
Die opbou van die Kerk as liggaam van Jesus Christus is vir die SGB ’n saak van hoë prioriteit. Om hoop te bring en deur al die dienste wat gelewer word hierdie hoop te beliggaam, is die leuse van die SGB. Die SGB is ’n orgaan van bystand wat die Kommissie van die AKV ondersteun in die uitvoering van sy werkopdrag. Die SGB se drie strategiese fokusareas is die opbou van die gemeenskap van gelowiges, gemeentebegeleiding en Teologiese opleiding.
Dr FJ Labuschagne, 082 873 6557, frederick.labuschagne@up.ac.za
Hoof: Sentrum vir Gemeentelike Bediening (SGB)

1. MENTORSKAPPROGRAM
Projekspan: Ds L Prinsloo (koördineerder) in samewerking met prof WA Dreyer, drr JP Bester, SM de Beer, JG Janse van Rensburg, MJ Jansen van Rensburg, FJ Labuschagne, AG Ungerer, JC van der Merwe, WC van Wyk, di D Barnard, ME Beukes, PS Dreyer, TF Dreyer (Wapadrant), CEC Hertzog, RC Kok-Pretorius, WJJ Kok, JT Manders, CB Prinsloo, RJ Rust, AC Swanepoel, JF van der Merwe, oudl Daniel Esterhuizen en me Elna Esterhuizen.
Die NHKA Mentorskap-program is besig om ten volle geïmplementeer te word. Mentorskap gebeur in verskeie werkruimtes spontaan tussen kollegas. Kollegas leer by mekaar en vorm mekaar se gedrag konstant. Advies en ondersteuning gebeur onderling sonder dat hierdie verhouding noodwendig meganies/instrumenteel gereël word. In enige werkruimte bestaan gestruktureerde mentorskap uit die verhouding tussen ’n minder ervare individu (mentee) en ’n meer ervare persoon (mentor), met as doel die persoonlike en professionele groei van die mentee.
Proponente en jong predikante word na ’n gemeente beroep waar hulle alleen en selfstandig moet funksioneer. Hulle staar verskeie uitdagings in die gesig en moet eerstehands met moeilike kwessies handel. Die predikant word onmiddellik blootgestel aan die bestuur van die gemeente, sonder dat hy/sy die nodige bestuurs- en finansiële opleiding gedurende hul teologiestudies ontvang het. ’n Formele mentorskapprogram help die predikant om beter te oriënteer ten opsigte van sy/haar werkplek. Die nodige ondersteuning help om seker te maak dat hulle suksesvol en gelukkig is. Mentorskap is een van die hulpmiddels wat jong predikante beter voorberei vir hulle dienswerk in gemeentes. Ontwikkeling en begeleiding gebeur in ’n veilige en ondersteunende omgewing waar mentees hulle volle potensiaal bereik.

2. TOERUSTING, BEGELEIDING EN FASILITERING
Projekspan: Dr JP Bester (koördineerder) in samewerking met prof WA Dreyer, drr PJ Jacobs, MJ Jansen van Rensburg, WA Strydom, DJC van Wyk (jr), di D Barnard, ME Beukes, HJ Celliers, J Coetzee, PJ Jacobs, HS Joubert, TF Joubert, WJJ Kok, CB Prinsloo, G Rocher, RJ Rust, JBMH van Schalkwyk, CJ van Wyk en GF van Wyk.
Die SGB was tussen die 72ste en 73ste AKV op die een of ander wyse betrokke by 25% van die gemeentes van die NHKA. Ingrypende veranderinge noop gemeentes en kerkrade om bepaalde aanpassings te oorweeg. Hierdie aanpassings gebeur deur fasilitering heen en strek dikwels oor ’n periode van 24 tot 36 maande. Die SGB handel dikwels op diagnostiese en simptomatiese vlak met sake terwyl daar onmiddellik ook dieper sistemiese kwessies is wat aandag nodig het. Dit neem tyd om sinvol en konstruktief met gemeentes ’n pad te stap. Kerkrade en gemeentes is dikwels haastig om deur bepaalde stroomversnellings te kom en die sogenaamde krisis onder beheer te kry. Die opbou van die gemeente is allereers ’n teologiese aangeleentheid: Bouwerk in die gemeente/Kerk dui op ’n besondere wyse na die herstellende werk en begenadigde handelinge van God. Laasgenoemde vra na ’n dieper luister en besig wees met die Woord van God waar gelowiges in ’n bepaalde ruimte deur Hom aan mekaar verbind is.
