In die vorige aflewering is gekyk na die vestiging van die NG Kerk in die Zuid-Afrikaansche Republiek onder leiding van ds Frans Lion Cachet. In hierdie aflewering kom die Vereniging van die Hervormde Kerk en die NG Kerk (1885-1886) ter sprake.
Die afskeiding van die Gereformeerde Kerke (1859) en die vestiging van NG gemeentes onder leiding van ds Frans Lion Cachet vanaf 1866 in die Transvaal was vir die Hervormde Kerk (as staatskerk van die ZAR) gevoelige slae. Ten spyte daarvan het die Hervormde Kerk die grootste kerk in die Transvaal gebly, en is daar tussen 1860 en 1880 tien nuwe gemeentes gestig.
As gevolg van dié gebeure het daar ’n vreemde situasie in die ZAR ontstaan. In ’n baie klein Voortrekkergemeenskap het daar drie kerke met dieselfde Bybel, belydenisskrifte, taal en gemeenskaplike erfgoed langs mekaar bestaan.
In 1880 breek die Eerste Vryheidsoorlog uit. Nadat die Boeremagte die Britse troepe tydens die Slag van Majuba verslaan het en die ZAR se politieke vryheid herstel is, het ’n nuutgevonde eenheidsgevoel opgevlam. Vanselfsprekend het die politieke eenheidsgevoel ook deurgewerk na die kerklike terrein. Reeds met die AKV van 1878 is daar na kerkvereniging verwys. Met die AKV van November 1881 het ds Bosman van Pretoria voorbrand gemaak vir kerkvereniging, deur ’n beskrywingspunt in te handig dat lidmaatskap van die ander kerke in die Transvaal erken moet word, as voorbereiding vir kerkvereniging.
Tydens dieselfde vergadering het ’n brief van die skriba van die NG Kerk gedien, waarin voorgestel word dat die twee Kerke persone afvaardig om ’n moontlike vereniging te bespreek. Dit was slegs die twee Kerke wat ter sprake was, aangesien die Gereformeerde Kerk van die begin af nie begerig was om te verenig nie. Die twee predikante wat deur die Hervormde Kerk benoem is, was di Van Warmelo van Heidelberg en Ackermann van Wakkerstroom. Die NG Kerk het di HL Neethling van Utrecht en HJ Neethling van Lydenburg afgevaardig. Vyf ouderlinge uit elke Kerk is ook benoem.
Die Kommissie het van 31 Oktober tot 8 November 1882 vergader. Uit die notule blyk dit dat oor belangrike sake soos die leer maklik en vinnig ooreenstemming bereik is, maar dat die Kerk se naam ’n hewige debat ontketen het. Ds Neethling van Utrecht het kategories beweer dat die naam Hervormd gekies is om liberale leer te kon indra in die Kerk, en die onafhanklikheid van die Kaapse Sinode net vir een doel gehandhaaf is, en dit is om vrysinnige leer te verkondig. Oor dié sake is dae lank debat gevoer en dis telkens van Hervormde kant betwis. Die Hervormde Kerk het die NG Kerk daarvan beskuldig dat die Kerk onwettig van die Hervormde Kerk afgeskei het. Verskeie kere is daarop gewys dat Hervormd die naam van die moederkerk in Nederland was en is.
Na verdere onderhandelinge en vergaderings is die vereniging van die Kerke in die loop van 1885 deur albei Kerke goedgekeur. Dat daar nog geen werklike eensgesindheid tussen die Kerke bestaan het nie, is nie te betwyfel nie. Lidmate van die Hervormde Kerk was om verskeie redes ontevrede met die kerkvereniging en wou nie met die Verenigde Kerk saamgaan nie. Enkele van die redes is die volgende:
- Dit was veral die politieke leiers (om politieke redes) wat die eenwording bevorder het. Die saak is in die openbare pers bepleit. Dit is te betwyfel of die lidmate regtig in eenwording belanggestel het.
- Al die onderhandelinge en besluite het op sinodevlak Die gemeentes was nooit betrokke in die onderhandelinge nie. Selfs die memories wat gemeentes oor die saak by die AKV ingehandig het, is afgewys.
