Johannes 12: 1-36 (AFR2020)

Dit is vandag Palmsondag, en ons herdenk die geleentheid toe Jesus op ’n jong donkie Jerusalem binnegery het en die skare palmtakke geswaai en hosanna geskreeu het. Dit was ’n tipiese eerbetoon aan ’n koning. Op die toneel was verskillende groepe mense en individue. Daar was die skare wat Lasarus se dood en opwekking eerstehands belewe het; daar was die Fariseërs en hul mismoedige waarneming van die skare; daar was ’n aantal Grieke – en ook Filippus en Andreas wat by name genoem word.

Kom ons fokus vir ’n wyle op Filippus. Dit is interessant dat ons net in die Evangelie van Johannes meer breedvoerige vertellings van Filippus kry, byvoorbeeld waar Jesus hom geroep het (Joh 1: 43) met die woorde: Volg my! Ek wil graag op twee geleenthede wys waar Filippus met ander in gesprek oor Jesus was. Net na sy roeping, loop Filippus vir Natanael raak en vertel hom van Jesus. Natanael is eers skepties, en dan sê Filippus (Joh 1: 46, AFR2020): Kom kyk! Wanneer Jesus vir Natanael na Hom sien aankom, was Jesus se woorde: Kyk, hy is waarlik ’n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie (Joh 1: 47, AFR2020). Filippus bemiddel hierdie geleentheid waar ’n aangrypende gesprek tussen Jesus en Natanael plaasvind (lees gerus Joh 1: 43-51).

In Johannes 12: 20 (AFR2020) duik daar weer ’n geleentheid op om ’n gespreksgeleentheid te bemiddel. Daar word van ’n aantal Grieke vertel wat vir die Paasfees daar was. Op die een of ander wyse, eien die Grieke vir Filippus, dalk omdat hy ’n Griekse naam gehad het of omdat mede-feesgangers hulle na Filippus verwys het – hy was immers ’n dissipel van Jesus. Hulle nader toe vir Filippus met die woorde: Meneer, ons wil Jesus sien.

Filippus gaan vertel vir Andreas en dan gaan beide om dit weer vir Jesus te vertel. Het die Grieke toe by Jesus uitgekom? Dit word nie vertel nie. Wat kan ons alles by Filippus leer? Waarskynlik baie dinge – maar uit die twee vertellinge rondom Filippus, is dit veral sy ywer om mense by Jesus uit te kry.

Dr André Ungerer, Hervormde Teologiese Kollege

Share via
Copy link
Powered by Social Snap