Lukas 24: 1-12

Na Jesus se sterwe en kruisiging was baie mense moedeloos. Wanneer iemand sterf, is dit gewoonlik die beëindiging van daardie persoon se lewe. Hulle het gedink dit sou ook so met Jesus wees.

Alles het verander met Jesus se opstanding. Die vroue wat saam met Jesus uit Galilea gekom het en Hom gevolg het, het ook Jesus se kruisiging en sterwe gesien. Hulle het na die graf gegaan met die geurige speserye wat hulle voorberei het. Toe hulle by die graf kom, was die klip voor die graf weggerol. En toe hulle ingaan, het hulle nie die Here Jesus se liggaam gekry nie (Luk 24: 3).

Daar was skielik twee mans met glansende klere wat vir hulle gevra het waarom hulle die lewende by die dooies soek en hulle herinner het: Onthou wat Hy vir julle gesê het toe Hy nog in Galilea was, ‘Die Seun van die Mens moet oorgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word, en op die derde dag opstaan’ (Luk 24: 6b en 7, AFR2020).

Die vroue het vir die ander gaan vertel, maar die apostels het hulle nie geglo nie. Petrus het na die graf gegaan en net die linnedoeke gesien. Hy het toe geglo en was vol verwondering oor wat gebeur het. Petrus het geweet dat dit ’n wonder was wat gebeur het – Jesus het opgestaan uit die dood!

En dit is die kern van die geloofsbelydenis wat ons opsê: God leef. God leef ondanks die geskiedenis en ondanks die lyding en ondanks die dood en die doderyk. God het die geskiedenis en die lyding en die dood en die doderyk deur-leef. Daarom kan die lewe en die geskiedenis en die lyding en die dood en die doderyk sinvol wees. God is nie maar net anderkant hierdie dinge nie: God is deur hierdie dinge. (F Deist)

Ds Kotie Mc Donald, Emeritus

Share via
Copy link
Powered by Social Snap