In die vorige bydrae is genoem dat daar bepaalde spanningslyne in die Hervormde Kerk en teologie sigbaar geword het. In die 1950’s en 1960’s is hierdie spanningslyne hoofsaaklik deur die politiek vererger, asook deur verskille ten opsigte van die Ekumeniese Beweging en Ekumeniese Teologie.
Ná die bewindsaanvaarding van die Nasionale Party in 1948 beleef Suid-Afrika ’n periode van ongekende ekonomiese groei. Hierdie tydperk is verder gekenmerk deur groeiende Afrikaner-nasionalisme, Suid-Afrika se ontkoppeling van die Britse Ryk en die deurvoer van ’n reeks wette wat die rasse- en sosiale verhoudings in die land moes reguleer. Dit was juis in reaksie op die sogenaamde apartheidswetgewing dat spanning in die Kerk, maar veral in die Fakulteit Teologie, toegeneem het.
In 1955 dien daar ’n wetsontwerp in die Parlement om die Senaat te vergroot. Dit was bedoel om aan die regering die nodige meerderheid te besorg om bruin mense van die algemene kieserslys te verwyder. Proff SP Engelbrecht en AS Geyser het albei ’n petisie onderteken wat die wetsontwerp teenstaan. Hierdie ondertekening het deur middel van verskeie briewe onder die aandag van die Algemene Kommissie gekom, wat ’n verklaring uitgereik het wat die Hervormde Kerk van die optrede van Engelbrecht en Geyser gedistansieer het. Engelbrecht en Geyser het die Kommissie van die AKV op hul beurt ingelig dat hulle regsadvies ingewin het en geadviseer is dat die verklaring lasterlik kan wees. Daar het niks van hierdie hofaksie gekom nie, maar wys op die spanningslyne wat deur die politiek die Kerk ingedra is.
Die politieke spanning het gereeld opgevlam, veral rondom die persoon van prof Geyser wat in 1956, 1957 en 1960 aangespreek is oor sy politieke optrede. Die partypolitieke verdeeldheid was sodanig dat ’n rapport wat by die Kuratorium gedien het, die stand van sake in baie skerp taal beskryf: Daar leef ’n aansteeklike besmetting in die Kerk wat nie meer geïsoleerd voorkom nie; en wat nie geïsoleer kan word nie… Die opleiding is siek; daarom is die predikantekorps siek; daarom is die kerk siek… Van hierdie siekte was en is geslag na geslag professore, predikante en studente erfgename, slagoffers, produkte en verspreiders.
Dit was nie net die interne politieke spanning in Suid-Afrika wat die Kerk geteister het nie; die ontluikende Ekumeniese Teologie en Ekumeniese Beweging se skerp teenkanting teen apartheidswetgewing het die situasie vererger. Die Ekumeniese Beweging se oorsprong is te vind in die groot sendingberaad te Edinburgh in 1910. Dit het egter spoed begin kry met die stigting van die Wêreldraad van Kerke (WRK) in Amsterdam in 1948. Die Hervormde Kerk was van die begin af lid van die WRK, alhoewel daar reeds in 1954 ernstige beswaar gemaak is teen die teologiese oriëntasie van die beweging, onder andere deur prof HP Wolmarans.
Die Hervormde Kerk het voorbehoude gehad ten opsigte van die Ekumeniese Beweging se verskraalde antropologie en verstaan van God se koninkryk. Die Hervormde Kerk het groot aanklank gevind by Karl Barth se teologie en sy waarskuwing dat die mens se plan en God se plan nie verwar of gelykgestel moet word nie. Barth het tydens die stigting van die WRK in 1948 in Amsterdam gewaarsku dat die ekumene en koninkryk van God nie ’n tipe Christelike Marshall-plan is nie, verwysend na die Amerikaanse plan om Europa op te hef ná die vernietiging van die Tweede Wêreldoorlog. Die WRK het veral teen rassisme te velde getrek. By die WRK se vergadering te Evanston (1954) is ten opsigte van rassisme verklaar dat any form of segregation based on race, colour or ethnic origin is contrary to the gospel, and is incompatible with the Christian doctrine of man and with the nature of the Church of Christ.
Te midde van al hierdie politieke en kerklike woelinge het die gebeure by Sharpeville plaasgevind toe die polisie 67 betogers doodgeskiet het. Dit het hewige reaksie uit die binneland en buiteland ontlok. Die WRK het daarop gereageer deur ’n konferensie oor rasseverhoudinge in Suid-Afrika te reël. Die weeklange konferensie het op 7 Desember 1960 te Cottesloe (Johannesburg) sitting geneem. Die 80 afgevaardigdes het bestaan uit tien verteenwoordigers van agt lidkerke van die WRK.
Elke kerk moes ’n memorandum opstel om die spesifieke kerk se denke ten opsigte van politiek, ekonomie, kultuur en kerk te artikuleer. Die Hervormde Kerk was van mening dat segregasie ’n werkbare model is om volkereverhoudings in Suid-Afrikaanse te struktureer. Daar was ook ander standpunte in die Kerk, soos blyk uit die verskyning van die boek Vertraagde Aksie, waarin Hervormde predikante en teoloë soos AS Geyser, A van Selms, MJ Redelinghuys en J Stutterheim bydraes gelewer het.
Die Cottesloe-beraad het hoofsaaklik gegaan oor kwessies soos gemengde huwelike, grondbesit en medeseggenskap in die regering, en die politieke status van die bruin mense. Aanvanklik was die atmosfeer beleef en mettertyd het ’n sekere kollegialiteit ontstaan tussen die afgevaardigdes. Die Hervormde Kerk neem egter nie hieraan deel nie. Visser ’t Hooft van die WRK sê by geleentheid: Alleen de Hervormde Kerk zaten altyd alleen aan een tafeltje apart, en die bekende Allan Paton beskryf dit soos volg: They came to Cottesloe to oppose any attempt by Christians to dilute the powerful essence of apartheid with the milk of sentimentality and false love. I record that to me their faces were hard and unloving. Their God was the God of Judgment and Punishment.
Die Cottesloe-beraad het enorme beroering veroorsaak en is wyd bespreek in die pers. Beyers Naude stel: There is going to be a split in the NGK, a tremendous battle. Either the concerned Christians who are taking the biblical, or verligte side will eventually be forced out of the NGK, or you will see thousands of conservative white members leaving the NGK and joining the Hervormde Kerk.
Binne die teologie van die Hervormde Kerk was daar na die Cottesloe-beraad twee duidelike strome. Aan die een kant was daar die groep wat Artikel III en volkskerk ondersteun het, asook ’n meer konfessionele teologie bevorder het. Aan die ander kant was daar ’n groepering wat Artikel III wou afskaf, en ’n groter openheid ten opsigte van die Ekumeniese Beweging behou het.
Hierdie spanningslyne het in die daaropvolgende jare ’n hoogtepunt bereik met die klag van dwaalleer wat teen prof Geyser gemaak is. In die volgende aflewering kyk ons na die Hervormde Kerk se teologie in die smeltkroes van stormagtige tye.
(Ds Willem Dreyer is leraar in Delareyville)