1 Korintiërs 15: 54-57

Die dood het sy angel en kloue verloor, en daarom kan ons hoop en ’n ewige lewe vier. Paulus gebruik ’n paar beelde om ons hiermee te help. Hy sê eerstens die angel van die dood is uitgehaal. Die angel is die skerpioen se puntjie waarin die gif is. Dit is nie die steek wat jou doodmaak nie, maar die gif in die angel.

Kort ná Jesus se opstanding verskyn Hy op ’n strand. Die dissipels is hier besig om vis te vang. Dis hiérdie dissipels wat hoop verloor het en bejammerenswaardig geword het. Hulle het terugbeweeg vanaf vissers van mense na vissers van vis. Hulle kyk vas in Jesus se dood. Daarom gaan hulle maar terug na hul aardse werk.

Petrus is die een wat alle hoop verloor het. Hy het ook vir Jesus verraai. Petrus, die graf is leeg! Daar is oorwinning, daar is vrede, daar is oorvloedige lewe, het jy My lief? Petrus se wanhoop verander in hoop! Ons Here leef! Jesus sê vir Petrus, Volg My! Jesus sê dit vandag vir jou! Hy sê dit vir jou wat nog in kettings vasgebind is. Jy wat sukkel met vryspraak, vergifnis. Die goeie nuus is dat jy vergewe is en vrygespreek is! Die lewe in oorvloed is joune te midde van ’n ongenaakbare wêreld. Jy is dalk op die oomblik op ’n plek waar dit pikdonker is: Jy’s dalk in ’n verhouding wat verbreek is; jy voel verraai; jy’s dalk siek; jy voel dalk moeg en afgemat; jy het moontlik besef jy gaan binnekort jou werk verloor; jy het dalk alreeds die verlies van ’n geliefde ervaar; of jy voel miskien eensaam. Jy is nie alleen nie. Die Here het reeds vir jou ’n deur oopgemaak, want Hy het opgestaan. Dit is die kern en die hart van ons geloof. Die grootste vyand is die dood, en die dood is verslaan. Byt vas, hou moed! Daar is hoop in die duisternis.

Ds Janine Fourie, Wonderboom-Suid / Pretoria

Share via
Copy link
Powered by Social Snap