In hierdie aflewering kyk ons na die vooruitgang en verval in die geledere van die Hervormde Kerk.

Na die verwoesting van die Tweede Anglo-Boereoorlog het die Hervormde Kerk geleidelik sterker geword. Dit was die resultaat van beter bearbeiding, organisasie en ’n hoë geboortesyfer.

In 1879 het die Hervormde Kerk uit 6 predikante, 12 gemeentes en 9 000 belydende lidmate bestaan. In 1903 het die Hervormde Kerk uit 20 gemeentes en (steeds) 9 000 lidmate bestaan, wat deur 4 predikante bedien is. Die gebrek aan groei tussen 1879 en 1903 is grootliks te wyte aan die getal Hervormde lidmate wat tydens die oorlog gesterf het. In 1909 het die Algemene Kerkvergadering daarvan kennis geneem dat die getal predikante tot 11 en die ledetal tot

11 000 gestyg het. Gevolglik is besluit om die Hervormde Kerk in drie ringe verdeel. Die Noordelike Ring het 6 gemeentes gehad, die Westelike Ring 7, en die Oostelike Ring ook 7. In 1928 het die getal belydende lidmate tot 22 000 verdubbel, die dooplidmate het vermeerder tot meer as 30 000, en die getal gemeentes het tot 53 gestyg. Aan die einde van die 1920’s is die Hervormde Kerk deur 29 predikante bedien.

In 1917 het die Hervormde Kerk ook die waagstuk aangegaan om met ’n eie teologiese opleiding aan die Universiteit van Pretoria te begin. Drie Hervormde professore het aanvanklik diens gedoen, te wete proff JHJA Greyvenstein, HP Wolmarans en SP Engelbrecht. Teen 1930 is reeds die helfte van die diensdoende predikante aan die Kerk se eie opleiding opgelei. Van hulle was ds PJJ Venter, wat in 1921 predikant van Lichtenburg geword het, die eerste. In 1924 is die Van der Hoff Teologiese Vereniging gevestig. CH Rautenbach (die latere rektor van UP) en PW Venter is onderskeidelik as die eerste praeses en abactus van Van der Hoff verkies.

Die AKV van 1922, na ’n voorstel van dr HCM Fourie, het besluit om die naam van die Kerk te verander na Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, in plaas van Suid-Afrika. Dit is gedoen om erkenning te gee aan die gemeentes in Angola, Oos-Afrika, Rhodesië (Zimbabwe) en Suidwes (Namibië). Die naam van die Kerk is doelbewus aangepas om die geografiese verspreiding van die Hervormde Kerk in Afrika te weerspieël.

Die sinodale administrasie is in die 1920’s gevestig. Aan-vanklik was mnr HJLT Roorda, wat in Johannesburg gevestig was, die administrateur van die Hervormde Kerk. Aan die einde van 1928 het hy afgetree en is hy deur mnr JHH Janson opgevolg, wat op 1 Januarie 1929 as administrateur in diens van die Kerk getree het. Die kantoor van die administrateur is toe verplaas na die Erasmusgebou op Kerkplein in Pretoria. Mnr Janson het die Kerk as administrateur gedien tot aan die einde van 1955. In 1959 is ’n doelmatige sinodale sentrum (die Dirk van der Hoffgebou) opgerig. Mnre AB van N Herbst, L de Munnik, JF Viljoen en E Struwig het vervolgens as administrateurs van die Hervormde Kerk gedien.

Daar was nie net groei nie – die effek van sekularisasie en kerkverlating het reeds sigbaar geword. In De Hervormer van 15 Augustus 1921 word betoog dat wij hebben een groot deel lidmaten die innerlik los zijn van de Kerk en alleen nog maar door de oude gewoonten en een zeker conservatisme tot de kerk behooren. In Januarie 1923 betoog De Hervormer dat die Hervormde Kerk bestaan in een tijd waarin men, tengevolge van de algemeene onverschilligheid tegenover de godsdienst en Christendom, maar al te vaak met minachting, ja zelfs met verachting nederziet op de Evangeliebediening en men beschouwt haar veelal als iets dat eigenlik in onze dagen overtollig, en daarom best gemist kan worden.

Reeds in daardie tyd het die Pinksterbeweging bepaalde invloed begin uitoefen en waarsku De Hervormer dat wij zullen dit doel niet bereiken door veranderingen in onze godsdienstoefeningen, door speciale Evangelieprediking of opwekkingsdiensten die heel weinig hebben uitgewerkt in Zuid-Afrika. Wij prediken Christus en dien as gekruisige.

Ondanks die beklemtoning van die noodsaaklikheid van evangelisasie, kla ds DF Erasmus nog in De Hervormer (November 1927) dat die Hervormde Kerk op sedelike gebied ’n droewige tyd belewe, ’n tyd van swak geloof, veragterde liefde en sedelike verslapping. Sondagsontheiliging en ’n oordrewe sportgees lei tot ’n oppervlakkige lewens- en wêreldbeskouing, wat weer deurwerk na die verwaarlosing van die huisgesin, huwelik, huisgodsdiens en persoonlike verantwoordelikheidsbesef.

Die depressie en droogte rondom 1933 en die gepaard-gaande armoede het die Kerk swaar getref. Ds PJJ Venter skryf in ’n ringsverslag van 1922 (let wel, in Afrikaans): Weens die depressie dan, is dit nie te verwonder nie, dat so te sê al die gemeentes skuld in een of ander vorm het. Ja, as die omstandighede in sommige distrikte in ag geneem word, sou mens kon verwag dat daar meer skuld sou gewees het.

“Oom Sarel” kom in De Hervormer (Januarie 1925, nog in Nederlands) tot die gevolgtrekking dat die Hervormde Kerk se geskiedenis as staatskerk van die ZAR veroorsaak het dat lidmate nie gewoond daaraan was om offergawes te gee en kerklik selfversorgend te wees nie. So is daar op verskillende maniere geworstel met die finansies, die tekorte wat ontstaan het en die verantwoordelikheid om die armes te versorg.

’n Neweverskynsel van die armoede waarin Afrikaners gedompel is, was alkoholisme, wat weer bygedra het tot die verbrokkeling van huwelike, asook kinderverwaarlosing. Dit was veral op die delwerye van Wes-Transvaal en in die krotbuurte van die Witwatersrand dat dit voorgekom het.

Dit is in hierdie tyd dat die waarde van opvoeding en onderwys as ’n teenvoeter vir armoede en verval op die agenda van kerklike vergaderings gekom het. Oor dekades was onderwys en opleiding ’n sentrale tema in kerklike vergaderings, omdat dit as die enigste langtermynoplossing vir armoede gesien is. Geld is ingesamel om begaafde studente te ondersteun. Talle van hulle het in Europa en die VSA nagraadse studie voltooi, en na Suid-Afrika teruggekom om hul kennis en vaardighede in verskillende sektore tot voordeel van Suid-Afrika en die Kerk aan te wend. 

(Prof Wim Dreyer is medeprofessor aan UP se Departement Historiese en Sistematiese Teologie)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap