In hierdie aflewering fokus ons op die armoede en rebellie van die Afrikaners ná die Tweede Anglo-Boereoorlog, en ander sosiale vraagstukke.

Na die Tweede Anglo-Boereoorlog was die Afrikaners verarm. Plase was verwoes, en baie het na die stede verhuis. Geleidelik het die plattelandse Afrikaners verstedelik. Die pro-ses het tot in die 1950’s stelselmatig versnel. Verstedeliking was vir sommige ’n uitkoms en het die moontlikheid geskep om inkomste te genereer; vir ander het dit volslae armoede beteken. Slegs ds LE Brandt het vanaf 1908 en ds JJ Kuhn vanaf 1909 in Johannesburg gewerk, asook ds SJ Strydom van 1914 tot 1919 in Krugersdorp. Dit het meegebring dat die Hervormde Kerk nie ’n groot rol in die stad gespeel het nie. Die Kerk het as plattelandse kerk bly funksioneer, hoewel baie lidmate verstedelik het.

Die eerste groot mynstaking het in die loop van 1913 plaasgevind. 63 myne en meer as 18 000 mynwerkers, insluitend Hervormde lidmate, was daarby betrokke. Die stakers het betreklik gou handuit geruk, sodat die regering die geleentheid gekry het om dit met geweld te onderdruk. Gedurende 1913 het De Hervormer oor hierdie stakings kommentaar gelewer, die skade wat aangerig is sterk beklemtoon en die anargistiese ondertone van die staking aangedui. Met die argument dat die staking ’n oortreding van die landswette was, het ds LE Brandt die staking skerp afgewys. Hy het sy steun toegesê aan die stigting van ’n Christelike Werkliede Vereniging asook ’n Christelike Arbeidersparty. In De Hervormer van Desember 1918 skryf Oom Sarel oor die sosialisme en hoe die Kerk die arbeiders verwaarloos het.

In 1914 breek die Eerste Wêreldoorlog uit, en ’n rebellie in Suid-Afrika. Nadat Engeland die Unie van Suid-Afrika versoek het om die hawens van Duits Suidwes-Afrika en die hoofstad Windhoek te beset om so die Duitse radiostasies te neutraliseer, tree die Unie tot die oorlog toe. Genl Botha het op 9 September 1914 die parlement oortuig om geld daarvoor te bewillig. Genl Manie Maritz het egter op 20 Oktober 1914 oor die grens getrek en hom by die Duitsers aangesluit en die herstel van die onafhanklikheid van die Boererepublieke aangekondig. Maritz is gevolg deur genl De Wet in die Vrystaat, genl Kemp en genl Beyers in Wes-Transvaal, en genl Muller in Oos-Transvaal. Kemp het met 600 man deur die Kalahari getrek om by Maritz in die Noord-Kaap aan te sluit. Na enkele skermutselings met regeringstroepe, het Kemp hom op 24 Januarie 1915 oorgegee. Na die gevangeneming van De Wet en die dood van Beyers was die rebellie verby.

In die distrik Pretoria het kapt Jopie Fourie nog weerstand gebied met ’n klein kommando, insluitend twee Hervormde predikante, te wete HCM Fourie en HD van Broekhuizen. Jopie Fourie moes ook oorgee, maar omdat hy nie formeel as sol-daat bedank het voordat hy aan die rebellie deelgeneem het nie, is hy deur ’n krygshof skuldig bevind en op 20 Desember in die tronk in Pretoria deur ’n vuurpeloton tereggestel. In totaal het 190 rebelle gesneuwel, terwyl 132 regeringstroepe dood is. Baie is in die tronk opgesluit. Afrikaners dwarsdeur Suid-Afrika het op alle maniere geld ingesamel om daarmee ook solidariteit met die rebelle te toon. Nadat die fonds in November 1917 ongeveer £750 000 uitbetaal het aan boetes en ander eise teen die rebelle, was daar nog £90 000 oor. Die sukses van die Helpmekaarfonds het indirek gelei tot die oprigting van die twee versekeringsmaatskappye, Santam en Sanlam, asook Helpmekaar Skool.

Die oorlog is gevolg deur ’n gevaarlike griepepidemie wat in talle lande verwoesting gesaai het. Die uitgebreide lyste begrafnis- en doodskennisgewings in De Hervormer en ’n vertroostende Herderlike Skrywe van die Kommissie van die AKV van Desember 1918, wys hoe groot die impak van hierdie epidemie was. In De Hervormer van November 1918 het ds Van Belkum geskryf dat daar byna geen familie in Suid-Afrika was wat nie geliefdes aan die Spaanse Griep afgestaan het nie. In sommige gevalle is hele gesinne uitgewis. Die duisende weeskinders wat agtergelaat is, het die kerke genoop om weeshuise te vestig. Dit was die begin van barmhartigheidsdiens wat sinodaal bestuur is.

Voor en selfs direk na die Anglo-Boereoorlog is weeskinders deur familie versorg. Die omvang van die griepepidemie het veroorsaak dat dit onmoontlik geword het om weeskinders in die familiekring te versorg. In die stad het die verskynsel van verwaarloosde kinders al hoe meer na vore gekom. In Januarie 1923 het die Kommissie van die AKV ’n skenking van £500 van mnr J Groenevelt van Pretoria ontvang vir die oprigting van ’n weeshuis.

Tydens die AKV van 1916 het die vergadering oor die verarmde Afrikaners gehandel. Die vergadering het daarvan kennis geneem dat daar sowat 50 000 armblankes was wat onder die broodlyn geleef het. Die AKV het nie enige formele besluite in hierdie verband geneem nie, maar die saak van armoede is die eerste maal op die agenda van die AKV geplaas en daar is gevra dat almal daaraan aandag moet gee. Die uitdaging was egter dat gemeentes finansieel bitter swaar gekry het.

Die ekonomiese verval onder Afrikaners en die Kerk het in die 1930’s ʼn dieptepunt bereik nadat die aandelebeurs in New York in 1929 in duie gestort het. Die ekonomiese ramp het ook na Suid-Afrika deurgewerk en ’n krisis veroorsaak. Die Witwatersrand is gekenmerk deur krotbuurte wat as “Blikkiesdorp” bekend gestaan het omdat die strukture van sinkplaat en afval-boumateriaal gebou is. Wit en swart en bruin gesinne het langs mekaar gewoon. Geleidelik is die krotbuurte opgeruim en alternatiewe behuising is aan verarmdes beskikbaar gestel. Dit was die begin van die sogenaamde “lokasies”.

Sosiale wetenskaplikes soos dr EG Malherbe het die Carnegie-korporasie in die VSA oorreed om ’n ondersoek na die armblankeprobleem te finansier. In 1932 het die beheerraad, wat die ondersoek gelei het, vyf omvattende verslae gepubliseer. In opvolging van die Carnegie-verslag is in Oktober 1934 ’n Volkskongres oor die Armblankevraagstuk deur die Armsorgraad van die NG Kerk gehou. Baie lidmate van die Hervormde Kerk was daarby betrokke. Van die strategiese besluite wat daar geneem is, het ingesluit om onderwys en opleiding te bevorder. As gevolg hiervan het heelwat Afrikaners beurse gekry om in die buiteland te studeer, tot op doktorale vlak. Hieruit het ekonomiese bemagtiging voortgespruit wat daartoe gelei het dat die Afrikanergemeenskap ná die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) toenemend welvarend geword het.

(Prof Wim Dreyer is medeprofessor aan UP se Departement Historiese en Sistematiese Teologie)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap