Efesiërs 3: 14-21
Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek (Ef 3: 18).
Een van die eerste dinge wat ’n mens in jou lewe leer, is dat daar grense gestel word. Klein kindertjies word angstig in hul opgroei en ontwikkeling deur besorgde oueroë en -hande gevolg en begelei om hulle van al die gevare rondom hulle bewus te maak. Wees versigtig! Moenie daaraan vat nie! Dit is woorde wat bekend is in enige huis waar daar klein kinders teenwoordig is. Die besorgdheid en omgee, maar met tye ook die fermheid van ’n ouerstem, volg hierdie lyfies oral waar hulle gaan. Namate ons ouer en meer selfstandig word, besef ons die waarde van grense wat vir ons gestel word.
Hierdie grense het ten doel om ons op ons lewenspad op koers te hou. Dit vorm deel van die rigtingwysers van ons lewe. Uiteraard weet ons dat grense ook getoets word. Motiveringsprekers gebruik grense as voorbeeld om mense aan te moedig om nie tevrede te wees met middelmatigheid of beperking nie. Jaag jou drome na! Verskuif grense en bereik nuwe hoogtes in jou lewe! Grense kan dus baie maklik as ’n beperking beskou word en terselfdertyd as ’n veiligheidsmaatreël vir jou lewe dien.
Die gebed in Efesiërs 3 wil ons bewus maak van die volle omvang van God se liefde vir ons. As kinders van God weet ons dat God deur sy Seun, Jesus Christus, sy liefde ten volle aan ons openbaar maak. Hy stap self die pad enduit en bring die belofte van God se verlossing vir ons. Hy maak ons opnuut bewus van sy liefde vir ons. Hierdie liefde wat geen beperking of grense ken nie, is ’n liefde wat ons lewens onherroeplik verander, en daarom kan en behoort ons elke dag so daarop te reageer:
Ek wil antwoord op u liefde
deur die gawes wat U gee,
deur die aanraak van my naaste,
deur te lewe tot u eer.
Gee tog, Here, dat my lewe
meer vertoon van dankbaarheid.
(VONKK 205: 2)
Ds Jaco Vogel, Rooihuiskraal