Konstante navorsing en netwerk met die groter Kerk en ander opleidingsinstansies maak dit vir die SGB moontlik om in die begeleiding van gemeentes relevant te bly.
Toerusting sluit die geloofsvorming ten opsigte van die jeug / jong volwassenes in, toerusting en ontwikkeling van lidmate en ampsdraers, navorsing insake die algemene priesterskap van die gelowiges, en hoe lidmate van die Kerk kan deelneem aan die bediening van die evangelie. Die toerusting van ouderlinge vir hulle dienswerk in die gemeentes geniet tans aandag.

3. TRAUMANETWERK
Projekspan: Dr JM van Staden (koördineerder).
Die Traumanetwerk wat bestaan uit verskeie kerk-genootskappe, landbou-, trauma en burgerregte-organisasies, is besig om ’n gratis toepassing (app) te ontwikkel wat via Play Store en I-store afgelaai kan word om vinnige en korrekte inligting te verskaf van ontlonters, beraders, nooddienste, streekleiers van landbou-organisasies en AfriForum se trauma-eenheid, die beskikbaarstelling van YouTube-video’s wat inligting bevat oor trauma en die genesing na trauma, en mededelings van alle betrokke organisasies. Meer inligting sal tydens die 73ste AKV beskikbaar gestel word.
Slegs opgeleide en geregistreerde beraders en traumaspesialiste sal die NHKA by die Traumanetwerk verteenwoordig. Predikante word sterk aangemoedig om hulle registrasie vir dié doel by onder andere CPSC en ander ooreengekome instansies af te handel.

4. INTERIMBEDIENING
Projekspan: Dr JG Janse van Rensburg (koördineerder) in samewerking met drr FJ Labuschagne en JP Bester.
Elke gemeente binne die werkruimte van die NHKA is tans in die een of ander oorgangsfase. Die begeleiding van gemeentes in tussenin- spasies is die ruimte waar die Interimbedieningspan hulle werk doen. Dit is ‘n uitdagende fase in die lewe van die plaaslike gemeente aangesien koersaanpassing onafwendbaar is. Doelgerigte en intensionele interimbediening help gemeentes om met die verlede te handel, die hede te interpreteer en vir die toekoms te beplan. Dit is uitdagende tye, maar ook tyd vir groei. Uitdagings gedurende hierdie tyd kom van binne en van buite die gemeente. Die Interimbedieningspan ondersteun gemeentes om hulle identiteit en roeping te herontdek. Voortgesette navorsing is ’n kritieke komponent van hierdie diensveld.
Die proses vir registrasie by die IMN (Interim Ministry Network, VSA) is deurgevoer, en die NHKA het geaffilieer as lid. Die voortgesette toerusting en opleiding van brugpredikante sal in die toekoms ook vanuit die NHKA se unieke verbintenis met IMN gebeur. Ons ontvang reeds weekliks navorsing en geleenthede om te benut – https://imnedu.org/.

5. MEDIASIE
Projekspan: Dr JC van der Merwe (koördineerder) in samewerking met ds HMJ Kramer.
Mediasie is ’n vrywillige en aanpasbare proses van die SGB wat binne die gees van kerkwees en op ’n kerklike wyse tussen gelowiges plaasvind. Soms verbrokkel verhoudings tussen gelowiges sodanig dat alternatiewe opsies met die oog op bemiddeling benut word om sake te reël. Die span hanteer kwessies waar mediasie ’n vreedsame uitkoms teweeg kan bring. Hierdie dienste is vir alle lidmate, predikante en gemeentes van die Kerk beskikbaar.
Waar spanning en konflik tussen kollegas, spanning in huwelike van kollegas en/of spanning tussen leraars en kerkrade ontstaan, is dit raadsaam om vroegtydig van mediasie gebruik te maak.

6. BEGELEIDING VAN PREDIKANTE
Projekspan: Ds JF van der Merwe (koördineerder) in samewerking met dr FJ Labuschagne.
Die SGB het dit goed gedink om ’n retreat te reël vir alle predikante wat 0 tot 5 en 20 tot 25 jaar diens het. Die bedoeling hiervan is om die predikante jaarliks (siklus van drie jaar) in twee groepe te ontmoet vir saamkuier en rus. Die ontmoeting beloof om ’n lewensverrykende ervaring te wees vir die predikant en sy/haar reisgenoot. Die bediening stel voortdurend hoë eise aan die predikant en sy/haar gesin. Die temas wat behandel word, het ten doel om saamwees en ontmoeting te optimaliseer, terwyl stilte en rus ’n integrale deel uitmaak van die program.
Die betrokkenes ontvang ’n werkboek (gebaseer op die boek van Geri Scazzero, The Emotionally Healthy Woman, Eight things you have to quit to change your life) wat die volgende temas volledig vervat:
- Inleiding
- Wees die beste weergawe van jouself.
- Two halves of Life (Carl Jung).
- Hou op daarmee!
- Agt temas soos vervat in The Emotionally Healthy Woman
- Formulering van manifes
- Die Enneagram is ’n stelsel van nege persoonlikhede wat help om gesprekke dinamies in te rig.

7. FINANSIES EN ADMINISTRASIE
Projekspan: Mnr Johan Hattingh (koördineerder).
Die Kerk ontvang deur die goedheid van God stoflike middele om sy roeping uit te voer. Dié aanhef tot Ordereël 9 bepaal verder dat die Kerk op verantwoordelike wyse toesig en beheer oor sy hulpbronne en bates moet uitoefen. Toesig oor die finansies, hulpbronne, bates en ander kerklike goedere van gemeentes, ringe en die Kerk behels die ordelike beheer daarvan en die nakoming van bepalings, voorskrifte en besluite oor besittings en verpligtinge. Predikante, gemeentes en ringe is toenemend verantwoordelik vir bepaalde sake wat deur regulasies en wette (van binne en buite die Kerk) beheer word.
Toerusting ten opsigte van rekenkundige en ouditfunksies gebeur deurlopend. Korporatiewe beheer is ’n essensiële element van rentmeesterskap / korporatiewe burgerskap en ook van toepassing op werkruimtes van die NHKA. Gesonde korporatiewe beheer/rentmeesterskap veronderstel ’n begrip dat geen organisasie in isolasie bestaan nie. Die King IV™ Kode bevat beginsels en praktyke wat enige organisasie ondersteun om vanuit die perspektief van nakoming en bestuur meer effektief en verantwoordelik te lei.
Die SGB rus gemeentes toe om op verantwoordelike wyse na hulle stoflike middele om te sien. Gesonde finansiële en administratiewe bestuur is binne die werkruimte van die NHKA een van die vereistes van kerkwees.
Die Nakomingsraamwerk sal na afloop van die 73ste AKV geïmplementeer word. Toerusting insake hierdie raamwerk en die verantwoordelikhede wat die raamwerk tot gevolg het, sal in ’n kursus omskep en aangebied word.

8. STREEKFASILITEERDER
Projekspan: Dr FJ Labuschagne (koördineerder) in samewerking met prof WA Dreyer, drr PJ Jacobs, MJ Jansen van Rensburg, WA Strydom, DJC van Wyk (jr), di D Barnard, ME Beukes, HJ Celliers, J Coetzee, PJ Jacobs, H’S Joubert, TF Joubert, WJJ Kok, CB Prinsloo, G Rocher, RJ Rust, JBMH van Schalkwyk, CJ van Wyk en GF van Wyk.
Om die bediening oraloor effektief, koste-effektief en volhoubaar te laat gebeur, maak die Kerk van streek-fasiliteerders gebruik wat vanuit die perspektief van prosesbegeleiding en inter-vensie die nodige begeleiding en toerusting doen.
Streekfasiliteerders konsulteer en motiveer gemeentes om vanuit ’n sterk roepingsbewussyn hoopvol te leef. Fasilitering gebeur met die oog op die herontwikkeling en ondersteuning van lidmate, gemeentes en ringe. Daar is baie beweging op die radarskerm. Gemeentes het nodig om bepaalde aanpassings te oorweeg. Die samestelling en dinamika van plaaslike gemeenskappe het die afgelope drie dekades radikaal verander. Die sogenaamde normale profiel van ’n gemeente binne die werkruimte van die NHKA is nie noodwendig relevant vir die mense van ons omgewing nie. Die Kerk het behoefte aan gemeentes wat in voeling leef met verarmde, toenemende ontkerkte en multikulturele kontekste. Streekfasiliteerders is toegerus met spesifieke vaardighede om gemeentes in oorgangsfases te begelei.
