Matteus 27: 1-2 en 11-26

In ons daaglikse lewens moet ons besluite neem en keuses maak. Daar is verskillende dinge wat ’n invloed het op die keuses wat ons maak, en die besluite wat ons moet neem. Daar is keuses wat ons meer of minder bewustelik oor besluite neem.

In vandag se teks word daar ook besluite geneem en keuses gemaak. Die môre vroeg het al die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk die besluit geneem om Jesus dood te maak…

Dit was nie ’n keuse wat hulle op die ingewing van die oomblik gemaak het nie, maar op grond van wie Jesus is, dit wat Jesus doen, en die koninkryk wat Jesus verkondig. As gevolg van die bedreiging wat dit vir hulle inhou, besluit hulle om Jesus te vang, te verhoor en dood te maak.

By Pilatus gekom, is hy nie oortuig daarvan dat Jesus die politieke misdadiger is wat hulle Hom uitmaak om te wees nie. Pilatus besluit om die skare te laat kies. Hulle moes kies tussen die berugte gevangene Jesus Barabbas of Jesus wat Christus genoem word. 

Die skare laat hulle nie lei deur hul eie gewete en dit wat hulle van Jesus en van Barabbas weet nie. Hulle laat hulle ompraat, opsweep, opsteek, en oorhaal om te kies dat Barabbas vrygelaat word en Jesus doodgemaak moet word. Hulle luister nie na rede of na Pilatus wat Jesus onskuldig bevind nie. Hulle skree: Kruisig hom!

Daarom vra ons die vraag: Vir wie en wat kies ons elke dag, in die manier waarop ons optree, die dinge waaroor ons praat en wat ons vir en van mekaar sê? Wie en wat laat ons toe om die besluite wat ons neem, te bepaal? Getuig ons manier van leef en optree dat ons vir Jesus Christus kies?

In en deur Jesus het God ’n berekende besluit geneem sodat ons kan lewe. Kom ons ondersoek in hierdie Lydenstyd elkeen ons eie lewe, die manier waarop ons besluite neem, en hoe ons lewe en optrede getuig van die keuse wat ons vir Jesus maak.

Dr Annelie Botha, Universiteit van Pretoria / Kempten

Share via
Copy link
Powered by Social Snap