Psalm 37
Die lewe is besig en rumoerig. Stilte is dikwels ’n ongewone luuksheid, veral vir dié van ons wat in die stad bly. Verkeer, fone, rekenaars, televisie… Stilte is definitief een van die skaarsste dinge op aarde. Nie net fisiese stilte nie; ook emosionele stilte. Baie mense raak ongemaklik as daar ’n stil oomblik in ’n gesprek kom. Het ons verleer om stil te wees?
Microsoft het in 2015 ’n kamer in Amerika gebou wat ’n plek in die Guinness World Records behaal het as die stilste plek op aarde. Dit het as die eggolose kamer bekendgestaan. Bitter min mense kon egter langer as ’n uur in die kamer uithou… Té stil!
Fisiese stilte is egter nodig om emosionele stilte en rus te beleef en God se stem te hoor. Hoe kan ons regtig by God rus vind en sy stem hoor as alles rondom ons raas en rumoer? Psalm 37: 7 sê: Daarom moet jy in stilte op die Here vertrou. Henri Nouwen skryf in een van sy boeke dat dissipline in jou lewe beteken om daarteen te waak dat jou lewe oorvol en te besig is. In ons geestelike lewe beteken stilte om ’n spasie te skep waarin God ons kan ontmoet en ons God se stem kan hoor. Na Elia se magtige oorwinning oor die profete van Baäl, dreig Isebel, die koningin, vir Elia. Hy verval in ’n diep depressie. Maar God praat met hom. In 1 Konings lees ons God praat met Elia in ’n fluistering in die windstilte. Soms help stilte ons om God se stem te kan hoor.
Jesaja 30: 15 gee vir ons die volgende belofte: As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê. As ons God se stem wil hoor, sal ons soms teen die stroom moet swem, bewustelik moet kies en plan moet maak om werklik stil te word. Mag ons vandag stil raak en God se stem hoor.
Lees Gesang 395: 1.
Ds Lydia Miller, Villiers