- Na die kerkvereniging moes NG en Hervormde gemeentes op plaaslike vlak saamsmelt, wat aanleiding gegee het tot onverkwiklike twiste.
- Die aanbevelings van die Kommissie is met akklamasie en sonder diskussie deur die AKV aanvaar. Die afgevaardigdes het ook nie geleentheid gehad om die stukke voor die vergadering te bestudeer nie.
- Nog ’n rede vir die mislukking was die optrede en uitsprake van predikante soos ds HL Neethling van die NG Kerk, wat openlik vyandig teenoor Hervormde lidmate was en geweier het om hul kinders te doop. Dit het baie lidmate van die proses vervreem.
- Daar was ook verskille in lewensbeskouing. Die Hervormde Kerk was oorwegend republikeinsgesind, terwyl verskeie NG predikante (soos ds Bosman) Engelsgesind was. Later sou ds MJ Goddefroy hierin die grootste rede vind vir die mislukking van die kerkvereniging.
- Die naam van die Verenigde Kerk was vir baie Hervormde lidmate onaanvaarbaar. Aanvanklik is besluit dat die vasstelling van die naam ’n paar jaar uitgestel sou word. Die AKV van die Verenigde Kerk het die proses bespoedig en reeds in 1889 besluit om die naam vas te stel as die Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde Kerk.
Met die eerste vergadering van die Verenigde Kerk is al die gemeentes gelys wat verenig, maar die Konsulents-gemeente van Pretoria se naam en afgevaardigdes is nie genoem nie. Daarop is hulle na die gemeente terug, en het die kerkraad besluit om die gevoel van die gemeente te toets, of hulle wel deel wou wees van die Verenigde Kerk. Op 13 en 14 Februarie 1886 het die gemeente sy gewone kerklike vieringe gehad onder leiding van ds Smits, die konsulent. Die gemeentevergaderings van die afdelings Witfontein sowel as Rhenosterpoort het eenparig besluit dat hulle nie verenig nie.
Die kerkraad van die Konsulentsgemeente het op 23 April 1886 weer vergader. ’n Memorie, met die handtekeninge van 230 manslidmate van ander gemeentes wat vra vir aansluiting by die gemeente, is ook bespreek. Daar was talle lidmate wat nie met die kerkvereniging wou saamgaan nie. Daarop het die vergadering die volgende besluit geneem:
…zoo besluit de vergadering, met goedkeuring van de Gemeente, te zyn en blyfven leden van de Nederduitsch-Hervormde Kerk in de ZuidAfrikaansche Republiek, met al derzelver regten daaraan verbonden, zooals dezelvde zyn vastgesteld in artt. 20 en 24 der Grondwet, en bij de wetten en bepalingen der Ned. Herv. Kerk…
Die kerkraad het aan die owerheid kennis gegee van sy besluit. In reaksie besluit die Uitvoerende Raad op 26 Mei 1886 dat –
- die Raad kennis neem van die korrespondensie van die Verenigde Kerk sowel as van die Ned Hervormde Kerk;
- die Volksraad alles in sy vermoë sal doen om die onderskeie vergaderings en kerke in hul werk te ondersteun;
- die staat steeds sy verpligting teenoor predikante sal nakom en die traktemente sal betaal; en
- in die omstandighede die Volksraad nie meer aan een kerk die voorreg kan verleen om Kerk van den Staat te wees nie.
Daarmee het die Hervormde Kerk sy posisie as staatskerk verloor. Regter JG Kotze het in die hofsaak van 1892 verklaar dat die owerheid met hierdie skrywe die Konsulentsgemeente van Pretoria erken het as die voortsetting van die Hervormde Kerk. Die Kerk het dus nooit ophou bestaan nie. Hy het wel sowat ’n derde van sy lidmate verloor na die Verenigde Kerk, ’n verdere gevoelige slag vir die Hervormde Kerk.
(Prof Wim Dreyer is medeprofessor aan UP se Departement Historiese en Sistematiese Teologie)