Die geskiedenis van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika begin by 1824. Deur die loop van 2024 kan die Hervormde Kerk twee eeue van kerkwees in Afrika herdenk. In hierdie aflewering kyk ons na die NHKA as staatskerk van die ZAR.

Die Voortrekkerera is formeel afgesluit met die Sandrivier-konvensie (17 Januarie 1852), toe Groot Brittanje die gebied noord van die Vaalrivier as soewereine staat erken het. Daarmee het die Voortrekkers hul ideaal van politieke selfbeskikking en vryheid bereik. Die Transvaalse Republiek is aanvanklik volgens die Drie-en-dertig Artikels regeer, maar aangesien dit onvoldoende was, het daar spoedig ’n behoefte aan ’n grondwet ontstaan. Die Volksraad het op 18 September 1855 ’n kommissie aangewys om een ontwerp van wetten te maken.

Die kommissie het  bestaan uit SJP Kruger, HS Bosman, HS Lombardt, HBL Klopper, AP van der Walt, DH Botha, GJ Kruger en J Stuart. Op 6 November 1855 het die kommissie die eerste konsepwetgewing met 327 artikels aan die Volksraad voorgelê. Die opskrif van die konsepwetgewing lui Nieuwe Wetten voor de Hollandsche Afrikanen benoorden de Vaal Rivier. Die Nieuwe Wetten omskryf die Hervormde Kerk se posisie in die ZAR breedvoerig.

Die volgende artikels raak die kerk direk:

Artikel 20: …de Nederduitsch-Hervormde Kerk zal de kerk van de Staat zyn.

Artikel 23: Het volk wil zyne Nederduitsch Hervormde godsdienst, zoo als die in de jaren 1618 en 1619 door de synode te Dordrecht is vasgesteld, behouden.

Artikel 25: Het zal geene andere vertegenwoordigers in den volksraad aanstellen, dan degenen die  lidmaten der Nederduitsch Hervormde gemeente zyn.

Artikel 26: Het erkent geen ander kerkelyk gezag dan dat, wat door kerkeraden zyner Ned. Hervormde gemeenten is of wordt goedgekeurd, aangenomen en vasgesteld.

Artikel 29: Het volk verlangt de opbouw, bloei en welvaart van kerk en staat en uit dien hoofde, voorziening in de behoefte aan Ned. Hervormde predikanten en schoolonderwyzers.

(SA Argiefstukke Tvl.no.3:382)

Omdat niemand van Lydenburg in die kommissie gedien het nie, wou Lydenburg nie die Nieuwe Wetten van 1855 erken of aanvaar nie. Dit het veroorsaak dat die Volksraad in November 1855 die goedkeuring daarvan uitgestel het. Daarop het ds Van der Hoff bedank as predikant van die Hervormde Kerk en as rede het hy die wetteloosheid van die land aangegee. So het hy kerklike druk uitgeoefen om die wette aanvaar te kry. Die Volksraad het hom ingeroep en hom beboet met 100 riksdaalders, waarop Van der Hoff sy bedanking teruggetrek het. Die Volksraad het as gevolg van sy optrede besluit om die Nieuwe Wetten voorlopig goed te keur, met dien verstande dat die publiek eers geleentheid sou kry om kommentaar te lewer.

Na hierdie besluite het generaals MW Pretorius en TF Dreyer deur die ZAR gereis om die Nieuwe Wetten, asook die nie-inlywing van die Hervormde Kerk by die Kaapse Sinode, met die publiek te bespreek. Die uiteinde van hierdie vergaderings was dat besluit is om ’n volkskongres te hou op 16 Desember 1856, wat die Grondwet sou finaliseer. Elke veldkornetskap het een verteenwoordiger gestuur. Die 24 persone het in Potchefstroom byeengekom, en nadat die nodige veranderinge aangebring is, is dit op 5 Januarie 1857 as Grondwet aanvaar. Hierdie 1857-weergawe verskil, wat die Kerk betref, alleen in die nommering.

Ds Van der Hoff het hom beywer vir die staatkundige ontwikkeling en bestendiging van die jong republiek. Nie net het hy die amptelike plegtighede waargeneem deur die president en al die volksraadslede in te sweer nie, maar hy het ook die Vierkleur ontwerp en ’n vlaglied gekomponeer. By verskillende geleenthede het hy toesprake gehou om die staatkundige eenheid te bevorder. So het hy sy invloed as predikant gebruik om die lidmate van die Kerk tot eensgesindheid en die aanvaarding van die nuwe wette aan te moedig.

Die nuwe Grondwet is aan die Sesde AKV, wat op 24 Februarie 1857 spesiaal vir die doel in Pretoria vergader het, voorgelê. Dit is belangrik om daarop te let dat die AKV hierdie landswette bekragtig en onderteken het – iets wat op sigself ’n buitengewone handelswyse was. Met hierdie optrede word die unieke en noue verbintenis tussen kerk, volk en owerheid in die ZAR duidelik sigbaar. Die AKV het eenparig die Grondwet goedgekeur en onderteken.

Die finale Grondwet is op 5 Maart 1858 in die Staatskoerant gepubliseer, onder die titel Grondwet van de Zuid-Afrikaansche Republiek. Dit is duidelik dat die Transvaalse Afrikanen oortuigde republikeine was. Die heel eerste artikel van die Grondwet stel dit duidelik dat die regeringsvorm van deze maatschappy zal zyn Republikeinsch. Hand aan hand met die republikeinse ideaal, loop die strewe na staatkundige vryheid wat in verskillende artikels aan die orde kom. Vir die Afrikaners in Transvaal was selfbeskikking en politieke vryheid die hoogste ideaal.

Verskeie artikels begin met die woorde het volk wil. Die volk, en nie die individu nie, was die kern van die Transvaalse Afrikaners se politieke denke, want die volk is soewerein en die hoogste gesag. Daarom is belangrike kwessies gereeld na volksvergaderings verwys vir besluitneming.

Die Grondwet van die ZAR vertoon ook duidelik Calvinistiese tendense. Die uitdruklike verwysing na die Sinode van Dordt (1618-1619) in Artikel 23 van die 1858 Grondwet was ’n doelbewuste poging om die Hervormde Kerk te posisioneer as ’n kerk wat in die gereformeerde tradisie staan. Dit kon ook gebruik word om die beskuldigings vanuit die Kaap dat die Hervormde Kerk vrysinnigheid en leervryheid duld, te neutraliseer.

(Prof Wim Dreyer is medeprofessor aan UP se Departement Historiese en Sistematiese Teologie)

af
af
Deel met behulp van
Copy link