Efesiërs 1: 15-23
Die opstanding van Jesus Christus laat die ganse mensdom in verwondering – so iets is net by God moontlik. Jesus se opstanding is deel van die hart van die Christelike geloof en dit is die waarborg van die ewige lewe wat Jesus vir ons verwerf het.
Jesus het gesterf aan die kruis, maar sy graf was leeg op Paassondagoggend – ten spyte van grafseëls en wagte. Sy dissipels en vroegste Christene het nie net Jesus se lerings ervaar nie, hulle was oortuig dat hulle Hom lewendig gesien het na sy kruisiging. Dit is wat hul lewe verander het en hoe die kerk begin het.
Die beste verduideliking is dat daar iets bonatuurliks op Paassondag gebeur het. Jesus het werklik uit die dood opgestaan. Die opstanding het nuwe begrip gebring van waartoe God in staat is. Die dood het nie meer die finale sê oor ’n mens se lewe nie. God het mag oor die dood. Jesus se opstanding sê: Daar is niks in hierdie skepping, selfs nie die dood nie, wat ons kan skei van die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here. Sy opstanding waarborg óns opstanding.
Ons moet ons deelkry aan die ewige lewe nie net as ’n belofte sien nie, maar as iets wat eendag in die toekoms gaan realiseer. Dit is nou reeds ’n werklikheid. Met Christus het ons opstanding alreeds begin. Jesus het die sonde en die dood oorwin. Ek staan nou al op in ’n nuwe lewe. ’n Lewe saam met God. Iets van die hemel word nou al op die gebroke aarde sigbaar.
Mense moet nuut optree. Ons moet met Christus se oë na mekaar kyk, met Christus se hande aanraak en versorg. Ons moet die liefde en genade en deernis en vrede wat ons by God vind, deurgee na ander mense toe. Paulus sê vir ons in Efesiërs 1: 19 dat die krag wat God uitoefen in ons wat glo, dieselfde kragtige werking van sy mag is wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek het.
Ds Juanita du Preez, Pierneef
