Johannes 20: 30-31
In hierdie tyd van Epifanie het ons gekyk na die impak wat Jesus se lewe en bediening op die gelowiges van sy tyd gehad het, en so ook op die gelowiges van alle eeue. Ons sien hoe Jesus ons nuut laat dink het oor die wet, die koninkryk en die skepping van God. Die impak van Jesus se lewe, selfs nog voor die kruisiging, het die verhouding tussen God en mens asook die verhouding tussen mense radikaal begin verander.
Die wondertekens van Jesus het die wêreld kom verander. Hierdie teks in Johannes sê dat Jesus ook nog baie meer wonders gedoen het wat nie eens opgeteken is nie. Maar wat wel neergepen is, en waarop ons ook moet let, is die doel van Jesus se wonders.
Op skool het ek, soos baie leerders voor en na my, met ’n onderwyser stry gekry oor die doel van wiskunde in ons daaglikse lewe. My vraag was waar ek spesifiek algebra sou gebruik. Sy help my toe om te verstaan dat ek nie noodwendig weer algebra gaan gebruik nie, maar dat ek die vaardigheid om logies te dink wanneer ek met ’n probleem gekonfronteer word, gereeld gaan gebruik. So gee Johannes ook vir ons die rede waarom Jesus se lewe en die wonders wat Hy gedoen het, neergepen is.
Die kennis oor hierdie wonders help ons om vertroue te bou in die Here van die wonders. So kan ons uiteindelik glo, sodat ons in sy Naam die lewe kan hê. Dit gaan nie oor die algebra nie, maar oor die vaardigheid. So gaan dit ook nie slegs oor kennis van die wonders nie, maar oor die geloof wat dit bewerkstellig.
Mag ons daarom bly lees van al Jesus se wondertekens wat opgeteken is, sodat ons kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat ons deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.
Ds Schalk Zastron, Ermelo
