Psalm 106
Langs die trekpad … het hulle die magtige teenwoordigheid van God verruil … So het hulle vir God, hulle redder, vergeet … (Ps 106: 16 en 20-21).
In Psalm 106 volg die verhouding tussen God en die volk deurlopend die patroon van Israel wat vergeet van God totdat hulle besef dat hulle nie sonder God kan leef nie. In sy groot genade en liefde neem die Here hulle keer op keer terug, want Hy het nooit van hulle vergeet nie. Die Here onthou sy verbondsverhouding met Israel; Hy bly daaraan getrou.
Soos Israel, probeer ons ook maar keer op keer ons eie pad in die lewe volg. Ons vergeet van die Here en wanneer die gevolge van ons ongehoorsaamheid ons trekpad deur die lewe bemoeilik, mor en kla ons; vergeet ons om ’n tree terug te gee en na die groter prent te kyk. Want ons persoonlike verhouding met God staan altyd binne die groter konteks van God se verbondsverhouding met sy ganse volk, die kerk. Ons kan ons eie geloofsverhaal slegs vind binne die groter Godsverhaal met die mens. Die trekpad waarop ons deur die lewe gaan, lyk ook maar soos Israel s’n – die rebelse volk wat in opstand kom teen God, wat hul eie wil volg, eerder as die Here se wil.
So het ons elkeen se trekpad deur die lewe seer en stukkendheid; ons het tye van moedeloosheid; dinge waaroor ons spyt is; en ’n verlede. Maar net soos wat ons deel is van die ongehoorsame Godsvolk, is ons terselfdertyd deel van die verloste Godsvolk. Die Bybel getuig ook van die ander kant van hierdie groter Godsverhaal – hoe God in liefde die pad met sy volk stap om uiteindelik die hele wêreld deel te maak van sy genade in Jesus Christus. Ja, ons elkeen se lewensverhaal en geloofsverhaal speel af teen die agtergrond van die Christusverhaal.
Psalm 106 roep ons op om die pad te onthou wat God met die mens deur die geskiedenis heen geloop het. Ons word opgeroep om op ’n pelgrimstog van geloof langs die trekpad van ons eie lewe te gaan.
Dr Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom / Hervormde Teologiese Kollege