Die toerusting van ouderlinge is ’n saak van hoë prioriteit vir die NHKA waar die Kommissie van die AKV die SGB reeds versoek het om ’n kursus (aan die hand van resente en relevante temas) met die oog op die opleiding en toerusting van ouderlinge te ontwikkel. Die werkopdrag en dus ook die volledige spektrum van werksaamhede waarby die ouderling by die dienswerk van die plaaslike gemeente betrokke kan raak, word volledig in die Kerkorde uiteengesit. Benewens ’n goed geformuleerde werkopdrag, is dit kritiek belangrik dat ouderlinge om verskeie redes verantwoordelikheid vir die bediening aanvaar.

9. NCLS KERKSPIEëLNAVORSING
Projekspan: Ds GF van Wyk (koördineerder) in samewerking met dr JP Bester.
Kerkspieël is ’n vierjaar-likse projek en help kerke in die nadenke oor die Kerk en gemeentes se rol en funksionering. Die Hervormde Kerk het aan Kerkspieël 2014 en 2018 deelgeneem, en die resultate van hierdie ondersoek was van groot waarde vir die Kerk. Kerkspieël is ’n geleentheid om deur ’n wetenskaplike ondersoek ’n geheelbeeld van die Kerk te kry en die hartklop van die gemeente te hoor. Die resultate was ook van groot waarde om nie alleen tendense in die Kerk en gemeenskap waar te neem nie, maar om dit te benut in doelgerigte beplanning met die oog op dinamiese en volhoubare bediening. Die Kerk kan dus ook in 2022 met groot vrug gebruik maak van die resultate van hierdie navorsin.
Die navorsing gebeur deurgaans op twee vlakke:
- Die Gemeente-opname doen navraag oor ’n wye verskeidenheid aspekte van die gemeentelike bediening, asook die demografie en funksionering van die gemeente. Dit help om te verstaan waarmee ons besig is en behoort te wees. Die resultate bied ’n beeld van die Hervormde Kerk en is nuttig vir sinodale leierskap om doelgerigte beplanning te doen met die oog op dinamiese en volhoubare bediening in die Kerk. Dit is om laasgenoemde rede vir die Hervormde Kerk belangrik dat elke gemeente aan hierdie opname sal deelneem.
- Die tweede deel van die ondersoek staan bekend as die Erediensbywoner-opname (NCLS-opname). Dit vra na die hartklop van die gemeente deur te fokus op die roepingsverstaan en kultuur van die gemeente, en hoe lidmate die gemeente beleef. Hierdie deel van die ondersoek wil spesifiek aan lidmate die geleentheid bied om hulle stem te laat hoor. Die resultate sal vir gemeentes nuttig wees om doelgerig te beplan met die oog op dinamiese en volhoubare bediening.
Die resultate ten opsigte van elke deelnemende gemeente is aan die gemeentes gestuur en die samevattende verslag oor die Kerk in die geheel, is saamgevat in artikels soos gepubliseer in Die Hervormer en kan ook op navraag beskikbaar gestel word. Die volgende tendense wat op grond van die Kerkspieël navorsing afgelei is, word aan die 73ste AKV voorgehou vir behandeling:
- Lidmate het behoefte aan verandering en om hulle gawes in die plaaslike gemeente diensbaar stel.
- Die gemiddelde ouderdom van die lidmate (55 jaar) toon aan dat die NHKA steeds ’n verouderende Kerk is.
- Die statistieke toon aan dat nuwe betrokkenheid by gemeentes van die Kerk afneem.
- Visie en innovasie: 80% het aangedui dat hulle by nuwe inisiatiewe met betrekking tot die bediening en roeping betrokke sal raak.
- Lidmate van die NHKA toon ’n geringe openheid om na buite gerig en in die gemeenskap betrokke te wees. Die verband tussen Kerk en gemeenskap is gering.
- Handhaaf ’n dominant eksklusiewe sosiale kultuur.
- Ongeveer 50% van die lidmate van die NHKA is nie seker oor wat hulle gawes met betrekking tot die bediening van die gemeente beteken en waar hulle in dié verband inpas nie, terwyl een derde aangedui het dat hulle meer by die bediening betrokke wil wees.
- Ongeveer 75% van die lidmate van die NHKA bestee ongeveer elke dag tyd aan gebed, Bybelstudie en meditasie, terwyl slegs 15% gemaklik is om oor hulle geloof met ander te praat.
- Slegs 31% identifiseer met die roeping (visie, missie en rigting) van die plaaslike gemeente.
- Ongeveer 50% van die respondente het aangedui dat hulle ’n gevoel van behoort (belonging) in hulle gemeentes ervaar.
Die profiel van deelnemende gemeentes word verwerk om ’n profiel van die Hervormde Kerk daar te stel. Die SGB gebruik die resultate van die navorsing in die beplanning en begeleiding van gemeentes as deel van die strategie vir volhoubare bediening.

10. ONTWIKKELINGSPROGRAM
Projekspan: Dr FJ Labuschagne (koördineerder) in samewerking met drr A Botha, JP Bester, SM de Beer, RA Denton, AG Ungerer, JC van der Merwe, JM van Staden, di JM Bevolo-Manders, TF Dreyer (Malelane), JT Manders, L Prinsloo en me Elna Esterhuizen.
Die NHKA het ’n ontwikkelingsprogram vir predikante gevestig waar die Kerk na die voortgesette ontwikkeling van predikante omsien. Predikante word versoek om te alle tye bewus te wees van die omvang van die bediening (scope of practice) soos vervat in die etiese kode vir predikante. Die rol en funksie van die predikant het die afgelope jare soos dié van vele ander beroepe ontwikkel en verander. Die werkomgewing bly skuif en die behoeftes van ons mense bly verander. Die eise wat hierdie unieke tyd aan predikante stel, bly hoog. Persoonlike groei en selfsorg is van kritieke belang, terwyl die predikante voortdurend bewus bly van eie persoonlike problematiek, gebrek aan kennis, vooroordele of ’n ingesteldheid wat hul bevoegdheid mag belemmer om in diens van God en God se Koninkryk te staan, of wat interaksie met ander mag belemmer.
Ten einde ’n effektiewe en geïntegreerde oplossing daar te stel vir die komplekse werkomgewing van die predikant, is dit nodig om ’n rolbeskrywing van ’n predikant in ’n bepaalde gemeente en konteks te ontwikkel. Die geïdentifiseerde bekwaamhede word met die oog op ’n vervulde bediening verder ontwikkel. Bekwaamhede word dus geassesseer met die oog op die voortgesette ontwikkeling en optimale funksionering van die predikant. Die NHKA Predikante-ontwikkelingsprogram is ’n vrywillige proses wat sensitief, eerlik en met die nodige vertroulikheid hanteer word.
Tydens ’n Sentrum is die deelnemer die leraar van ’n denkbeeldige gemeente binne ’n denkbeeldige gemeenskap. In ’n veilige, nie-bedreigende ruimte word deur rolspel van tipiese gemeentelike scenario’s, evaluering gedoen van agt bekwaamhede. Ons reken dat die volgende bekwaamhede belangrik is in die mondering van ’n predikant in die bediening:
- Afrigting en mentorskap/begeleiding.
- Besluitneming (wat probleem-oplossing insluit).
- Effektiewe kommunikasie en konflik-hantering.
- Emosionele selfbestuur.
- Leierskap (wat verantwoordbaarheid insluit).
- Beplanning en implementering.
- Denkvermoë.
- Geestelike volwassenheid.
Die begeleiers is behoorlik opgelei en toegerus in die meetinstrument wat die assessering van gedrag ten doel het. Die assessering van die bekwaamhede bepaal wat in die ontwikkeling van die predikant verder gebeur. Verskeie kursusse en ander ontwikkelingsgeleenthede word vanuit die bekwaamhede ontwikkel. Gegewe die dinamiese aard van mense en hulle unieke vaardighede, funksioneer predikante op verskillende vlakke met hulle direkte omgewing en ander mense.
Die integrasie van opleiding en die voortgesette opleiding van predikante is van kritieke belang. Kerkeie en -spesifieke opleiding van teologiestudente gebeur via die Nagraadse Diploma (Teologie en Kerklike Bediening). Die uitsette van die kwalifikasie is gerig op gevorderde teologiese kennis en praktiese vaardighede wat voldoen aan die eise van predikantebediening.
Die voortgesette opleiding (VTT) en ontwikkeling van predikante is in ’n steeds veranderende wêreld van kritieke belang. Die rol en invloed van geloofsleiers op werkruimtes van die Kerk is bepalend vir die aanpassings wat op ’n breë front nodig is.
VBO-kursusse word met die oog op toerusting en bemagtiging op ’n gereëlde basis vanuit die SGB aangebied. Laasgenoemde vind ook in samewerking met die volgende vennote en sentra plaas: Communitas, Excelsus en Vista Akademie. Vista-kliniek het die Vista Akademie gevestig om professionele persone met die nodige vaardighede toe te rus. Die Akademie bied verskillende kursusse aan wat saamgestel is met die oog op voortgesette toerusting en ontwikkeling van professionele lui. Vista se webtuiste verwys na verskeie kort kursusse, seminare en werkwinkels wat onmiddellik beskikbaar is. Die inhoud van die kursusse (waarvoor VBO-punte verdien kan word) is sodanig gestruktureer dat die pastorale vaardighede van die predikant daardeur uitgebou kan word.
Die Akademie het ’n e-biblioteek beskikbaar waar kursusgangers die opleiding kan koop en aanlyn kan voltooi. Die aanlynkursus bestaan uit aanlynvideo’s, assesseringsvrae en ’n verslag wat as bewys van opleiding gebruik kan word. Die kursusinhoud (video’s en ander materiaal wat gebruik word) kan in lyn met die leeruitkomste van elke kursus in die deelnemers se werkomgewing toegepas word.
Praktykgerigte toerusting en die effektiewe begeleiding van predikante is die rede waarom die SGB op hierdie vlak by die Vista Akademie aansluiting vind. Die toerusting is direk gerig op sake waarmee predikante elke dag besig is. Die predikant is dikwels die eerste linie tussen die emosionele ongemak wat ’n lidmaat ervaar en enige professionele hulp wat daarna volg. Die koste verbonde aan die kursusse sal in vennootskap met elke predikant, sy/haar kerkraad en die SGB befonds word.

11. JEUGBEDIENING
Projekspan: Ds DJB Serfontein (koördineerder) in samewerking met di JM Bevolo-Manders, JT Manders, S Oxton, oudle Faan Beeslaar, Danie Beeslaar, Christo Pieterse en Rudolf Koekemoer.
NCLS Kerkspieëlnavorsing toon dat gemeentes die bediening aan die jeug en jong volwassenes as hoë prioriteit beskou. Hoe kan die geestelike vorming van huisgesinne en jong volwassenes op ’n betekenisvolle wyse gebeur?
Die Kernkomitee het die volgende merkers vir ’n strategie uitgespel om die jeug en jong volwassenes weer aan die Kerk te bind:
- Gebruik die jeug en jong volwassenes se bydrae in die Kerk om die Kerk uit te bou en op te bou.
- Leer die jeug en jong volwassenes om in die storm God se stem te hoor en te onderskei: inspirasie vir die jongmens, onderskeidingsvermoë om grys gebiede raak te sien.
- Gebruik die jong volwassenes se energie in die Kerk om eenvoudig kerk te wees.
- Lei die jongmense op in dissipelskap en leierskap. Kategese kan via nuwe interaktiewe maniere aangebied word, waar kategesehandboeke in elektroniese formaat op ’n selfoon aan die kinders beskikbaar gestel word.
Die kerngroep is veral bekommerd oor die tendens wat gerapporteer is dat in sommige gemeentes, kinders na COVID in kleiner getalle eredienste en kategese bywoon. Kinders beweeg uit na kerke waar daar groter getalle kinders bymekaar kom en waar jeugprogramme aangebied word. Die wegval van die kerkjeugaksies het ’n leemte gelaat en onafhanklike kerke wat nou jeugverenigings/aksies bedryf, trek die kinders weg uit die Hervormde Kerk en ander susterskerke. Lidmate en gemeentes moet weer opgewonde gemaak word oor die Kerk se jeugbediening.
Die Kernkomitee is, by die skryf van die verslag, besig om tiener-leiersopleiding te reël vir 2022. Dit sal plaasvind oor twee naweke, een kort voor en een kort na die 73ste AKV. Kom ons gebruik ons kinders aktief in die gemeentes. In die Hervormde Kerk geskied geestelike vorming van huisgesinne deur gesinsbediening. Hoe kan elke gesin midde-in hierdie grootskaalse ontwrigting met oorgawe aan die geestelike vorming van ons kinders deelneem? Kategese en jeugbediening maak ’n belangrike deel uit van die begeleiding van die jeug op die weg van dissipelskap, en rus die jeug toe vir hul dienswerk in die Kerk en hul getuienistaak in die wêreld. Ons Huisgeloof Skatkaart by https://nhka.org/kursusse/ is ’n produk wat gesinne help om geloofsgesprekke en -handelinge te aktiveer. Die Huisgeloof Skatkaartsleutel maak ’n unieke geloofsreis in elke kuiervertrek moontlik. Wees kreatief en betrek die hele huisgesin op elke plek en in elke spasie waar saamwees in die teenwoordigheid van God kosbare ervarings van hoop en behoort ontsluit.

