Hervormde teologie word dikwels beskryf as Bybels-reformatoriese teologie. Die term word gebruik om Hervormde teologie te onderskei van die meer algemene term Gereformeerde teologie.
Ander Afrikaanse kerke in Suid-Afrika gebruik weer doelbewus die term Gereformeerd. Hierdie teologiese verskille is grootliks verantwoordelik vir die verskille wat daar tussen die Hervormde Kerk, NG Kerk, Gereformeerde Kerke en die Afrikaanse Protestantse Kerk bestaan.
Dié teologiese verskille is vanuit Nederland na Suid-Afrika oorgedra. Sedert die Gereformeerdes die eerste keer in die 1830’s en weer in die 1880’s onder leiding van Abraham Kuyper van die Nederlands Hervormde Kerk afgeskei het, was daar aan albei kante groot gewag gemaak van teologiese verskille. Kuyper se denke is veral deur Totius (prof JD du Toit) in die Gereformeerde Kerke ingedra.
Die Gereformeerdes in Nederland het die Hervormers beskuldig van liberalisme, en hulle beroep op die streng onderhouding van die belydenisskrifte en veral die Dordtse Leerreëls. Die uitverkiesingsleer het vir baie die toetssteen van regsinnigheid geword. Ook in Suid-Afrika het die sogenaamde “naamstryd” gewoed. Moes die Kerk “Hervormd” of “Gereformeerd” heet? Toe die Voortrekkers in Transvaal die naam “Hervormd” in die 1858 Grondwet van die ZAR verskans, was daar onmiddellik reaksie vanuit die Kaap, as sou dit die bewys wees van teologiese liberalisme.
Die herkoms van die term Bybels-reformatories is ten nouste gekoppel aan die vestiging van die Hervormde Teologiese Studies in 1942. Die HTS se titelblad het gelees: Hervormde Teologiese Studies vir die bevordering van Bybels-reformatoriese teologie. Hieruit is dit duidelik dat die vroeëre teoloë van die Hervormde Kerk daarvan oortuig was dat daar iets soos Hervormde teologie bestaan wat onderskeibaar en anders as tradisionele Gereformeerde teologie is. Om hierdie “andersheid” te omskryf, is die term Bybels-reformatories gevestig. Dit het so wyd inslag gevind dat dit selfs in die Kerkorde van die Hervormde Kerk ingeskryf is. Volgens die Kerkorde word daar van Hervormde dosente en predikante verwag om hul teologie, onderrig en prediking binne die dampkring van die Bybels-reformatoriese teologie te beoefen.
Die term Bybel-reformatories is eintlik selfverklarend. Dit dui op ’n teologie wat erns maak met die Bybel as Woord van God en normatief vir ons Christelike geloof; verstaan en uitgelê binne die breë reformatoriese tradisie. Juis hier is die belangrike verskil: Waar Gereformeerde teologie bou op die Nederlandse en Dordtse interpretasie van Johannes Calvyn se teologie, is Bybels-reformatoriese teologie meer “oop”, bedoelende dat daar ook ruimte is vir ander reformatoriese teologie. Daarom is daar selfs Lutherse invloed in Hervormde teologie te bemerk.
In die vroeë Kaapse geskiedenis en tot na die Groot Trek, het die oumense waarskynlik meer van Martin Bucer se teologie geweet as van Calvyn. Calvyn se geskrifte was onbekend, terwyl die Nederlandse vertaling van Bucer se Decades (met die titel De Huysboeck) wyd deur die pioniere en Voortrekkers tydens huisgodsdiens en leesdienste gebruik is. Tegelykertyd is die Heidelbergse Kategismus in skole en kategese gebruik, terwyl die Dordtse Leerreëls selde vermeld word. Die Heidelbergse Kategismus was in sy oorsprong ekumenies van aard, omdat dit ’n poging was om die Lutherane en Calviniste in Duitsland met mekaar te versoen.
Dit is hierdie “openheid” van Hervormde teologie (wat dikwels deur buitestanders as liberalisme beskou word) wat daartoe lei dat baie teoloë van mening is dat die Hervormde Kerk nie ’n eie, gedefinieerde teologie het nie. Daarvoor is Hervormde teologie te oop en te divers. Baie ervaar die diversiteit negatief, en dit het in die onlangse verlede selfs gelei tot kerkskeuring.
Diversiteit, as dit te ver gevoer word, kan lei tot leervryheid en konflik in die kerk. Diversiteit binne ’n bepaalde teologiese denkrigting is vanselfsprekend en selfs gewens om verstarring te voorkom. In die NHKA blyk dié diversiteit in ’n publikasie soos 20ste Eeu Hervormde Teologie, waarin 37 Hervormde teoloë artikels gepubliseer het en die diversiteit ooglopend is.
Prof Johann Beukes het die diversiteit in Hervormde teologie op ’n uitnemende wyse beskryf in sy artikel “Voices carry: An archaeology of the Hervormd approach”, wat in die HTS gepubliseer is. Sy analise van die verskillende invloede op Hervormde teologie is steeds toonaangewend. Hy onderskei invloede vanuit die etiese teologie, dialektiese teologie, konfessionele teologie en filosofiese teologie. Daar kan gevolglik nie ongenuanseerd en simplisties van “Hervormde teologie” of “Bybels-reformatoriese teologie” gepraat word asof daar net een weergawe daarvan is nie.
Bybels-reformatoriese teologie maak erns met die Bybel en die reformatoriese tradisie. Dit impliseer dat die teks van die Bybel noukeurig ondersoek word, wat die kern is van reformatoriese teologie. Sowel Calvyn as Luther was in die eerste plek studente van die Bybel. Vir die prediking is dit van uiterste belang, omdat dit nie allerlei menslike stories of emosies of ervarings as uitgangspunt het nie, maar die teks van die Bybel. Gebrekkige eksegese is die doodsteek van prediking en die teenoorgestelde van Bybels-reformatoriese eksegese. Dikwels gee predikante hoog op oor Bybels-reformatoriese teologie, maar hul prediking is juis nie Bybels-reformatories van aard nie. God word op die kansel tot swye gedwing, omdat die prediking meer oor die mens as oor God en sy Woord gaan.
Karl Barth het by geleentheid geskryf dat sulke teologie meer oor die prediker as oor God sê. Die prediker se vooroordele, idees, drome en vrese word aan die gemeente blootgelê, terwyl God stilswyend die skouspel gadeslaan. God se stem raak stil te midde van die geroesemoes van menslike gejaag na voorspoed. ’n Teologie en verkondiging wat God se Woord verduister, lei daartoe dat mense teleurgesteld en verveeld in die kerk sit, omdat die prediking nie troos of bemoedig of vermaan nie.
(Prof Wim Dreyer is medeprofessor in die Departement Sistematiese en Historiese Teologie,
Fakulteit Teologie en Religie, UP)