaal. Dit was ’n verhaal van nederlaag en Jesus het gelyk soos die verloorder. Maar wat met die vyf sintuie waargeneem is, is nie die volle prentjie nie. Dat Jesus die volmaakte paaslam was, die wêreld se sondes op Hom geneem het, en dit uit liefde alleen gedoen het; dat God dit so beskik het, dit alles ontwerp het, deur die profete vooraf beskryf, en deur die apostels daarna uitgewys – dit kon nie met vyf sintuie waargeneem word nie, maar slegs deur geestelike sintuie. Dit was toe ’n oorwinning en Jesus die Oorwinnaar bowenal.

Ons lewens as dissipels eggo in die kleine die grootte van Jesus se verhaal. Juis in ons fisiese menslike lyding, beproewinge, uitdagings; in ons broosheid as kleipotte wat maklik breek, ons worsteling met ons sondaarwees; in die krake en die skade – daar kan die krag van die skat wat ons in ons dra, getoets en aan die wêreld geopenbaar word.

Ons lyk soos verloorders. Ons verduur soveel verlies op verskillende vlakke, maar dis nie die volle verhaal nie. Dit is wat met die vyf sintuie waargeneem kan word, maar met die geestelike sintuie kan ander dinge vasgestel word: ons integriteit in God; ons geloof, hoop en liefde; en die vrugte van die Gees. Wanneer dit goed gaan, is hierdie dinge moeiliker om raak te sien. Al sterf ons van al hierdie lyding en tydelikheid, is die oorwinning steeds ons s’n.

Gesang 387 – O Heer, uit bloed en wonde…

Ds Aniena Jansen van Rensburg, Leeudoringstad

Share via
Copy link
Powered by Social Snap