Markus 16: 1-8; Openbaring 3: 7-13
Liewe medegelowige:
Die Woord van God het in vervulling gegaan. Verstaan ons dit? Besef ons hoe God, in die vervulling van sy Woord, sy grootheid, sy mag, sy trou en sy ontferming aan ons openbaar? Dit kan nie anders nie as dat ons in verwondering stil sal raak.
Met kommer oor wie die graf sal oopmaak, het die vroue die wonder van die vervulling van die Woord van God aanskou. Die graf, die deur, is oop! Hy het opgestaan en Hy leef! Die graf, die dood, het nou net ’n deur geword vir dié wat in Hom glo.
Net soos wat die Woord as waar en betroubaar getoon is deur die bevestiging dat Jesus die Christus die Koning is, net so seker is die Woord dat dié wat glo, sal lewe al moet hulle ook eendag sterwe.
Hy het die deur oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie!
Ek wil die week se paar gedagtes afsluit met ’n saak wat ek tot nou gelaat het: Jesus is gesalf as Koning. Dit het Hy bevestig deur sy mag en gesag. Hy is gesalf as Profeet. Dit het Hy bevestig deur die Woord te verkondig. Maar Hy is ook as Priester gesalf. As Priester was Hy nie net die Een wat die offer gebring het nie, Hy was self ons offer wat God voorsien het. ’n Offer wat volmaak en sonder gebrek was, wat vir God aanneemlik was en die voorhangsel van die tempel van bo na onder laat skeur het. Nou kan daar danksy hierdie offer teruggekeer word na die Vaderhuis.
In Christus is u en ek medegesalfdes, konings, priesters en profete.
As konings: Aan Kain is gesê: Die sonde (ongehoorsaamheid) wag jou in daar buite. Maar jy moet oor hom heers. Heers en beheers.
As priesters: Bring offers van dankbare gehoorsaamheid aan God.
As profete: Verkondig met woord en daad dat jy is wat Hy gemaak het.
Lees ook Johannes 20: 30-31.
Ds Hennie Aucamp, Emeritus (25/02/1949 – 04/10/2024)
