Efesiërs 3: 1-9
Om hierdie rede, is ek, Paulus, die gevangene van Christus Jesus, ter wille van julle (Ef 3: 1).
In hierdie gedeelte praat Paulus van sy verkondiging aan die heidennasies. Hy het as gevolg van hierdie verkondiging in die tronk beland. In daardie tyd was dit buitengewoon om buite jou godsdienstige groep aktief na mense te gaan soek om hulle te oortuig om na jou geloof oor te kom. Een godsdienstige groep sou altyd neerkyk op die ander groep. Ander groepe is mos nooit so goed soos joune nie. Maar Paulus het nie in hierdie siening vasgeval nie. Hy het teen die norm ingegaan en Christus aan mense buite die Joodse groep verkondig.
Vandag gebeur dit steeds dat gelowiges dink dat hulle beter as ander is. Soms dink ons selfs dat ons denominasie beter as ander denominasies is. As gelowiges pas dit nie by ons om hoogmoedig teenoor enige ander persoon te wees nie. Die meeste van ons oer-voorouers kom nie uit die Midde-Ooste nie. Daarom kan ons nie daarop roem dat ons direk afstam van die oorspronklike verbondsvolk, Israel, nie. Maar dit maak ons nie vandag mindere gelowiges nie. Ons kan maar net in nederigheid dankbaar wees vir Christus wat vir ons kom wys het dat God ook vir ons lief is en ons in sy koninkryk insluit.
Dit is wat ons met Epifanie vier. Die bekendmaking van Christus se verlossing vir almal – vir alle volke en nasies. Ja, vir die hele wêreld. Dit roep ons op om weer erns te maak met ons verantwoordelikheid om die evangelie uit liefde vir God en medemens te verkondig – in woord en daad, sodat ander Christus in ons kan sien. Ons is nie gelowiges vir roem, geld, aansien of enigiets anders as die groot genade van die Here nie.
Hierdie genade is ’n geskenk wat God aan ons gegee het, en dit het Christus se lewe gekos. Wanneer ons die diepte van hierdie geskenk besef, kan ons nie anders nie as om dit ook verder te gaan uitdeel. Die beste geskenke is dié wat ’n mens met ander deel sonder om daaroor te wil roem.
Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp
