In hierdie aflewering val die fokus op die verwoesting van land en kerk tydens die Tweede Anglo-Boereoorlog.

Na die ontwrigting van die mislukte kerkvereniging (1885-1886) breek die Tweede Vryheidsoorlog in 1899 uit. Die Hervormde Kerk het na die kerkvereniging slegs vyf diensdoende predikante gehad, te wete CW du Toit van Potchefstroom, MJ Goddefroy van Pretoria, Jac van Belkum van Rustenburg, J Beyer van Standerton en A Murray van Ventersdorp. Verskeie gemeentes het op die punt gestaan om te beroep, onder andere Marico, Heidelberg, Zoutpansberg, Klerksdorp en Middelburg. Daar was vooruitsigte dat die Nederduitsch Hervormde Kerk kragtig kon vooruitgaan. Die ideaal is deur die uitbreek van die oorlog verwoes.

Ds Goddefroy is saam met Boeremagte na Natal, waar hy verskeie veldslagte beleef het. Hy het ’n groot rooi kruis op sy muilewa geverf, en oral waar hy gekom het, het hy die evangelie verkondig, gewondes en siekes versorg en begrafnis gehou. Nadat die oorlog met die val van Pretoria sy tweede fase ingegaan het, het Goddefroy na die Waterberge gegaan waar hy en sy gesin op die plaas van Faan Viljoen gebly het. Vandaar het hy die Boeremagte in Noord-Transvaal besoek en die evangelie aan hulle bedien. In die loop van die oorlog het ds Goddefroy malaria opgedoen, wat sy gesondheid geknou het tot die einde van sy lewe.

Ds Goddefroy is uiteindelik deur die Britse magte gevang en as krygsgevangene na die konsentrasiekamp in Trichinopoly in Indië gestuur. Ds Goddefroy se seun, ’n lid van die verkennerskorps van Danie Theron, het tydens die oorlog aan maagkoors gesterf. Twee van sy ander seuns, Anton en Marius, is ook gevang en na konsentrasiekampe gestuur. Daar is Marius op verdagte wyse deur ’n kampwag doodgeskiet. Die oorlog het ’n geweldige negatiewe effek op ds Goddefroy gehad en hy het lank na die oorlog nog met sy gesondheid en depressie geworstel.

Ds Beyer het in 1900 sy ontslag as predikant van die Hervormde Kerk gevra, en hy het na Europa teruggekeer. Hy is na Portugal waar hy die Boere-krygsgevangenes wat daar in konsentrasiekampe aangehou is, met die evangelie bedien het.

Ds Van Belkum is na die konsentrasiekamp te Merebank naby Durban gestuur. Nadat vrede in 1902 gesluit is, was byna al die huise op die platteland afgebrand. Ds Jac van Belkum skryf in 1903 aan ds WP Rousseau in Pietermaritzburg, en vermeld dat in die distrik van Rustenburg slegs 20 huise ongeskonde gebly het.

Die Britse magte het tydens die oorlog kerkgeboue verwoes. Die kerkgebou op Dullstroom is byvoorbeeld as ’n perdestal gebruik, nadat al die banke uitgeruk en vir brandhout gebruik is. Nadat die Britse magte Dullstroom ontruim het, is die kerkgebou aan die brand gesteek. Gemeentes is uiteen gedwing. Juis die Hervormde Kerk, as Transvaalse kerk, is swaar getref deur die oorlog en die gepaardgaande verlies aan eiendom en lewens.

In die konsentrasiekampe het 27 827 van die 118 000 wat daar aangehou is, gesterf. Daarvan was 22 074 kinders jonger as 16 jaar. Daarby sterf 4 177 vroue, 155 mans ouer as 16 jaar en 1 421 mans ouer as 60 jaar. Swart plaaswerkers is in aparte kampe aangehou waar die omstandighede nog swakker was, en duisende het gesterf. Die totale syfer van mense wat tydens die oorlog in kampe gesterf het, is nog onbekend. Die gebruik van konsentrasiekampe is deur Britse propaganda aangebied as ’n manier om weerlose vroue en kinders van die plase weg te neem en te beskerm teen oorlog en aanvalle. Tegelykertyd is die Boere voorgestel as maar net ’n bietjie beter as diere. ’n Tipiese voorbeeld is ’n artikel wat in die Indian Planters Gazette verskyn het en waarin die volgende van die Boere gesê word:

Not only should the Boer be slain, but slain with the same ruthlessness they slay a plague-infected rat. Exeter Hall may shriek, but blood there will be and plenty of it, and the more the better. The Boer resistance will further this plan, and enable us to find the excuse that Imperial Great Britain is fiercely anxious for the excuse to blot the Boers out as a nation, to turn their land into a vast shamble, and remove their name from the muster-roll of South Africa.

 Die konsentrasiekampe en verskroeideaardebeleid was effektief en het die Boere tot oorgawe gedwing. Die oorlog eindig op 31 Mei 1902 met die Vrede van Vereeniging. Dit is voorafgegaan deur uitvoerige samesprekings en ’n meningsopname onder die burgers op kommando. Politieke vryheid is deur leiers (predikante en politieke leiers soos MT Steyn) gesien as ’n gawe van God wat nie sonder meer prysgegee mag word nie. Dit het meegebring dat daar op die samesprekings by Vereeniging steeds verdeeldheid was of vrede gesluit moes word. Louis Botha het gepleit vir vrede in die aangesig van uiters moeilike omstandighede. Christiaan de Wet se standpunt was dat die oorlog ’n geloofsaak was. Koos de la Rey, onoorwonne in Wes-Transvaal, was geskok deur die omstandighede van die ander kommando’s. Sy argument ten gunste van vrede was deurslaggewend, naamlik dat die bitter einde reeds aangebreek het met die verlies aan plase, gesinne, vroue – en kinderlewens.

 Die Vrede van Vereeniging word op 31 Mei 1902 in Melrose Huis in Pretoria geteken. Al wat toe oorbly, was dat die burgers hul wapens moes neerlê en ’n verklaring onderteken waarin die ooreenkoms van Vereeniging op 31 Mei 1902 aanvaar word en koning Edward VII as wettige vors erken word. Daar was 21 256 bittereinders en 3 437 Kaapse rebelle wat die wapen neergelê het. Ongeveer 27 000 krygsgevangenes het uit interneringskampe teruggekeer.

Die oorlog was ’n vernietigende slag vir die Hervormde Kerk. Duisende lidmate van die Kerk het in die konsentrasiekampe en op die slagvelde gesterf. Na die oorlog het hulle in totale armoede en verwaarlosing geleef. Slegs 9 000 lidmate van die Hervormde Kerk het die oorlog oorleef. Die Tweede Anglo-Boereoorlog het ongeveer 25% van die Afrikaners wat burgers was van die Republieke van Transvaal en die Vrystaat uitgewis. Dit kan in terme van hedendaagse definisies as ’n volksmoord (genocide) geklassifiseer word. Na die oorlog is met groot moeite en opoffering gewerk om die Hervormde Kerk weer op te bou, maar dit sou etlike jare duur voordat die Kerk weer normaal kon funksioneer.

(Prof Wim Dreyer is medeprofessor aan UP se Departement Historiese en Sistematiese Teologie)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap