Psalm 16
Wat maak jy met al die on-woorde in jou lewe? Wat maak jy met woorde soos ontevrede, onvergenoegd, ongelukkig en onseker? Teen die agtergrond van Dawid se inspirerende woorde in Psalm 16, is dit beslis ’n vraag wat ons onsself eerlik moet afvra. Iewers in ons gedagtes leef die idee dat ’n gelowige nie veronderstel is om onseker of ongelowig of ontevrede te mag voel nie. As daar een ding is wat ons veral uit die Psalms leer, is dit juis om nie stil te bly oor onvergenoegd, ongelukkig en onrustig wees of die onvrede en onsekerheid in jou hart nie. Die Psalms is voorbeelde van hoe gelowiges hul diepste gevoelens tot op die been oopkloof voor die Here en toelaat dat die Here nuwe perspektief bring, ’n Stukkie insig wat die chaos orden en stilte en vrede bring.
So baie keer is die perspektief wat ons nodig het, net om in te sien wat in God se hande is en waaroor ek beheer het. Dit kan net gebeur as ek soos Dawid bereid is om die Here in my omstandighede, in my gemoedstoestand, en eerlik, met al die on-woorde in my gedagtes, te ontmoet. Die feit dat jy aan God behoort, mag dalk vir jou iets anders beteken as vir die persoon langs jou. Hoe meer jy egter van God se karakter ken, hoe kosbaarder raak die wete dat jy aan God behoort – en om aan Hom te behoort, is ʼn wonderlike gerusstelling. God laat vaar nooit die werke van sy hande nie.
Ons het aan die begin gewonder: Wat maak ons met al die on-woorde en on-gevoelens in ons lewens? Ons gebruik dit om ’n eerlike gesprek met God te begin waarin ons Hom toelaat om ons met sy genade, vryspraak en vrede te bedien, en waarin ons toelaat dat die Gees ons gedagtes, ons perspektief en ons woorde verander sodat ons anders praat en leef in ons gesin en ons werklikheid daar verander – en sodat ons anders kyk en praat en leef in ons omgewing.
Ds Heloïse Herbst, Rietvallei