Twee Sondae gelede het ’n nuwe groepering gelowiges vir die eerste keer hier teen ons berg kom wortelskiet, kort na die samesmelting van ’n voorgangerbediening met nog ’n groep op die dorp. Sulke groepe kom en gaan. Eenheid is nie op hul doenlys nie. Soms groei en gedy hulle, en soms skeur daar weer van hulle ook af, weens die een of ander sensitiwiteit oor ’n ononderhandelbare beginsel of die uitspraak (die klank) van ’n woord. Dan is oorbegin van voor af weer ’n “ding”.

Daarmee saam krimp algaande ons eie Kerkie se ledetal soos wat stoele op ander plekke lekkerder sit. Dit verg net die ligste ou “mistykie” van die dominee of ’n lidmaat, ’n te kras woord vir gevoelige sentimente, en ons is nog een of twee stoere Hervormers kwyt, weliswaar om ywerig ander plekke na hul smaak te gaan hervorm.

Die nuwe groepie hier by ons het mekaar glo natgegooi dat die water spat en brood en druiwesap uitgeëet. En glo ook land en sand met die Here geklets. Van een van hulle kry ek toe nou ’n teksboodskap, glo na aanleiding van juis dié breedvoerige gesprek met God, waarin die Here sou laat blyk het Hy het groot kommer oor ons in die NHKA; ek moet dringend 1 Korintiërs 5 lees.

Nou het ek dié probleem: Dié boodskap het die kerk in Korinte al 2 000 jaar gelede gekry. Toegegee, eers sedert 1933 het dit ook in verstaanbare Afrikaans by die NHKA uitgekom. Wat maak ek nou daarmee, noudat my naam en adres daarop staan?

Ek hou my eg Hervormd dom: Konteks? vra ek beleefd, my tong rou gebyt.

Nee, as dit mos nou nie van toepassing is nie, ignoreer gerus! is die antwoord.

Ja, maar jy het gesê die boodskap kom van God af aan my persoonlik? wil ek onskuldig weet.

Nee, as die skoen nie pas nie, hou doodgewoon verby. Nie alle boodskappe wat van God kom, is in die kol nie, weet jy.

Nè? vra ek.

En moet jou nie so wip nie. Aanstoot neem, is liggeraak, weet jy, en met die liefde strydig!

Nou hang my tikvinger oor die sleutelbord. Wat gaan dit help? As iemand so rats van God korte mette maak, wat gaan nóg ’n WhatsApp van mý help? Die vinger sak. Ek kners op my tande.

Maar nou is my stryd met Paulus. Dis nie vir my om oor mense buite die gemeente te oordeel nie. God sal oor hulle oordeel. Maar Paulus het hulle dan so pas uitgehaal, mos?

Asemhalingsoefeninge later en meer in voeling met my innerlike self (lees: met my woede net-net onder bedwang), besluit ek om daar niks verder aan te doen nie. Maar vrede bring dit nie. Weet dié mense van ons iets wat ék nog moet uitvind? Tier daar regtig onder ons sulke onsedelikheid?

Die ergste van alles is dat ek al sulke gerugte gehoor het, gerugte wat ek toe uit huis uit verwerp het. Nou slaap ek snags nie.

Miskien wou ek net hier sê dat ons almal moet besef ons is prentjies van God se genade, meer van die “genade” as van “God”. Ons waarde en ons waardigheid setel nie in hoe ons is nie, maar in hoe God weet ons kan wees. Sonde sal jy by ons vind. Dit is omdat ons soort sonde die sektes nie geval nie, dat hulle om hul eie sonde saamkoek. Maar mense is, almal van ons, swaar op genade, en basta met die siening dat mense God uitbeeld. Die naaste wat ons daaraan kom, is hoe goed ons daarvan getuienis lewer dat ons God kortkom! Christus is dié Adam. Christus-gelykvormig impliseer fisiese mens vervul met die Heilige Gees van God. En ek glo vas die Heilige Gees is met ons heiligmaking druk besig. Ons is algaande aan’t mense word.

Daarmee is seksuele losbandigheid nie goedgepraat nie, en onsedelikes beslis ook nie gepaai nie. Inteendeel: Weet julle nie dat julle ’n tempel van God is, en dat die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God skade aandoen, sal God hom skade aandoen; want die tempel van God is heilig, en dié tempel is julle (1 Kor 3: 16 en 17, AFR2020).

En met dié tref dit my toe: Is dít dalk hoekom die Hervormde Kerk krimp? Doen ons die tempel van God skade aan?

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap