Lukas 23: 26-49:
Vir meer as tweeduisend jaar gebeur een van twee dinge: Die kruisiging van Jesus raak mense aan; óf dit gaan by mense verby. Dit is vandag steeds so.
In Lukas 23 sien ons reeds voorbeelde daarvan. Hulle, die soldate, wat net maar hul werk doen, lei Jesus weg om gekruisig te word. Simon van Sirene is vir die Paasfees in die stad en word gegryp om Jesus se kruis te dra. Die groot menigte roubeklaers stap agter Jesus aan, waarskynlik maar net nog ’n kruisiging wat plaasvind. Die vroue huil en treur oor Jesus en die hartseer van die dood aan die kruis. Twee misdadigers wat albei kry wat hulle verdien. Die dissipels, wat ’n nabye pad met die Here gestap het, staan op ’n afstand en kyk. Die Romeinse offisier wat uitroep: Hierdie Man was werklik die Seun van God!
U en ek bevind ons volgens die kerklike jaar in die Lydenstyd, op weg na die hartseer, reddende gebeure van Goeie Vrydag. Hoe word ons geraak deur die kruisiging van Jesus Christus? Waar sou ons ons plaas in die verskillende reaksies van die persone in Lukas 23?
Ons durf nie ongeraak bly deur die kruisgebeure nie. Ewe min mag ons net maar in die verbygaan daarvan kennis neem en sê dat dit lank gelede gebeur het en dit daar laat. Laat ons elkeen biddend in afhanklikheid van die Here smeek om die volle omvang van die kruisiging van Jesus te besef en met afwagting te leef op die heerlike belofte van God: Jesus Christus kom weer.
Gebed
Vervul, o Heer, my hart met stille wyding waar ek herdenk die diepte van u lyding,
hoe U daar aan die kruis vir my gesterf het; my heil verwerf het.
As ek beangs en skuldig voor U bewe, dan laat u kruis, o Heer, my hoop herlewe.
Aan U, o Heiland, Leidsman, Vors van vrede, my dankgebede.
(Gesang 391: 1 en 6)
Ds Leon Geel (sr), Grimbeekpark
