Psalm 121
Daar is ’n mooi storie agter hierdie bekende Psalm. Die Psalmdigter het (waarskynlik) na Jerusalem gereis vir die Paasfees. Met sy aankoms het hy vir ’n paar dae stil geraak en hom saam met die Here afgesonder. Vandag sou ons daarna verwys as ’n retreat.
Hierdie pelgrim het sy tyd geneem en dankie gesê vir gawes en seëninge, en jammer gesê vir sy oortredinge. Hy het rustig voorbidding vir sy mense gedoen. En toe gebeur daar iets wonderlik. In hierdie stilte het hy weer besef hoe naby die Here aan hom is. Dit is asof sy verhouding met die Here vernuwe is en asof hy van vooraf van die Here se teenwoordigheid bewus geword het.
Kyk nou mooi hoe die Psalm geskryf is. Dit is nie ’n algemene psalm nie, en is baie persoonlik. Hierdie pelgrim getuig uit eie ondervinding. Hy beleef eerstehands dat die God wat hemel en aarde gemaak het, anders is as die ander nasies se gode wat op die berge bly en aan die slaap kan raak. Hy beleef regstreeks dat die Here saam met hom op hierdie gevaarlike pad is en hom sal beskerm waar hy gaan.
Mag ons ook vandag die Here se teenwoordigheid op so ’n konkrete manier ervaar soos hierdie pelgrim, en beleef dat ons God anders as die ander gode en groter as ons probleme is. Mag ons vandag uit eerstehandse ondervinding getuig dat die Here naby is; dat Hy die pad tree vir tree saam met ons loop. Mag ons ook die vrymoedigheid neem om ons harte vir die Here oop te maak en alles met Hom te deel – elke vreugde, opgewondenheid, hartseer, bekommernis en frustrasie.
Gebed
Here God, help my om vandag ook u teenwoordigheid so konkreet soos hierdie pelgrim te ervaar. Maak u handewerk in my lewe sigbaar en laat ek u stem duidelik in my hart hoor. Help my om u hand te neem en die pad tree vir tree saam met U te loop. Amen.
Ds Pieter Rossouw, Mafeking / Zeerust
