1 Korintiërs 15: 12-19
Die opstanding van Jesus Christus uit die dood was ’n moeilike pil vir baie van die heidene om te sluk. Die Stoïsyne het geglo dat daar ’n stukkie van God in die mens is, en wanneer die liggaam sterf, keer daardie stukkie terug na God. Diegene wat Plato aangehang het, het geglo die gees is goed en die liggaam is boos. Wanneer die liggaam sterf, word die gees vrygelaat uit sy liggaamlike tronk en leef dit voort. Niemand het geglo dat daar ’n opstanding uit die dood is en dat ons ’n liggaam gaan hê wat gesien en aan gevat kan word, waarmee ons saam met God gaan wandel in die ewigheid nie.
Paulus skryf dat die hele Christelike geloof afhang van die feit dat Jesus Christus uit die dood opgewek is en ons ook opgewek gaan word uit die dood deurdat ons ’n verheerlikte liggaam gaan ontvang soos Jesus s’n na sy opstanding. As ons nie glo in die opstanding uit die dood nie, sê ons Jesus het nie opgestaan nie en dan beteken dit die apostels was valse getuies van God, en dan is ons geloof nutteloos. Dan is daar geen verlossing en nuutmaking van die skepping nie, geen heelmaak, gesondmaak en nuutmaak van die mens nie. Die dood is dan nie oorwin nie, en Jesus was nie God nie. Wanneer ons glo in Jesus Christus as ons Verlosser en Saligmaker, beteken dit dat ons glo in die liggaamlike opstanding uit die dood, die verheerliking van die heiliges en die nuutmaking van die skepping.
Ons rig ons hoop op Jesus Christus vir hierdie lewe én vir die ewige lewe. Ons staan alreeds elke dag in hierdie Woord en Waarheid op tot ’n nuwe lewe op aarde, want die Gees van die Waarheid is in ons harte uitgestort en die saad van die Ewige Lewe ontkiem en groei in ons.
Gesang 417 – Jesus, ons eer U…
Ds Aniena Jansen van Rensburg, Leeudoringstad
