2020 is die Jaar van die Bybel. Dit is ook die jaar waarin die Bybelgenootskap reeds vir 200 jaar in Suid-Afrika bestaan. Die Hervormer sluit aan by die jaartema, Die Bybel bring hoop vir almal, met ’n Bybelse tydlyn wat in hierdie en die volgende uitgawes gepubliseer word. Daarmee dra ons by tot lidmate se kennis van die Bybel.
Van Eden tot Haran (Genesis 1-11)
Die Bybel is die Woord van God wat vertel van gebeure tussen God en mense, dieselfde God wat elke dag in ons lewens ingryp. Genesis 1 en 2 vertel dat God alles gemaak het en die belangrikste in die skepping, die mens: man en vrou, Adam en Eva. Hulle woon in die Tuin van Eden, en tog besluit hulle om ongehoorsaam aan God te wees. God straf hulle en hulle word uit die tuin verban. Adam en Eva se twee seuns, Kain en Abel, maak op ’n dag rusie, en Kain vermoor vir Abel en word deur God gestraf.
Die mense op aarde het meer geword en al hoe meer gesondig. God besluit om almal deur ’n groot vloed te verdelg, behalwe vir een gehoorsame man, Noag. Noag bou in opdrag van God ’n boot of ark, en Noag en sy gesin en verskillende landdiere en voëls word gered. God gee die reënboog as teken dat Hy nooit weer die mensdom deur ’n vloed sal uitwis nie. Noag se nageslag het meer geword en in Babel gewoon. Hulle besluit om ’n toringstad tot in die hemel te bou om naam te maak. God keur dit af en verwar hul taal, en die projek misluk. Die mense trek weg van mekaar en versprei. In Haran woon Abram en Sarai.
Van Haran tot Gosen (Genesis 12-50)
Abram ontvang die Goddelike opdrag om na ’n vreemde land te trek. Sy beloning sou ’n groot nageslag en die land Kanaän wees. Hy moes net God alleen dien en gehoorsaam. God sluit dus met Abram ’n verbond of ooreenkoms. Abram en Sarai was kinderloos en reeds oud. Later het Abram een seun by Hagar, naamlik Ismael, en ’n ander by Sara, naamlik Isak. Abram stuur Ismael en Hagar weg, en dié nageslag neem eeue later die Moslemgeloof aan. Isak se nageslag word Israel genoem en Jesus Christus word eeue later uit hierdie stamlyn gebore. Abraham word die vader van die gelowiges genoem.
Isak trou met Rebekka, en God herhaal sy belofte aan Isak. ’n Tweeling word gebore, naamlik Esau en Jakob. Jakob bedrieg vir Isak en ontvang die vaderlike seën wat Esau toegekom het. Jakob moes vlug, en hy eindig by Rebekka se familie in Haran. Jakob werk vir sy oom Laban. Hy raak verlief op Ragel, maar trou eers met haar suster Lea en sewe jaar later met Ragel. Jakob het 12 seuns en een dogter, Dina. Sy seuns word later die stamvaders van die 12 stamme van Israel, nadat Jakob se naam deur God na Israel verander is. God beloof ook aan Jakob ’n groot nageslag en die land Kanaän.
Jakob trek sy seun Josef voor. Uit haat verkoop sy broers hom as slaaf aan handelaars. Aan Jakob vertel hulle dat ’n wilde dier Josef verskeur het. In Egipte koop Potifar vir Josef. Die Here seën Josef. Op ’n valse aanklag beland Josef in die tronk. Hier lê hy drome uit. Die farao hoor van Josef nadat hy self ’n onverstaanbare droom gehad het wat niemand kon uitlê nie. Josef lê die farao se droom uit en word as onderkoning van Egipte aangestel.
’n Droogte in Kanaän dwing Josef se broers om kos in Egipte te gaan koop. Josef herken hulle, maar hulle weet nie wie hy is nie. Na Josef in trane vir hulle vertel wie hy is, laat hy sy vader Jakob en sy hele familie na Egipte kom. Hulle vestig hulle in Gosen.
Van Gosen tot Jerigo (Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium)
Die afstammelinge van Jakob woon en vermeerder vir eeue in Egipte. ’n Nuwe farao wat nie vir Josef geken het nie, het die Israeliete dwangarbeid laat doen en later al die seuntjies laat doodmaak. ’n Vrou het haar seuntjie in ’n mandjie tussen die riete op die Nylrivier versteek. Toe die dogter van die farao hom vind, het sy hom aangeneem en hom Moses genoem. Die jong prins Moses kies toe later teen die Egiptenare vir sy eie mense, en hy moes vlug na Midian.
Eendag verskyn God op die berg Horeb in ’n brandende bos aan Moses. God beveel Moses om die volk Israel uit Egipte na Kanaän te lei. Moses se versoek aan die farao om die Israeliete te laat trek, val op dowe ore. Die Here teister Egipte met tien plae. Na die tiende plaag, die dood van die eersgeborenes, gee die farao in, en Israel vlug onder leiding van Moses uit Egipte.
God bevry sy volk en versorg hulle op die reis deur die woestyn. By die Sinaiberg gee God aan die volk die tien gebooie en sluit weer met hulle ’n verbond. Moses ontvang voorskrifte oor verskillende offers, die tabernakel, rein en onrein dinge, die Groot Versoendag en die viering van die pasga of paasfees. Met die hulp van die Here verslaan Israel al die volke oos van die Jordaanrivier. Moses sterf op die berg Nebo, en Josua word as sy opvolger aangewys.
Van Jerigo tot Sigem (Josua en Rigters)
Van die beloftes van God het reeds waar geword. Die aartsvaders, Abraham, Isak en Jakob, het reeds ’n groot nageslag gehad, maar nog geen land om in te woon nie. Nou neem Josua die volk droogvoets deur die Jordaanrivier, en die ommuurde stad Jerigo word op ’n wonderbaarlike wyse met die hulp van die Here ingeneem. So word die meeste van die stede in Kanaän ingeneem. Die beloofde land word onder die 12 stamme verdeel. Voor Josua se dood roep hy die volk by Sigem bymekaar, en die belofte om God alleen te dien, word hernu.
Die volk raak keer op keer ontrou aan God. God straf hulle deur ’n vyand teen hulle te stuur. Die volk het later berou en roep tot die Here. God begeester ’n militêre leier wat die vyand verslaan, en die volk kon weer in vrede woon. Hierdie militêre leiers word rigters genoem, en die bekendes is Simson, Gideon, Jefta en ook ’n vrou, Debora. Nadat die Israeliete deur Ehud van die onderdrukking van koning Eglon van Moab bevry is, keer Naomi en haar skoondogter Rut terug, en Rut trou met Boas.
Van Sigem tot Jerusalem (1 Samuel tot 2 Samuel 1-5)
’n Kinderlose egpaar se gebede word verhoor en Samuel word gebore. Samuel doen diens by Eli, die hoëpriester, en volg hom later op as hoëpriester, profeet en selfs militêre leier. Onder leiding van Samuel verslaan Israel die Filistyne verpletterend. Toe Samuel oud word, het die oudste manne na hom gekom en gesê dat hulle nou ’n koning wil hê om oor hulle te regeer.
God wys Saul as eerste koning aan. Saul, aanvanklik ’n suksesvolle koning, raak geestelik versteurd. Samuel het Saul skerp tereggewys en daarna in Betlehem ’n jong seun, Dawid, onder leiding van die Here tot koning gesalf. Dawid verslaan die reus Goliat en word goeie vriende met Saul se seun Jonatan. Saul doen alles in sy vermoë om Dawid om die lewe te bring. In ’n veldtog teen die Filistyne sterf Jonatan en Saul langs mekaar. Met sy privaatleër neem Dawid Jerusalem in, en hy maak die stad die hoofstad van sy koninkryk.
(Ds Marius Venter is ’n emerituspredikant van die Kerk)

