Jesaja 65: 17-25

Die volk is in ballingskap weggevoer deur die Assiriërs. Uiteindelik hoor die Here die noodkreet van sy volk. Die koning van die Assiriërs het gesterf en die nuwe koning laat toe die volk huis toe gaan, sodat hulle hul tempel in Jerusalem weer kon herbou. Die volk kon vir jare nie hul tempel herbou nie. Hieroor was hulle baie moedeloos en het beleef dat die Here nie daar is nie en dat Hy hulle straf.

Dan lees ons dat die Here ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde beloof. Dit gaan nie oor die nuwe hemel en die nuwe aarde waarvan ons in die Nuwe Testament lees wat dui op die einde van die tye nie. In hierdie gedeelte is dit ’n beeld om te sê dat die Here gaan herskep. Dan beloof die Here ’n tyd van opbou, ’n tyd van vrede waarin die volk kan bou en plant en ook die opbrengs van hul arbeid kan geniet.

Vandag moet ons onthou, Jahwe, die God van Israel, is ook ons God. Dieselfde God maak dit ook vir ons moontlik om te bou, en Hy bring vernuwing. Toe Jesus Christus aan die kruis sterf, het die Here ook vir ons die belofte van vrede gebring. God maak ons vry van die mag en die gevolge van die sonde, wat die dood is. Nou, sê die Here vir ons, wil Hy in ons begin met sy bouwerk waarvan ons die vrugte sal pluk. Deur sy Gees bou God ons in die geloof en gee Hy groei. In ons bring hy ook vernuwing.

God gebruik ons om sy koninkryk te bou. Hy gee vir ons die kerk, Hy gee vir ons sy Woord, Hy gee vir ons die inwoning en die gawes van sy Gees. God is die eienaarbouer van sy koninkryk. Maar ons is God se hande. Ons moet, gehoorsaam aan God wat vir ons vrede en lewe gee, die bouwerk aan die koninkryk aanpak. Dan sal ons ook die vrug van die bouwerk kan geniet.

Ds Manda le Roux, Weskus