Johannes 2: 1-11
Johannes gebruik onder andere sewe wonderwerke van Jesus om die unieke verhouding tussen Jesus en God die Vader te beklemtoon. Hy noem die wonderwerke tekens. Dit gaan nie soseer oor die wonderwerke nie, maar oor dít waarna die tekens verwys. Die tekens openbaar die heerlikheid en die identiteit van Jesus. Hy is nie net die Christus, die Seun van God nie, maar is self ook volkome God wat mens geword het. Jesus het mag oor alles en almal. Hy verheerlik die Vader in wat Hy sê en doen.
’n Nuwe era breek met Jesus se koms aan – ’n era van genesing, bevryding, vreugde en oorvloed. Johannes self sê die doel van die wondertekens is geloof in Jesus: Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê (Joh 20: 30-31). In die dae wat volg, fokus ons hierop.
Die gebeure in Kana word in verstommende detail beskryf. ’n Bruilof, gaste, reinheidswette wat nagekom is en wyn wat opraak. Niks buitengewoon nie. So ken ons die lewe. Wyn simboliseer vreugde en oorvloed. Rabbi’s het ’n gesegde gehad: Sonder wyn is daar geen vreugde nie. Stil-stil red Jesus die situasie deur water in wyn te verander. By ’n gewone troue, tussen gewone mense – sonder om eintlik iets te doen, behalwe om ’n opdrag te gee om die kruike vol water te maak – demonstreer Jesus sy mag. Asemrowend! Sy dissipels se geloof verdiep.
Die wonderwerk wat gebeur, bly nie net in Kana 2 000 jaar gelede nie. Vandag nog, in ons alledaagse uitdagings, met en tussen gewone mense, gebeur die wonderwerk weer en weer. Stil-stil – soos water in wyn – gebeur die wonderwerk ook in my en jou. Deur die transformerende krag van God beleef ons die lewe in al sy volheid, uitnemendheid en oorvloed.
Hoe alledaags of gekompliseerd jou omstandighede ook al mag wees – doen wat Hy vir jou sê!
Ds Errol Sheppard, Rietspruit
