In die vorige aflewering is aangetoon dat daar binne die teologie van die Hervormde Kerk twee duidelike strome was. Aan die een kant was daar ’n groep teoloë en predikante wat Artikel III van die Kerkwet (wat lidmaatskap tot blankes beperk) en volkskerk ondersteun het, asook ’n meer konfessionele teologie bevorder het. Aan die ander kant was daar ’n groepering wat Artikel III wou afskaf, en ’n groter openheid ten opsigte van die Ekumeniese Beweging behou het.

Hierdie spanningslyne het in die daaropvolgende jare ’n hoogtepunt bereik met die klag van dwaalleer wat teen prof Albert Geyser gemaak is.

’n Jaar na die Cottesloe-beraad in Oktober 1961 het die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering ’n klag van dwaalleer teen prof AS Geyser aangehoor. Die klag is gelê deur drie studente van Geyser. Hulle het Geyser beskuldig van ’n afwykende Christologie (die leerstuk aangaande Christus), Pneumatologie (die leerstuk aangaande die Heilige Gees) en Ekklesiologie (die leerstuk aangaande die kerk).

Die saak het ’n lang aanloop gehad. Toe die 53ste AKV op 9 Maart 1961 byeenkom, het ’n voorstel van Geyser gedien dat Artikel III van die 1951 Kerkwet aan die Skrif getoets moet word deur ’n paneel van eksegete. Tydens dieselfde vergadering het ook ’n verslag van proff Wolmarans, Pont, Oberholzer, Van Rensburg en Engelbrecht oor Artikel III gedien. Geyser het die verslag verwerp aangesien die persone wat dit opgestel het na sy opinie nie eksegete was nie.

Hierdie optrede van Geyser het veroorsaak dat daar byna onhoudbare spanning rondom Geyser in die Fakulteit gegroei het. Geyser is deur die Kommissie van die AKV aan dwaalleer skuldig bevind, maar slegs ten opsigte van ’n afwykende Christologie. Hy is ook uit sy pos as dosent aan die Universiteit van Pretoria onthef.

In die uitspraak van die Kommissie van die AKV is die eg reformatoriese standpunt van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika gehandhaaf, naamlik dat die Skrif vry van belydenisdwang is. Dit beteken dat die Bybel belangriker as die belydenisskrifte is, en dat die eksegeet nie deur die belydenisskrifte gedwing word om tot ’n bepaalde gevolgtrekking te kom nie. Dit beteken egter nie dat die Hervormde Kerk leervryheid beoefen het nie.

Geyser het hom tot die hooggeregshof gewend om sy skuldigbevinding en afsetting as hoogleraar te betwis. Die hof het hom gelyk gegee, en die Hervormde Kerk moes hom weer in sy pos aanstel. Die verhoudings in die Fakulteit het egter so versleg dat die studente geweier het om sy lesings by te woon. Uiteindelik het Geyser geswig onder die druk van die rektor, en het hy bedank as dosent. Hy het daarna ’n pos wat die Universiteit van die Witwatersrand vir hom geskep het, aanvaar.

Geyser het egter aangebly as predikant van die Hervormde Kerk en voortgegaan met sy stryd teen apartheid. Hy het ook betrokke gebly by die Ekumeniese Beweging en het onder andere die Mindolo-beraad van die Wêreldraad van Kerke bygewoon, waar apartheid veroordeel is. Dit het gelei tot ’n hernude vlaag van kritiek teen Geyser, onder andere in Die Hervormer.

Prof AD Pont het veral besonder skerp teenoor die Ekumeniese Beweging en Geyser gereageer, tot so ’n mate dat Geyser hom vir laster gedagvaar het. Geyser se lastereis het in die hooggeregshof gedraai en was weer eens suksesvol.

Prof Pont het egter tot so ’n mate die ondersteuning van die breër Kerk geniet dat ds AJ Nolte, voorsitter van die AKV, in ’n verklaring in die Transvaler gestel het dat die kerk oortuig daarvan is dat professor Pont met al die artikels net die beste belang van die kerk en volk wou dien. Op grond daarvan het ons die vrymoedigheid om van alle kante steun vir professor Pont te vra.

Die ondersteuning waarna ds Nolte verwys het, het gelei tot die ontstaan van die HCM Fourie Stigting, wat gehelp het om geld in te samel om die lastereis te betaal. Dit het egter ook die gevolg gehad dat Geyser uit die Hervormde Kerk bedank het omdat hy teleurgesteld was dat die Kerk nie teen Pont opgetree het nie. Volgens prof Casper Labuschagne, ’n vriend van Geyser, was hierdie openbare uitspraak van ds Nolte die direkte oorsaak dat Geyser as predikant en lidmaat van die Hervormde Kerk bedank het.

Prof Adrianus van Selms het dieselfde gedoen. Van Selms het teenoor Beeld verklaar: Dit is vir my onmoontlik om lidmaat te wees van ’n kerk wat hom vereenselwig met die optrede van professor Pont. Hervormde dosente soos proff BJ van der Merwe en JAAA Stoop van Unisa; A Geyser, A van Selms en CJ Labuschagne van die Universiteit van Pretoria; en predikante soos di JA  Swanepoel en JJ Coetsee, het uit die Kerk bedank.

Na die Geyser-saak was die verharding van standpunte in die Hervormde Kerk merkbaar. Artikel III en volkskerk is met groot oortuiging gehandhaaf, en daar is veral groot klem op die belydenisskrifte geplaas. Bybels-reformatoriese teologie het toenemend in ’n meer konfessionele rigting beweeg.

Die Kerk kon immers nie ’n persoon aan dwaalleer skuldig bevind en dan vrylik met die belydenisskrifte omgaan nie. Die Hervormde Kerk het, wat die teologie betref, toenemend haar tradisionele middelposisie tussen ortodoksie en vrysinnigheid verlaat en ’n meer konfessionele standpunt ingeneem.

Die Geyser-saak en die daaropvolgende lastersaak was die hoogtepunt van die teologiese spanning in die Fakulteit en die Hervormde Kerk. Die spanning tussen die meer konfessionele rigting en dié wat groter diversiteit voorstaan, het egter voortgeduur. Die en masse-bedanking van lidmate en predikante uit die Kerk ná die Geyser-gebeure het veroorsaak dat die konfessionele rigting, asook ’n meer konserwatiewe ingesteldheid, die oorhand in die Hervormde Kerk gekry het.

Dié teologiese denkrigting word in ’n volgende aflewering bespreek.

(Ds Willem Dreyer is leraar in Delareyville)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap