Dr Wim Dreyer

Die geskiedenis van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika begin (soos reeds voorheen aangetoon) by 1824. Deur die loop van 2024 kan die Hervormde Kerk twee eeue van kerkwees in Afrika herdenk.

Die kerklike ontwikkeling na die Groot Trek is in ’n groot mate bepaal deur die staatkundige opset in Suidelike Afrika. As gevolg van die Nederlandse en Kaapse kerklike reglemente het owerheid groot seggenskap in kerklike sake gehad, en het die owerhede dikwels aan die kerk voorgeskryf hoe sy haar sake moet bestuur.

Dit was ook die geval tydens die Groot Trek en in die periode daarna. Dit blyk onder andere uit die wyse hoe die Voortrekkers aan die westekant van die Drakensberge die eerste kerkplek te Potchefstroom aangelê het. Op 1 November 1841 het kommandant AH Potgieter en ander offisiere, asook die landdros en heemrade, ’n kollektelys uitgestuur aan alle Landgenoten en mede Lee(de) maten der Hervormde kerken benevens alle Chrlstelfjke kerken van Zuid-Afrika om te vra vir bydraes vir die oprigting van ’n kerkgebou te Potchefstroom.

Die lys is nie deur ’n kerkraad onderteken nie, maar deur die owerheid van die Voortrekkers. Slegs PJ van Staden teken die dokument as kerkraadslid. Uit hierdie geskiedenis is dit duidelik dat die Potchefstroomse Adjunk Volksraad die leiding in kerklike sake geneem het, saam met die Natalse Volksraad. Die Natalse Volksraad het gedurende 1840 vir Daniel Frederik Jacobs aangewys as ouderling vir Potchefstroom, hoewel hy in die omgewing van die Suikerboschrand (tans Heidelberg) gevestig was. Tydens die sitting van die Adjunk Volksraad te Potchefstroom op 23 Februarie 1842 is die eerste kerkraadslede aangewys, het daar formeel ’n gemeente tot stand gekom en is begin met kerklike aktiwiteite.

Dieselfde proses het hom herhaal met die stigting van die gemeente te Ohrigstad/Lydenburg. In 1849 het die Volksraad die stigting van die dorp Lydenburg goedgekeur, en tegelykertyd twee ouderlinge en twee diakens aangewys wat verder die kerklike sake sou reël. Hulle het met hul werk begin sonder kerklike bevestiging, wat vanselfsprekend is omdat daar nog geen kerklike struktuur was nie.

Daarna is Gemeente Rustenburg (1850) gestig. Reeds in 1847 het Potgieter ’n dorp aan die Zoutpansberg aangelê, met die naam Zoutpansbergdorp (Schoemansdal). As gevolg van siektes en aanvalle deur swart stamme het hulle later na die huidige Pietersburg verhuis. Van die begin af was daar kerklike aktiwiteite, hoewel die lidmate aanvanklik onder Gemeente Rustenburg geressorteer het. Teen 1852 is daar ’n gemeente gevorm, waarin die owerheid ’n groot aandeel gehad het. So het daar tot en met 1852 vier gemeentes in die Transvaal tot stand gekom. In al hierdie gemeentestigtings het die owerheid ’n belangrike aandeel gehad.

Die gemeentes in die Transvaal het nie los van mekaar gefunksioneer nie, want daar is vanaf 1853 gesamentlike kerkraadsvergaderings gehou. Daaruit blyk dat die vroeë inwoners van die Transvaalse kerk, op voetspoor van Wilhelmus á Brakel, die kerk op ’n organiese wyse verstaan het. Dit beteken dat die plaaslike gemeentes organies aan ander gemeentes verbind en dat die gemeentes almal saam één kerk vorm – in die geval van die Transvaal sou dit aanvanklik die Nederduitsch Hervormde Kerk wees.

Die Britse owerheid het die Transvaalse Voortrekkers, alhoewel hulle buite die grense van die Kaapkolonie was en hul eie regering gehad het, steeds as onderdane van die Britse kroon beskou. Op 17 Januarie 1852 is daar egter aan die walle van die Sandrivier ’n ooreenkoms tussen die Britse owerheid en die Voortrekkers gesluit, waarmee die staatkundige selfstandigheid en selfregering van die emigrante ten noorde van die Vaalrivier erken is. Hierdie ooreenkoms, die Sandrivier-konvensie, was die resultaat van weldeurdagte optrede en diplomasie van Andries Pretorius, en liberalisering van die politiek in Brittanje.

Die Konvensie van Sandrivier was ’n radikale wending in Britse beleid. Die resultaat was selfbeskikking vir die Voortrekkers. Wat hierdie gebeure veral besonders maak, is die feit dat die Punishment Act van 1836 die grense van die Britse gesag beskryf het as to the Southward of the Twenty Fifth Degree of South Latitude. Die Voortrekkers was dus nog grootliks binne die verklaarde invloedsfeer van die Britse Ryk. Dit is ook onder normale omstandighede onwettig, selfs onmoontlik, vir ’n groep om hulle van die staat af te skei en ’n eie staat te vorm. So ’n afskeiding gaan gewoonlik met geweld gepaard. Die Sandrivier-konvensie het meegebring dat op ’n vreedsame wyse erkenning aan ’n republiek noord van die Vaalrivier gegee is.

Dit kan natuurlik ook wees dat die Britse owerheid nie gedink het daar sal veel van die selfstandige republiek kom nie, want hulle het nie ’n baie hoë dunk van die Voortrekkers gehad nie. Wat hulle betref, was dit ’n groep onopgevoede en onkundige mense, en die nuwe “staat” was gedoem tot ondergang. In werklikheid was daar ’n betreklike klomp kennis en politieke insig onder die Voortrekkers teenwoordig. Hulle was onder andere bewus van die Franse Rewolusie, die Bataafse Rewolusie in Nederland en die Amerikaanse vryheidstryd. Die gevolg is dat daar baie vinnig aan ’n Grondwet gewerk is. Dit is in 1858 gepubliseer.

In ’n volgende aflewering sal ’n bietjie dieper ingegaan word op die politieke denke wat die 1858 Grondwet beïnvloed het. Die Grondwet het ook bepaal dat die Nederduitsch Hervormde Kerk de kerk van de staat sou wees – dus staatskerk.

(Dr Wim Dreyer is ’n dosent aan UP se Fakulteit Teologie en Religie)

 

Share via
Copy link
Powered by Social Snap