Adam
Gen 1-5

Noag
Gen 6-10

TORING VAN BABEL
Gen 11

ABRAHAM
Gen 12-21

ISAK
Gen 22-28

JAKOB
Gen 29-36

JOSEF
Gen 37-50

MOSES SE GEBOORTE
Eks 1-2

GOD OPENBAAR HOM AAN MOSES
Eks 3 – 7: 13

TIEN PLAE
Eks 7: 14 – 12: 30

INSTELLING VAN DIE PAASFEES
Eks 12

ISRAELIETE VLUG UIT EGIPTE EN GOD SORG IN WOESTYN
Eks 13-18

SINAI: MOSES ONTVANG DIE TIEN GEBOOIE
Eks 19 – 20: 1-17

OFFERS, TABERNAKEL, REIN EN ONREIN DINGE, VERSOENDAG
Eks 20: 18 – Deut 30

MOSES SE OPVOLGER: JOSUA, EN
MOSES STERF
Deut 31; 34

INTOG IN KANAÄN
Josua 1-5

INNAME VAN JERIGO EN ANDER STEDE
Josua 6-12

VERDELING VAN DIE LAND
Josua 13-22

JOSUA EN VOLK BY SIGEM
Josua 23-24

RIGTERS / VOLKSHELDE / RUT
Rigters 1-16 en Rut

GEBOORTE VAN SAMUEL
1 Sam 1 – 2: 12

ELI
1 Sam 2: 13-36

SAMUEL: PRIESTER, PROFEET EN VOLKSLEIER
1 Sam 3- 8

SAUL SE KONINGSKAP
1 Sam 9-15

SAMUEL SALF DAWID AS KONING
1 Sam 16

DAWID EN GOLIAT
1 Sam 17

SAUL, JONATAN EN DAWID
1 Sam 18-30

SAUL STERF
1 Sam 31

DAWID WORD KONING
2 Sam 1 – 5: 5

DAWID VEROWER JERUSALEM
2 Sam 5: 6-8
Illustrasies: Sweet Publishing/FreeBibleimages.org.
