Filippense 3: 4 en 7-8
Tog sou ek ook op uiterlike dinge kon vertrou. Maar wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, … want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde.
Wat beteken dit vir ons om vandag te bely dat om Christus te ken, alles in waarde oortref? Soos wat ons ouer word, ontdek ons vaardighede, ons verdiep ons kennis van hoe dinge in die lewe werk, ons bou ’n lewe en vermeerder ons bates, en daar is soveel meer wat ’n mens nog hierby kan voeg. Deur dit alles weerklink die besef dat ons gebonde is aan tyd en dat alles wat ons het, net tydelik is. Dit is ’n skrikwekkende gedagte. Dit laat ons vasklou aan dit wat ons het, en maak die vrees vir verlies in ons wakker.
Hierdie teksgedeelte praat met ons oor die vrede om dit alles in die hande van die Here oor te gee. Alles wat ons in die lewe ontvang, is ’n gawe van God. In elke nuwe lewensfase word ons deur God geseën met nuwe lewenservaringe. Dit het tot gevolg dat ons nie aan uiterlike dinge vasklou nie, maar God vertrou vir die nuwe en onbekende wat nog op ons wag.
Voor watter oorgang in die lewe staan jy? Hoe help jou geloof jou om van die ou bekende afstand te doen en nuwe geleenthede wat op jou wag, aan te gryp?
Gebed
O Gees van God, bly by my, wees vandag die inspirasie vir al my gedagtes. Help my in die veranderinge en oorgange wat ek in die lewe moet maak. Daar is soveel wonderlike oomblikke en herinneringe van die verlede wat ek koester. Ek glo vandag dat die nuwe lewensfase waarvoor ek staan, ook nog soveel van u seën gaan inhou. Ek wil daarom nie net vasklou aan wat ek het en wat bekend is nie, maar U die geleentheid gee om my ’n nuwe stuk lewe te laat ontdek. Om U vandag te ken, Here, oortref alles in waarde. Amen.
Ds Lisa-Mari Prinsloo, Centurion-Oos