12. WELSTANDSPROGRAM
Projekspan: Dr FJ Labuschagne (koördineerder) in samewerking met prof Y Dreyer, drr A Botha, RA Denton, J Nel, WA Strydom, JC van der Merwe, JM van Staden, di CJ Bezuidenhout, JP du Preez, KF Smith, FJ Redelinghuys, G Rocher, PJ Wolmarans en oudl AJP le Roux.
Die Welstandsprogram vorm na die herstruk-turering van sinodale werksaamhede deel van die diensveld van die SGB. Welstand word as ’n toestand van voorspoed omskryf. Die lewe stel soms uitdagings waarin ook die predikant en sy/haar gesin van hierdie voorspoed en vrede vervreem word. Kerkrade en lidmate word opnuut opgeroep om moeite te doen met die emosionele versorging van predikante.
Die SGB het ten diepste die behoefte om na elke predikant uit te reik in tye van nood en ontwrigting. Laasgenoemde ondersteuningsnetwerk wil ’n bydrae lewer tot die emosionele veerkragtigheid van predikante en op deurlopende basis ondersteuning bied. Alle sake wat op die welstand van die predikant betrekking het, is streng vertroulik van aard. Hulpverlening en ondersteuning geskied holisties en multidissiplinêr binne die groter raamwerk van die Welstandsprogram en sy vennote (Vista en ander dienste op ad hoc-basis). Dit is belangrik dat al die rolspelers in hierdie saak hande sal vat ten einde ons predikante, emeriti, proponente en teologiestudente, en hul gesinne, te ondersteun.
Die versorging van predikante en hul gesinne is in die eerste plek die verantwoordelikheid van die plaaslike gemeente. Daar is egter verskeie faktore wat kan veroorsaak dat predikante hulp benodig wat nie deur hul gemeentes hanteer kan word nie. Dit sluit onder andere uitdagings in ten opsigte van geestelike, emosionele en materiële welstand.
Predikante aanvaar dat selfsorg en die sorg van hul eie gesin as model dien vir gemeentelede, en sal daarom toesien dat hul eie persoonlike welsyn, asook die welsyn van hul gesin, in stand gehou word. Selfsorg is nie onderhandelbaar nie! Ons werk op professionele wyse in ’n veilige spasie met predikante en hulle gesinne.
Begeleiding en ondersteuning vanuit die SGB geskied met die oog op die optimalisering van die roeping van die predikant. Geestelike en emosionele volwassenheid word ontwikkel en met die oog op ’n gebalanseerde bediening uitgebou. Predikante word ten sterkste aanbeveel om gereeld en veral post-kwarantyn te rus ten einde na vlees en gees roepingsgetrou en vervuld te wees. Intensionele rus het ten doel om anders as gewone verlof geestelike rus voorop te stel. Dit vra dat die predikant hom-/haarself ten opsigte hiervan bly oriënteer.
Die SGB maak van verskeie rusmomente gebruik om rus en herstel te verseker:
- Retreat-sentra (Origens en Andrew Murray): Waar stilte, spasies en ’n kontemplatiewe ingesteldheid besoekers ondersteun om te rus. Gedurende ’n retreat word kollegas met vaardighede toegerus wat hulle sal help om die spanning en alledaagse uitdagings beter te hanteer.
- Pelgrimstog van Hoop (274 km vanaf Uniondale na Mosselbaai): Stap- en wandelroetes met die intensie om geestelike ritme en pas te handhaaf.
- Sabbatsrus: Slaap en rus.
- Vista-program: Welstand en welsyn het ook ’n helende en terapeutiese been waarby Vista-welsynskliniek en die ondersteuning deur ’n multidissiplinêre professionele span ingesluit is. Hierdie diens word as effektief en uiters doelmatig beskou.
- Leesprogram.
- Geestelike of geloofsgewoontes.